Moet ek my hond steriliseer?

JAAAAAAAA! Okay, dis dalk nou nie die mooiste antwoord nie maar in die meeste gevalle sal ek beslis aanbeveel dat jy jou hond steriliseer. Ek verstaan Max lyk dalk minder manlik omdat hy nou platsak is, en Bella het ‘n boep gekry nadat haar babamaker uitgehaal is. So kom ons bespreek ‘n paar punte oor sterilisasie.

1.Gesondheid

Sterilisasie het beslis gesondheidsvoordele vir beide reuns en tewe. ‘n Reun wat vroeg gekastreer is kan nie testikulere kanker kry nie en sal ook nie die seksueeloordraagbare gewasse rondom sy geslagsdele kry nie. Verder verlaag dit ook die kans dat hulle op ‘n meer senior ouderdom prostaatprobleme gaan ontwikkel. By tewe is die twee hoofvoordele beskerming teen baarmoederinfeksie (Piometra – ‘n dodelike infeksie) en borskanker. Beide kondisies kan jou teef se doodsvonnis wees so dit is beslis iets wat ernstig oorweeg moet word.

2. Ongewenste werpsels

Ek hoef nie veel hier te sê nie want danksy sosiale media moet almal teen die tyd bewus wees van al die ongewenste hondjies en katjies. Elke tweede advertensie is iemand wat diertjies weggee “aan ‘n goeie huis”. Die feit is dat meeste mense nie kontak behou nie en nie weet waar hierdie arme diertjies opeindig nie. Daar is honderde dierereddingsbladsye op Facebook en elke dag word dit net meer. Besoek gerus die SPCA of enige dierereddingsorganisasie en jy gaan geskok wees oor die pragtige en selfs opregte honde wat verlate in die hokke sit. My punt: Daar is meer honde as goeie eienaars. Jy hoef regtig nie te teel nie.


3. Testosteroongedrag

Daar is min dinge wat my so grief soos ‘n reun wat teen alles merk. Dis taai en stinkerig orals waar hul merk. Nee dankie! Dan is daar ook die “drange”-issue. Reuns kan hulself net nie help nie. As daar ‘n teef op hitte is sal hulle sommer ophou eet en aggresief optree teenoor hulle boesemhondvriende. Dis natuurlik ook baie gevaarlik vir jou reun om in die pad agter teefreuke aan te hardloop. Daar was al baie bytwond- en raakgeryde slagoffers as gevolg van ongesteriliseerde honde – daar’s letterlik soos ek tik ‘n ongekastreerde optelhond met bytwonde hier in ons hok…  Dit is ook onaanvaarbaar as jou reun teen besoekers, of dalk jou eie bene, begin opspring en snaakse gedrag toon. Dan gebruik sommige reuns ook jou kinders se sagte speelgoed om… wel… uhm… hulle ding te doen! Later loop jou kind dan met die einste aangerande teddie se been in hul mond rond. Grillerig verby! Ons beveel sterilisasie aan om aggressiewe gedrag te verminder, maar dis belangrik om te besef dat ‘n aggressiewe hond nie skielik ‘n mak hondjie gaan word nadat hy gesteriliseer is nie. Dis wel waar dat jou hond nie meer in bakleierye betrokke gaan raak as gevolg van tewe wat op hitte is nie. Dit gaan egter nie ‘n hond se aggressiewe aard kan verander nie.

