Die KATastrofe van tande borsel

“Jy moet jou kat se tande 2 tot 3 maal ‘n week borsel” Lig jou hand as jy dit al gehoor het en besluit het die idee is sommer gek. Kom ons wees gou eerlik: ‘n kat is NIE ‘n klein hond nie. Daar is ‘n paar katte wat dalk mooi sal stilsit, maar hulle is uiters skaars gestrooi, en die kans dat jy so kat het is maar klein. Al waar ek al ‘n kat gesien het wat tandeborsel geniet is op Facebook en Youtube, en ek wonder nou nog wat hulle die kat gegee het….

Ons praktykkat, Stefaans, is beslis nie die tipe kat wat stroopsoet sal sit vir prosedures nie. Hy haat dit as ons sy naels knip of vir hom ‘n ontwurmpil gee en ek voel asof ek ‘n reuse oorwinning behaal het as ek hom gebad kry. Dus voel ek dis eerlik as ek sê dat dit moontlik is om ‘n moeilike kat se tande te borsel want glo dit of nie maar ek borsel soms Stefaans se tande! Die proses was nie vinnig nie maar dit is beslis die moeite werd. Katte se tandvleis is baie sensitief en selfs ‘n klein bietjie tandsteen kan jou kat se tandvleis rooi en geïriteerd laat. So hoe het ek dit reggekry? Stap vir stap! Ek het baie stadig begin, en eers aangegaan na die volgende stap as ek gevoel het Stefaans voel taamlik rustig met wat ek doen.

Die goue reël, in my opinie, met kathantering is die bekende engelse gesegde “less is more”. Hoe meer jy n kat probeer vasdruk en dwing om stil te sit, hoe meer gaan jy sukkel. Gee die kat egter meer vryheid en jy kry meer reg. Moet nou nie in ‘n kamer met oop deure en oop vensters probeer om jou kat se tande te borsel nie, hy gaan weghardloop! Maar probeer om jou kat sagkens te hanteer. As jy jou hand strategies net op sy nek laat rus kan jy hom vinnig “scruff” as dit lyk of hy gaan pad vat. Sodra hy egter weer ontspan kan jou hand ook weer ontspan, of self sy nek streel.

Hier volg die stappe wat ek gebruik het:

Stap 1: Begin met iets waarvan jou kat hou. Stefaans is mal daaroor om geborsel te word, so ek het hom eers lekker geborsel totdat hy heeltemal ontspanne was. Ek het dan ‘n klein bietjie dierevriendelike tandjel op my vinger gesit. Die jel het ek dan vinnig aan sy voortandjies probeer smeer. In die begin het die meeste van die jel op sy lippe beland omdat hy nie sy lippe wou oplig nie. Die geluk is dat ‘n kat nie van vuil lippe hou nie en daarom het Stefaans dan die jel afgelek. Op hierdie manier het hy gewoond geraak aan die smaak van die jel. Ek het hierdie stap so paar keer ‘n week probeer doen. Direk na ek die jel opgesit het, het ek hom weer begin borsel sodat hy nie weghardloop nie. (Dit het wel ‘n paar keer gebeur)

Stap 2: Nadat Stefaans na my mening gewoond was aan die smaak van die jel, het ek begin om die jel van links na regs aan sy boonste tandvleis te smeer. Dit was net een vinnige vee en dan woerts verdwyn Stefaans so vinnig as wat hy kan. Hy het dit in die begin regtig gehaat.

Stap 3: Die volgende stap was om dan ook die onderste tandvleis te smeer. Party dae het dit gewerk,en ander dae was Stefaans te vinnig en kon ek net die boonste tandvleis gesmeer kry. Die goeie dae het met ‘n borselsessie geëindig.

Stap 4: Hierdie was die vreesaanjaende deel. Die tandeborsel!!! Ek het weer eers net met die voortandjies begin en regtig min gedoen aan die begin. Verbasend genoeg het Stefaans dit baie goed hanteer. Met die tandeborsel maak ek dan net klein sirkel beweginkies en borsel ek slegs die buitenste dele van sy tande. Tandsteen pak meestal meer hier aan en daarom hoef mens nie te veel te sukkel om die binneste deel van die tande ook te borsel nie.

Ekstra raad: Dis uiters belangrik om ‘n jel te vind waarvan jou kat hou, of wat hy ten minste sal aanbaar. Moet asseblief nie koeksoda gebruik nie -jou kat sal vir 3 dae in die bure se stoor gaan wegkruip of dalk selfs vir hom ‘n nuwe huis gaan soek! Katte kan vinnig ‘n weersin teen ‘n smaak ontwikkel wat swangerskapweersin na grappies laat lyk. As jou kat jou met iets sien aankom wat hy weet sleg proe sal hy sommer byvoorbaat groot slymbolle opbou wat dit onmoontlik maak om iets in sy bek te kry.

Ek hoop hierdie advies werk so goed dat jou kat se ‘Colgate-smile’ van myle af gesien kan word.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s