Antwoorde vir vrae wat ons gereeld kry

Goed, so vandag wil ek so tien vrae beantwoord wat ons gereeld by die veeartspraktyk hoor. Ek gaan probeer om dit kort en bondig te hou, maar ek sal dan weer ‘n nuwe artikel maak vir die vrae wat dalk meer van ‘n verduideliking nodig het.

Kan ek vir my dier menslike pynmedikasie gee? Die kort antwoord is nee! Diere, veral katte, is uiters sensitief vir menslike pynmedikasie. Parasetamol, die aktiewe bestandeel in Panado is toksies vir katte. As jy regtig ‘n noodgeval ervaar kan jy jou veearts bel en hoor of enige van die middels wat jy tuis het wel vir jou dier gebruik kan word. Maak dan ook doodseker van die dosis – dit gaan baie minder wees as wat jy verwag.!

Is daar ‘n inspuiting wat gaan help om my hond of kat se hitte te stop? Ongelukkig nie op hierdie stadium nie, maar ek weet dat daar maatskappye besig is om so middel te toets, so dalk in die toekoms. Selfs ‘n sterilisasie gaan nie dadelik al die hormone en reuke laat verdwyn nie, en die omgewing se reuns en mannetjieskatte gaan steeds vir ‘n paar weke lastig wees. Die doeltreffendste manier om dit te voorkom is ‘n sterilisasie voordat die dier op hitte gaan. Ek sal later meer skryf oor wanneer en waarom ons sterilisasies aanbeveel…

Is dit noodsaaklik om my hondjie se babatandjies wat na 6 maande nog nie gewissel het nie te laat uittrek? Beslis ja! Sodra die permanente tande in plek is, is dit tyd om die babatandjies te trek. Kos, hare en selfs materiaal van sagte speelgoed gaan sit tussen die permanente en die babatandjie vas. Hierdie kos, hare of materiaal vorm dan die boustene van kalkulus, die harde plaak, wat op die tande vorm en tandvleisinflammasie veroorsaak. 

My hondjie het ‘n naelbreuk. Hoe gevaarlik is dit en wat moet ek doen? Die kort antwoord is dat dit wel gevaarlik kan wees en met ‘n operasie herstel moet word. Dit is egter meestal nie ‘n noodgeval nie en kan maklik op 6 maande saam met ‘n kastrasie of sterilisasie herstel word. Dit is wel iets wat mooi gemonitor moet word, omdat dit moontlik is vir ‘n dermlus om vas te steek – en dan is dit ‘n noodgeval!

Ons het ‘n baie groot erf so is dit nodig om met my honde te  gaan stap?  Ja beslis! Die voordele van stap lê nie net in die fisiese oefening nie. Die verstandelike stimulasie wat al die geure en visuele prikkels bied gaan vir ‘n gesonder en gelukkiger hond sorg. Jou hond leer dan boonop hoe om ordentlik aan ‘n leiband te stap. Dan is daar natuurlik ook die voordeel wat die oefening vir jou as mens inhou wat nie vergeet moet word nie. Laastens wil ek net noem dat dit regtig lekker is! Maak dit ‘n gesellige tyd vir die hele gesin.

Hoekom eet my hond sy eie mis? Beteken dit hy het ‘n tekort? Hierdie vieslike gewoonte is meestal net dit: ‘n vieslike gewoonte! Dit kan deur verveeldheid, honger of stress veroorsaak word, maar soms is die rede onbekend. Solank jou hond gesond is en ‘n goeie dieet het is dit nie nodig om bekommerd te wees nie. Bespreek maar die beste maniere om dit af te leer met ‘n gedragskenner of jou veearts. Daar is produkte beskikbaar wat gaan help om jou hond die slegte gewoonte af te leer.

Hoekom skuur my hond nogsteeds sy boude al het ek hom ontwurm?  Wurms is nie die enigste oorsaak vir boude wat geskuur word nie. Meestal dui hierdie vreemde gedrag op anaalkliere wat oorvol of verstop is. Anaalkliere is ‘n kommunikasieklier wat ‘n reuk afskei waaraan honde mekaar herken. Ongelukkig is sekere rasse en ook honde wat oorgewig is geneig om probleme met hulle anaalkliere te ervaar. Die goeie nuus is dat jou veearts of veeartsverpleegster hulle vinnig kan leegdruk. Wees net gewaarsku dit is maar ‘n stinkspul…

Moet my ou honde nogsteeds entings kry? Ja hulle moet. Wetlik moet alle honde minstens elke derde jaar die Hondsdolheidenting kry. Ons stel ook voor dat die 5in1-enting gegee word. Senior honde se immuunstelsel is nie so sterk nie, en daarom baie vatbaar vir siektes. Die 5in1-enting beskerm dan ook die ouer honde teen Hondesiekte – dit is die siekte wat tans talle honde se lewe eis. Bespreek gerus ‘n veilige entingskedule met jou veearts of veeartsverpleegster.

My hond of kat het  rotgif opgevreet. Wat doen ek nou? Rotgif bevat ‘n middel wat bloed verdun. Jou hond of kat sal dus nie dadelik tekens van vergiftiging wys nie maar onbehandeld sal hulle doodbloei. Jou veearts sal probeer om jou dier so gou as moontlik te laat braak om die rotgif uit te kry – moet dit liewer nie self probeer nie. Jou dier het dan ook inspuitings en pille nodig wat die rotgif gaan teenwerk. Pasop vir raad wat aanbeveel dat melk, koeksoda of watter huishoudelike middel ookal gegee moet word, volg slegs jou veearts se advies.

Ek het op google gelees dat (ek maar vir my honde kan bene voer.) Is dit waar? Sit maar enige sinnetjie tussen die hakies, die antwoord bly dieselfde. Google het nie ‘n graad nie. Enigiemand kan enigiets op Google sit. Selfs Facebook gurus gee soms twyfelagtige advies. As jy veilige advies wil ontvang vra asseblief jou veaarts of veaartsverpleegster. Wat die bene aangaan: NEE! Jou hond is nie ‘n wolf nie. Bene veroorsaak impaksie en klein skeurtjies in die dermkanaal – dit is so seer soos wat dit klink. Daar is duisende gesonde en veilige bederfies so waarom die kans waag?

Is my hond/kat die heeeel oulikste dier in die hele land? Ja natuurlik! Die oplettende mense gaan sien hier is elf vrae, ek toets net of julle wakker is 🙂     

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s