VEEARTSETIKET

Vandag wil ek ‘n paar wenke deel wat ek dink goeie veeartsetiket is. Die doel is ook dat jy dan altyd welkom en tuis by die veeartspraktyk sal voel.

Kom ons begin met die mees basiese reëls wat sal verseker dat jy altyd vriendelik ontvang word by die veeartspraktyk.

Bring altyd vir Vlooi aan ‘n leiband en vir Felix in ‘n katmandjie. Die grootste rede is om jou diere veilig te hou. Dit maak nie saak hoe gehoorsaam Vlooi is nie, as hy dalk vrolik in hardloop reg om ons te groet terwyl Nero skielik om die draai kom, kan ons nie verseker dat Nero nie dalk ‘n hap uit Vlooi neem nie. Verder het Vlooi dalk nog nooit vir Archie die African Grey gesien nie en dus is sy reaksie dalk anders as verwag. As Vlooi boonop nie gekastreer is nie en teen die hondekos en speelgoed gaan begin merk gaan die personeel baie suur word as hy nie gou buitentoe gevat kan word nie. As dit kom by katte is daar geen kat wat mak genoeg is om sonder ‘n mandjie te kom nie. Daar is baie dinge by die veearts wat jou kat so bang kan maak dat jou beste poging nutteloos teen Felix se skerp naels en gladde lyf gaan wees. Daar is gereeld verlore katte wat by die Parlours of veeartswagkamers ontsnap het. Vra asseblief vir ‘n katmandjie as jy nie self een het nie. Besorg hom tog net weer in dieslefde kondisie terug – dit is sonder kathare en piepie.

Wees betyds vir konsultasies. Dis die grootste kopseer as mense met siek diere opdaag 5 minute voordat konsultasieure verby is. Meestal is die eerste pasient op die teaterlys dan reeds voorberei vir die operasie en krap die laatkommers die hele skedule van operasies om. As dit dalk middag/aand spreekure is dan beteken dit dat die veearts, nadat die praktyk eintlik al toe moet wees, steeds besig is met konsultasies. Dis glad nie bedagsaam teenoor die personeel wat ook gesinne tuis het wat wag nie. Maak dus seker van die spreekure en prosedures voordat jy met Fila opdaag as jy nie seker is hoe die praktyk werk nie.

Volg die veearts of personeel se instruksies. Ek skryf persoonlik vir elke dier wat ‘n operasie by ons ondergaan ‘n ontslagvorm wat presies verduidelik wat moet en wat moet nie met die dier gebeur nie. Tog moet ek hierdie presiese instruksies weer aan Dotty, Milo en Jaeger se eienaars oor die foon verduidelik omdat hulle dit net nie gelees het nie. Ek dink persoonlik is dit een van my grootste frustrasies. As ek die moeite gaan doen om so mooi love letter met my fênsie pers pen en highlighter te skryf verwag ek dat dit gelees gaan word. Dis juis die dele wat so mooi gehighlight is wat ek die meeste moet herhaal.

Bel altyd vooraf as jy ‘n groot werpsel hondjies gaan bring vir entings. Ek het nie genoeg vingers om op te tel hoe gereeld dit gebeur dat daar mense opdaag met ‘n reuse werpsel wat kom vir entings, microchips en sommer naels knip (terwyl ons nou tog besig is) sonder om ons vooraf daarvan te verwittig nie. Natuurlik help ons graag maar so konsultasie kan baie baie lank vat en ons wil nie ons ander kliente laat wag nie. Vir elke hondjie behels dit: die skryf van ‘n entingboekie, volledige ondersoek, ontwurming, enting, microchip insit en seker maak die kode is reg. As jy vooraf bel dan kan die boekies byvoorbeeld solank geskryf word en daar kan ‘n tyd gereël word waar daar genoeg personeel beskikbaar is om die konsultasie so glad as moontlik te laat verloop. Dan het ons dalk selfs tyd om ‘n paar oulike fotos te neem om met die oulike gebroedsel op ons Faceboekblad te spog! As ek nie genoeg tyd gehad het die dag toe Dexter en sy boeties vir hulle eerste enting gekom het nie, kon ek nooit die oulike foto vir my man stuur sodat ons hom kon aanneem nie!

As jy ‘n noodgeval met jou dier beleef bel dadelik jou veearts sodat hulle gereed kan maak vir die noodgeval. Maar wat kwalifiseer as ‘n noodgeval? Kom ek skets ‘n paar scenarios dan beoordeel ons dit saam:

  1. Jackie eet nou al die afgelope 3 dae nie en het eergister begin opgooi. Die eienaar wil haar buite spreekure bring want dis ‘n noodgeval.
  2. Fluffy is al bietjie doof en het nie gehoor toe die bakkie intrek nie… Haar eienaar is nou in daai einste bakkie met haar oppad.
  3. Bruno skud sy ore aanhoudend. Sy eienaar wil graag dat die veearts na-ure kom om hom te ondersoek want hulle kan dit nou net nie meer verdra nie.
  4. Chloe is deur ‘n Rottweiler aangeval oppad na die parkie. Haar eienaar daag op ‘n baie besige tyd met die bebloede Chloe op.

Hopelik stem almal saam dat Jackie en Bruno se eienaars moet wag vir normale konsultasieure. Die personeel sal egter spring om so gou as moontlik vir Fluffy en Chloe te help. ‘n Noodgeval is dus iets wat nou gebeur het en dadelik behandel moet word. Dit kan nie ‘n noodgeval wees as die kondisie al ‘n paar dae aanhou nie.

Verwittig altyd die personeel as jou dier aggressief is of kan wees. Dit help nie as jy terloops vir die omgekrapte veearts, minus sy duim, verduidelik dat Sweety al ‘n vorige keer probeer het om iemand se neus te amputeer nie. As ons vooraf weet kan ons die nodige maatreels tref om veilig te wees. Moet ook asseblief nie aanstoot neem as ons soms voel dis nodig om vir ‘n groot hond ‘n muilband aan te sit nie. Ondervinding leer dat elke dier wat tande het KAN byt. Dis vir ons rede genoeg.

Bring gereeld koek, sjokolade of enige lekkerny vir die personeel.  Goed goed hierdie is nou nie eintlik ‘n reël nie maar ek dink dis ‘n feit dat meeste personeel wel ‘n suikertand het. By ons is dit in elk geval wel die waarheid 🙂 Mag alle veeartsbesoeke selfs die hartseer kere tog ‘n soete herinnering skep.

1 thought on “VEEARTSETIKET”

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s