7 Wenke voor jy jou nuwe hondjie kry

Ek kan aan min dinge dink wat so opwindend is, soos om ‘n nuwe hondjie te kry. Ek onthou nog my eerste hondjie! Nadat my ouers ingestem het dat ek ‘n hondjie mag kry is ek eers biblioteek toe. Hier het ek ‘n oulike boek gevind oor hoe om jou nuwe hondjie te kies. Ek het die boek noukeurig deurgelees en selfs my hare in ‘n skewe ponie vasgemaak, soos die meisie in die boek, die dag toe ek my nuwe hondjie gaan uitkies het. Duidelik was dit vir my ‘n baie ernstige saak! My eerste hond het vir my soveel vreugde verskaf en ek onthou haar nogsteeds met blye herinnering.

Vandag sien ek dat die koop of aanneem van ‘n hondjie ‘n meer impulsiewe besluit geword het. Jy stap dalk verby ‘n dierewinkel en maak ‘n emosioneel eerder as ‘n rasionele besluit. Ons voel jammer vir die oulike hondjie wat in die hokkie sit, en koop hom dan summier. Ongelukkig gebeur dit dan soms dat die oulike hondjie ‘n groot hond word, wat glad nie geskik is vir die gesin nie. Om ‘n nuwe hondjie te kry is nie ‘n besluit wat ligtelik geneem moet word nie. As jy ‘n hondjie kry moet jy kan verseker dat die hondjie vir sy/haar hele lewe ‘n veilige tuiste by jou het. Kom ons kyk na 7 dinge wat oorweeg moet word voordat jy ry om jou nuwe hondjie te gaan koop.

1. Is ek ‘n geskikte eienaar?

Dit klink dalk vreemd om jouself eers te toets  maar dink mooi voordat jy ry om ‘n hondjie te kry. Ek weet ‘n nuwe hondjie laat jou hart smelt en warm van binne voel, so probeer die volgende vrae eerlik antwoord: Bly jy êrens waar ‘n hond toegelaat gaan word? Is jy genoeg by die huis om ‘n jong hondjie ordentlik op te lei en genoeg aandag te gee? Het jy genoeg tyd om die hondjie goeie maniere te leer? Het jy genoeg geld vir ‘n hondjie? (Lees by punt 4 meer oor die uitgawes van ‘n nuwe hondjie.) Wil die mense saam met wie jy bly ook ‘n hondjie hê, of is iemand dalk allergies vir ‘n hond? Het jy dalk ‘n ouer hond wat nie van ander honde hou nie en moontlik die nuwe hondjie gaan byt? Is jy fisies geskik om met ‘n hond te gaan stap?

2. Die regte ras 

Die internet is ‘n reuse bron van inligting. As daar ‘n spesifieke ras is waarvan jy hou gaan doen die moeite en “google” bietjie die ras se eienskappe. Telers fokus dalk net op die positiewe eienskappe omdat hulle ‘n passie vir die ras het, so vra ook jou veearts of iemand wat honde oplei vir hulle mening. Daar is ook baie oulike boeke oor die verskillende rasse en by watter gesinne hulle goed sal aard beskikbaar. Dis regtig die moeite werd om eers bietjie navorsing te doen voordat jy jou hart op ‘n spesifieke ras verloor. Hoe die hondjie lyk behoort nie jou eerste oorweging te wees nie. Daar is ‘n algemene vergissing dat ‘n kleinras hond, in ‘n klein erf gelukkig gaan wees, en ‘n grootras hond, ‘n reuse erf nodig het. Dit help nie jy kry ‘n energieke ras soos ‘n Jack Russel as jou gesin graag heeldag bordspeletjies in die huis speel nie. So ook gaan ‘n Pekingnese dalk nie so goed aard by ‘n gesin wat elke oggend gaan draf en bergklim nie. Elke ras het sy eie positiewe en negatiewe eienskappe. Spesiale rasse het meestal spesiale aandag nodig. As jy byvoorbeeld ‘n Franse Poedel koop gaan jy hom spesiaal moet laat skeer. Daar is regtig baie faktore wat gaan bepaal watter ras by jou pas so doen moeite en vors dit mooi na! Ek het hierdie oulike webwerf gevind wat jou help om rasse te vind wat by jou gaan pas: http://www.animalplanet.com/breed-selector/dog-breeds.html .

