Om ‘n diereverpleegster te wees

My man sê altyd hoe gelukkig ek is om elke dag vrolik te mag werk toe gaan. Ek besef nie almal het die voorreg om so gelukkig en passievol oor hulle beroep te wees nie. Ja natuurlik kan ek ook by ‘n braai oor dinge wat by die werk gebeur kla, maar oor die algemeen voel ek positief oor my werk as diereverpleegster. Dalk is jy iemand wat dink dat hierdie ook die regte beroep vir jou is. Kom ons kyk na ‘n paar dinge wat diereverpleegsters doen en watter kwalifikasies nodig is om ‘n verpleegster te wees in Suid-Afrika.

KWALIFIKASIE

Die 2-jarige diploma kurses DVN (Diploma Veterinary Nursing) het die afgelope jaar verander na ‘n 3-jarige graadkursus BVetNurs (Bachelor of Veterinary Nursing). In Suid-Afrika kan jy dit slegs by die Universiteit van Pretoria (Tuks) studeer. Hoewel jy ‘n Tuks-student is hoef jy nooit hoofkampus toe te gaan nie en sal jou volledige opleiding by Onderstepoort geskied. Onderstepoort is ‘n lieflike kampus en ek voel altyd dat ek nog ‘n paar jaar daar sou wou wees vir die lekker studentelewe. Onderstepoort is die mekka van diereliefhebbers! Jou medestudente met wie jy skouer skuur is almal (goed amper almal) gek oor diere . Verder word daar ook lekker saam studeer en natuurlik is daar ‘n ryk sosiale lewe. Ja ek het my tyd by Onderstepoort terdeë geniet! Besoek gerus die skakel hieronder om te kyk wat die vereistes is om diereverpleging by Onderstepoort te studeeer. https://www.up.ac.za/media/shared/360/Faculty%20Brochures%202015%202016/2019-2020/fb-veterinary-science-2019-20-final-pdf-16.11.2018.zp165550.pdf

KARAKTEREIENSKAPPE VAN ‘N DIEREVERPLEEGSTER

Hierdie is nou net my persoonlike opinie en moet asseblief nie as wet geneem word nie… Ek dink ‘n verpleegster moet eerstens ‘n passie vir diere hê. Jy gaan hard werk en soms moeilike take moet verrig, so as jy nie ‘n passie hiervoor het nie gaan jy jou werk haat! Die volgende eienskap wat ek dink jy nodig het is die vermoë om prakties te wees. Meeste van jou werk gaan met jou hande wees en as jy twee linkerduime het gaan jy dalk sukkel om jou take te verrig. Verder moet jy ook ‘n kreatiewe probleemoplosser wees. Dit gebeur soms dat jy baie innoverend moet wees veral as jy ‘n verband op ‘n vreemde plek moet aansit – honde kry dit nogal reg om op snaakse plekke wonde te kry… Dan moet jy ook ‘n spanspeler wees. Jy gaan nie alleen die dierewêreld kan red nie. Afhangende van waar jy werk gaan jy saam met baie ander mense werk. Die laaste eienskap wat ek sal noem is empatie met mense. Ja jy moet goed wees met mense! As jy dink jy word ‘n diereverpleegster omdat jy nie met mense wil werk nie, gaan jy ‘n onaangename skok kry. Onthou dat die oulike diertjie iemand se geliefde troeteldier is. Jy moet so kan kommunikeer dat jy die eienaar kan gerusstel oor hulle siek dier, inligting kan verskaf aan ‘n eienaar wat hulle eerste troeteldier kry en kan simpatiseer wanneer mense van hul geliefde troeteldier moet afskeid neem. Op ‘n ligter noot help dit ook as jy ‘n goeie koppie boeretroos kan maak. So bietjie kafeïne op ‘n mal dag maak alles net so bietjie beter.

