Ek sou graag ‘n veearts wou word, maar ek kan nie ‘n dier uitsit nie.

“Ek sou graag ‘n veearts wou word, maar ek kan nie ‘n dier uitsit nie” Hierdie frase hoor ons gereeld en ek glo daar is ‘n hele stigma rondom genadedood.

In die meeste gevalle is ‘n genadedood presies wat dit genoem word. Ek voel dis genadiger vir die dier om verewig te gaan slaap as om langer die pyn of ongemak te verduur hier by ons. Gewoonlik is dit ‘n dier wat ‘n lang en gelukkige lewe by liefdevolle eienaars beleef het. Sodra die troeteldier egter nie meer ‘n goeie kwaliteit lewe het nie besluit eienaars soms om die dier liewer te bring vir ‘n genadedood.

Die regte tyd

Baie eienaars is onseker oor wanneer en of dit ooit die regte tyd is om hulle dier te bring. Eienaars voel dan ook soms skuldig of selfs spyt indien hulle wel die keuse gemaak het.

Hoe toets ons ‘n dier se kwaliteit van lewe? Watter maatstaf moet mens gebruik om te bepaal of jou troeteldier ly? Daar is drie kriteria waarna gekyk kan word.

1.Onbeheerbare pyn

Die eerste kriteria is of die dier pyn het wat nie meer beheerbaar is nie. Onbeheerbare pyn is wanneer jou troeteldier pyn ervaar al is hy op spesiale kos, al kry hy ekstra aanvullings, fisio en pynmedikasie. Voorbeelde is honde met kroniese artritis of beenkankers. Soms is die koste van pynbehandeling van so aard dat dit nie vir die eienaar moontlik is om aan te gaan met behandeling nie.

2.Anoreksia

Die tweede kriteria is of die dier genoeg eet om nie konstant gewig te verloor nie. Sekere siektes soos nierversaking of lewerskade kan jou troeteldier so naar laat voel dat hulle nie meer wil eet nie en dan boonop braak ook. As mediesebehandeling nie die braking en anoreksia kan beheer nie sal jou troeteldier letterlik verhonger. Dis aaklig om te sien hoe jou dier wegkwyn en voor jou oë wegsmelt.

3.Onbehandelbaar

Die derde kriteria is wanneer jou dier ‘n onbehandelbare gesondheidstoestand het. Soms het dit met ongelukke te doen. Dit kan dalk gebeur dat jou dier deur ‘n kar raakgery is en soveel skade het dat daar nie ‘n ander opsie is nie. Dan is daar ook diere wie se aggressie nie hanteerbaar is nie, en waar dit mens of dier se lewe in gevaar kan stel. Ander kondisies soos blindheid, doofheid en demensie kan soms ‘n rede wees as die dier homself skade kan aandoen byvoorbeeld die blinde hond met demensie wat in die swembad val.

☆Lewenskwaliteit

Ouderdom opsigself is nooit ‘n goeie rede vir genadedood nie, mits daar nog goeie kwaliteit van lewe is. As jou hondjie nog opgewonde sy stertjie swaai, redelik gemaklik kan rondbeweeg en gulsig al sy kossies eet is dit nog nie tyd nie. Daar is ook ‘n wye reeks kosse, aanvullings en medikasie wat jou ouer diere gemaklik kan maak.

Daar is ook heelwat eienaars wat voel hulle verkies dat die diertjie self in sy slaap doodgaan. My antwoord hierop is altyd dat jou dier in JOU slaap doodgaan, nie in syne nie. Om van “natuurlike” oorsake dood te gaan is basies ‘n lang uitgerekte sterfte. Dit gebeur soms dat ‘n dier aan ‘n hartaanval doodgaan wat vinnig is maar meestal gaan ou honde self dood van asemnood (as gevolg van hart of longprobleme) of van verhongering. Met ‘n genadedood kan die eienaar by die dier wees en hulle vashou terwyl hulle sterf, wat volgens my die beste manier is om jou geliefde troeteldier te groet.

♡Die ander aansig

Aan die ander kant van die tafel is dit ook nie maklik nie. Mense wil baie keer weet hoe ons die genadedood so rustig kan behartig. Nee ons is nie emosieloos nie, en ons het ook nie ‘n superkrag wat ons traankliere laat opdroog nie. Om ‘n ou hond wat ‘n mooi lewe gehad het uit te sit is vir my persoonlik nooit so erg nie. Ek is saam met die eienaar hartseer oor die verlies , maar dankbaar om terug te dink aan ‘n mooi lewe sonder dat die troeteldier hoef te lei. Natuurlik was dit ‘n hele ander saak toe dit my eie hond was… Maar ons kan nie elke keer uitmekaar val as ons ‘n hond moet uitsit nie. Direk na die genadedood is daar dalk weer ‘n klein hondjie vir ‘n enting. As jy te emosioneel betrokke raak by elke pasient gaan jou emosies heeldag tuimeltrein ry. Dit raak baie gevaarlik omdat mense in ons veld dikwels aan depressie en “compassion fatigue” ly as hulle net op die hartseer dele fokus en nie meer die mooi genesende deel kan raaksien nie.

Daar is natuurlik die uiters hartseer gevalle wat mens baie diep tref. Die babahondjie wat deur ‘n kar raakgery is en onherstelbaar beseer is. Die hond wie se aggressie net nie verbeter nie. Die vrolike volwasse hond wat beenkanker kry wat orals heen versprei. Die kat wie se eienaars oorsee gaan en nie kans sien om die kat deur die stress van verhuising te laat gaan nie. Hierdie gevalle is tipies die gevalle waar ek ook “hooikoors” kry tydens die genadedood. Dan tref die werklikheid my van hoe onregverdig en gebroke die lewe eintlik is. Ja dan is die genadedood swaar en wens ek, ons kon alles doen, almal red en almal genees.

♡Wanneer dit tyd is

Die dag van jou geliefde troeteldier se sterwe gaan verstaanbaar baie moeilik wees. Moet nooit skuldig voel oor jou gevoelens en emosies nie. Dis regtig nie nodig om omverskoning te vra vir die trane nie. Ons verstaan. Die ander kliente by die kliniek het hoogswaarskynlik ook al ‘n geliefde troeteldier gegroet. Hulle verstaan ook. Woorde is baie maal nie nodig nie. Neem al die tyd wat jy nodig het om afskeid te neem, voor of na die prosedure. Dis ‘n persoonlike keuse of jy wil by wees vir die prosedure of nie. Moenie dat iemand jou voorsê wat die regte ding is om te doen nie. Elke mens is anders. So is ons ook uniek in die manier wat ons afskeid neem. ‘n Wenk om die dag gladder te laat verloop, is om vooraf alle papierwerk, betalings en vrae wat jy dalk het met die veearts te bespreek en af te handel. In die oomblik is dit dalk vir jou moeilik om vrae te vra wat jy oor die prosedure het.

♡Ekstra hulp

By ons praktyk maak ons gebruik van Legacy Pet Cremation. Ek heg graag hulle webtuiste vir julle https://www.legacypets.co.za Op hulle webtuiste is daar ook advies en selfs beraders wat kan help met die moeilike besluit.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s