3. Hoeveel hondjies gaan jy kry?

As dit jou eerste hondjie is en jy nie heeldag by die huis gaan wees nie, is dit dalk ‘n beter opsie om twee hondjies te kry. ‘n Hondjie wat alleen grootword gaan ‘n baie sterk band met die eienaar vorm. Hierdie sterk band kan egter tot erge skeidingsangs lei, as die eienaar nie by die huis is nie. As jy twee hondjies kry moet jy egter versigtig kyk na hoe die ras teenoor ander honde optree. Sekere rasse , veral die Terriers, is nogal geneig om bloedige gevegte met hulle boeties en sussies te hê as hulle saam grootword. Die kombinasie van ‘n reun en teef is gewoonlik ‘n veiliger keuse. Onthou net dat boeties en sussies sal teel as hulle nie vroeg gesteriliseer word nie. Hul het geen skaamte!

4. Doen ‘n koste analise

Die aankoopprys van jou hondjie is nie noodwendig die grootste uitgawe wat oorweeg moet word nie. Kom ons kyk na ‘n lysie van moontlike uitgawes:

  • Aankoop of aanneemfooi
  • Hondekos – goeie kwaliteit nie supermark hondekos nie asseblief!
  • Entings en ontwurming
  • Mikrovlokkie
  • Halsband met tag
  • Harnas vir stap
  • Speelgoed en kougoed
  • Sterilisasie
  • Mediesefonds
  • Bosluis en Vlooibehandeling
  • Opleiding

Ek dink dit is goed om voordat jy jou hondjie kry, eers navorsing te doen oor wat presies die kostes gaan wees. Dan is jy verseker dat jy die beste sorg vir jou nuwe hondjie kan voorsien. Bel gerus jou veeartspraktyk en vra hulle wat alles kos, sodat dit nie ‘n onaangename verrassing is, die dag wat jy jou nuwe hondjie kry nie. Ongelukke gebeur ook en dis beter om voorbereid te wees.

5. Besluit of jy ‘n hondjie wil aanneem of wil koop

Daar is groot debat oor waar jy jou hondjie vandaan moet kry, in terme van teler of diere skuiling. Ek voel beide het voor en nadele. Persoonlik verkies ek om ‘n jong hondjie op 8 weke te kry, wat ek dan self na my hand kan oplei. As jy ook so voel is dit beter om ‘n hondjie by ‘n betroubare teler te koop. Jy weet dan wat die hondjie se geskiedenis is en wie die ouers is. Die nadeel hieraan is dat daar baie hondjies geteel word, terwyl daar reeds soveel hondjies sonder ‘n huis is. Baie mense voel daarom dis eties meer korrek, om ‘n hondjie aan te neem. Daar is ool voordele om ‘n hondjie by ‘n diere skuiling aan te neem. Veral ouer mense is nie altyd lus vir ‘n nuwe hondjie met hope energie nie. Hulle kan dan ‘n ouer hond aanneem, wat rustiger is. Die ander voordeel, van ‘n hond wat jy aanneem, is dat die kostes oor die algemeen laer is. Baie diere skuilings het ‘n aanneemfooi wat entings en sterilisasie insluit, wat dan baie goedkoper is as wat jy alles self moet betaal. Jy kan ook ‘n hond aanneem wat reeds gesteriliseer is en wie se entings mooi op datum is – dit is dan ‘n groot koste besparing. Die nadeel aan diere wat aangeneem word, is dat honde soms juis na die diere skuiling geneem word, omdat die vorige eienaar hulle nie reg op gelei het nie, en hulle dan verskeie gedragsprobleme het. Die ouderdom van diere wat aangeneem word, is oor die algemeen ook maar net ‘n skatting. Dink maar oor die voor en nadele, en besluit dan watter opsie vir jou beter is.