WERKSBESKRYWING

Ek kan ‘n hele boek skryf oor alles wat ‘n diereverpleegster moontlik doen! Kom ek noem gou ‘n paar: entings, mikrovlokkie inplantings, naels knip, steke uithaal, anaalkliere leegdruk (ja dis gross), bloed trek, bloedtoetse doen, wonde behandel, x-strale neem, verbande opsit, narkose toepas en monitor, medikasie uitboek, moeilike diere vashou vir prosedures, hokke skoonmaak, absesse leegdruk, vlooie vang, tande skoonmaak, ore skoonmaak, genadedood toepas, fisioterapie, voeding voorstelle vir spesifieke kondisies, vertroetel siek diere, rekeninge, doen ontvangswerk en natuurlik ook voorraadbeheer en admin werk. Wat presies jy gaan doen gaan maar afhang van waar jy werk, en vir watter veearts jy werk. Gelukkig mag ‘n diereverpleegster baie meer prosedures doen as baie lande oorsee. Daar is ook ‘n groot verskil in watter kliniek jy by gaan werk. Daar is byvoorbeeld privaatklinieke, verwysingsklinieke, produksieklinieke, perdeklinieke, eksotiesedierklinieke ens… Dan is daar ook diereverpleegsters wat ‘n hele ander rigting inslaan en in die verkoopsbedryf ingaan. Hulle word dan reps – dit is verteenwoordigers van ‘n maatskappy wat diereprodukte aan klinieke en dierewinkels verkoop. As jy graag rondry en ‘n passie het daarvoor om met mense te gesels en ‘n goeie verkoopsvernuf het is die rep-wêreld dalk vir jou.

VOOR EN NADELE VAN DIE WERK

Kom ons begin met die positiewe voordele: Jy werk heeldag met diere! As diere jou passie is dan gaan jy nie teleurgesteld wees in hierdie veld nie. Jy leer gereeld nuwe dierespesies en rasse ken. Jy is meeste van die tyd aktief besig, so jy sit nie heeldag agter ‘n rekenaar nie – behalwe as jy besluit om ‘n blog te begin…. Jy is verantwoordelik vir gehospitaliseerde diere en sien hoe hulle van dodelik siek na perdfris en gesond genees – dit verskaf groot werkstevredenheid. Jy kry die geleentheid om die oulikste babahondjies en katjies te ent, en dan sommer bietjie met hulle te speel ook. As jy van puisies uitdruk hou gaan jy groot genot vind in die lansseer van ‘n abses! Dis soos honderd puisies in een – hierdie is beslis een van die vreemdhede wat meeste verpleegsters geniet. Een van my gunsteling voordele van diereverpleegster is wanneer ek die geleentheid kry om babadiertjies met die hand groot te maak. Nog ‘n voordeel is dat jy nie sommer verveeld raak in hierdie veld nie, en as jy doen kan jy altyd na ‘n besiger of meer gespesialiseerde kliniek skuif. Daar is beslis genoeg werk vir goeie diereverpleegsters in Suid-Afrika. As jy meer buigbare werksdae wil hê kan jy ook besluit om as ‘n “locum” te werk. Dan werk jy by verskeie klinieke wanneer personeel met verlof gaan.

Natuurlik is daar ook nadele: Jy is beperk daarin dat jy nie enige behandelings kan doen sonder die toesig van ‘n veearts nie. Verder gaan elke 2de persoon jou vra of jy nog studeer om ‘n veearts te word. Jy gaan lang ure, na-ure en ook naweke werk (dit hang wel af van waar jy werk). Jou salaris is nie massief nie. Jy gaan party dae by die huis kom met klere vol braking, diarree, hare of anaalkliere – soms ‘n kombinasie van alles wat grillerig is. As daar ‘n hondjie met Katgriep in die hospitaal is, gaan jou klere vir die dag soos Katgriep ruik. Soms gaan jy pasiente verloor vir wie se lewe jy baie hard baklei het, of vir wie jy baie lief geword het. Hierdie aspek van die werk is werklik verpletterend, en ek kan eerlik noem dat ek al oor baie pasiente gehuil het. Dan gaan jy soms met aggressiewe mense en diere moet “deal”. Daar is baie ongeskikte en ondankbare kliënte wat nogal mens se ballon kan afblaas of helemaal kan pop. Jy gaan ook met aggressiewe honde en katte werk wat graag jou gesig en vingers sal wil eet. Partykeer gaan jy raakgebyt word, stank vir dank. Soos met enige werk moet jy maar leer om met die negatiewe aspekte saam te leef en ‘n goeie manier vind om stress te hanteer. Die streslading van ‘n diereverpleegster kan nogal oorweldigend wees! Ek ontlaai gewoonlik al my stress sodra ek op een van my perde klim. Dis soos ‘n magiese knoppie wat gedruk word sodra my boud aan die saal raak.

Gelukkig kan ek sê dat die posiewe aspekte in my geval baie meer as die negatiewe aspekte is. Hoewel ek nie heeldag kan sit en met baba hondjies en katjies speel nie is daar genoeg dieredrukkies en vryfies om my tevrede te hou. Verder is ek in die unieke situasie waar my hond Dexter elke dag saam met my werk toe kan kom. Wat kan dan nou beter wees as om elke dag saam met jou beste vriend werk toe te gaan.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s