6. Vind ‘n betroubare teler of diere skuiling

Dis maklik om sommer vinnig op “google”, die ras te vind wat jy graag wil hê. Loop egter ligtelik vir telers wat die hondjie na jou wil vlieg – daar is hoeveel mense wat nadat hulle betaal het, nooit hulle hondjie ontvang nie. As iets te goed lyk om waar te wees, is dit meestal. Vind ‘n teler wat die hondjies eers op 8 weke na hulle nuwe huis laat gaan. 8 Weke is die geskikte ouderdom, wanneer hondjies sielkundig gereed is om van hulle ma geskei te word. As jy jou hondjie op ‘n jonger ouderdom neem kan hulle gedragsprobleme soos skeidingsangs ontwikkel. Die teler moet dan ook die hondjie vir sy eerste enting op 6 weke na ‘n veearts neem. Dis onaanvaarbaar dat telers sommer self die hondjies ent. ‘n Volledige mediese ondersoek moet deur die veearts uitgevoer word, voordat die enting gegee word. As die teler sommer self die hondjie ent, het jy nie die waarborg dat jou hondjie gesond is, en nie dalk iets soos ‘n hartgeruis het nie. Onthou: ‘n Geregistreerde hondjie is nie noodwendig ‘n gesonde hondjie nie!

7. Gaan besoek die hondjie

Dit is noodsaaklik om te sien in watter kondisie jou toekomstige hondjie grootword. Moenie ‘n hondjie koop, omdat jy vir hom jammer voel oor die haglike kondisies waarin hy geteel is nie. Dit bevorder juis die bose kringloop. As almal slegs hondjies by telers koop, wat hulle diere goed behandel, sal die sogenaamde “backyard breeders” en “puppy mills” nie meer bestaan nie. Jou hondjie moet toegang tot gras hê, om sommer vroeg-vroeg al te leer waar om sy besigheid te doen. Jonghondjies maak ‘n konnotasie tussen wat hulle onder hulle pootjies voel, en waar hulle, hul besigheid doen. As jou hondjie grootword in ‘n hok met sementvloere, sal dit baie langer neem om jou hondjie te leer om sy besigheid op die gras te doen. Wanneer jy die eerste keer vir jou hondjie gaan kuier, moet jy ook let op die kondisie van die hondjie se ouers. Dit is te wagte dat die mamma dalk maer kan lyk, veral as sy ‘n groot werpsel het wat by haar soog. Let op die geaardheid van beide ouers, omdat dit iets is wat aan die babahondjies oorgedra word. Die babahondjies moet spelerig en gesond voorkom. Snotterige ogies en neusies wat loop, is nie ‘n goeie teken nie. Vra ook watter kos die hondjies gevoer word. As die hondjies ‘n goeie kwaliteit kos eet, sal hulle optimaal groei en gesonder hondjies wees. Pap en tafelkos kwalifiseer beslis nie! Kies self jou hondjie en moenie dat hulle sommer die eerste hondjie wat hulle gevang kry, namens jou kies nie. Op 6 of 8 weke behoort jy al ‘n goeie idee te kry van die verskillende geaardhede. Kies die hondjie wie se geaardheid die beste by jou sal pas.

Lewenslange beste vriend

Die dag wat jy jou hondjie kry word jy ‘n beste vriend. Jou hondjie gaan na jou kyk asof daar niemand so fantasties soos jy is nie. Hy gaan leef vir die oomblik wat jy by die huis aankom! Dis dalk goed vir jou ego, maar dit is ook ‘n groot verantwoordelik. Probeer altyd die persoon wees wie jou hond dink jy is!

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s