4.Die finansiele implikasie

Ek weet wat gaan julle nou sê. So voor jy hond se gedagtes kry, ek weet: Sterilisasie is duur! Ek stem saam, dit is duur. Narkose en ‘n veearts se tyd is beslis duur. Op daai noot wil ek noem dat jy 6 maande het om te spaar vir ‘n sterilisasie.Sodra jy jou nuwe hondjie kry kan jy ‘n veearts bel, hoor wat ‘n sterilisasie kos, en begin spaar. Waarvoor jy egter nie weet om te spaar nie, is die noodgevalle wat spruit uit ongesteriliseerde honde. ‘n Keiser kos om en by 3x wat ‘n sterilisasie kos, dit kan selfs meer wees. Daarby gebeur dit natuurlik (dankie Murphy’s Law) dat jou hond op Kersdag of Goeie Sondag ‘n keiser nodig het. Dit beteken dat jy selfs meer gaan moet opdok om na ‘n 24h kliniek te gaan vir die operasie. So 24h kliniek se fooie is meestal duurder omdat hulle rondom die klok ‘n veearts aan diens moet hê. ‘n Piometra operasie kan tot 5x die koste van ‘n sterilisasie wees, omdat jou hond gehospitaliseer moet word, op ‘n drip gesit word en dan ook sterk antibiotika moet kry. Die kankers wat ongesteriliseerde honde kan kry is nie net duur nie maar meestal ook van so aard dat die gewasse weer terug groei. Dan kom daar ‘n stadium wat die gewasse net nie meer uitgesny kan word nie. Die koste: jou dier se lewe.


Hierdie is ‘n foto wat ek laasweek van ‘n hond met ‘n piometra geneem het. Haar baarmoeder het 4kg geweeg! ‘n Gesonde baarmoeder is so dun soos n spagetti.

5.Moontlike komplikasies

Dit sou nou nie ‘n volledige skrywe wees as ek nie ook die moontlike komplikasies van sterilisasies noem nie. Die eerste komplikasie gaan gepaard met narkose. Hoewel daar reuse vooruitgang in die veiligheid van narkosemiddels geskied het, is narkose altyd ‘n risiko. Maak dus seker dat die veearts wat jou diere steriliseer die nuutste en veiligste middels beskikbaar gebruik – let wel dat dit nie die goedkoopste gaan wees nie! Komplikasies wat gepaard gaan met die operasie self soos bloeding of steke wat uitgekou word is ook moontlik. Dan is daar ook soms tewe wat na die operasie ‘n probleem met hulle blaas ontwikkel. ‘n Klein persentasie tewe sukkel dan met urinere inkontinensie. Die mees algemene klagte na sterilisasies is dat die diere begin gewig optel. Dit maak helemaal sin as jy oorweeg dat daar ‘n hele stelsel wat hormone beheer en deur siklusse gaan uitgehaal word. Verder speel die hormoon testosteroon ook ‘n invloed op die gewig. Gelukkig is daar vandag fantastiese kosse beskikbaar wat juis help om jou dier se lyfie mooi en maer te hou. As jy ‘n man is wil ek jou gerus stel dat jou reun nie minder manlik gaan voel en aan depressie gaan omkom nie. Hy gaan ook nie minder spelerig wees of skielik sy beskermingsdrang verloor nie. Dis ‘n wanpersepsie dat sterilisasie jou dier se temperament drasties gaan verander. Praat gerus met jou veearts oor al die moontlike komplikasies wat kan geskied.

6. Wanneer om nie te steriliseer nie?

Baie mense wag tot hul teef op hitte is en begin bloei en wil dan die morsigheid stop. Dit werk egter nie so nie. Daar is nie ‘n kraantjie wat mens skielik toedraai om die hitte te laat stop nie. Steriliseer betyds! Die operasie gedurende die teef se hitte is ook baie gevaarliker omdat alles meer bloederig is en die kans dat daar komplikasies voorkom is dan hoog. Dan moet jy ook doodseker wees dat ‘n reun haar nie gaan raps direk na die operasie nie – dit kan ‘n  dodelike inwendige bloeding veroorsaak. Moet ook nie dink om die reun op daardie stadium te kastreer die oplossing gaan wees nie. Hy kan nogsteeds vir ‘n paar weke na sy kastrasie ‘n teef bevrug. Ek het dit al gesien!

Laaste gedagtes

Ek sien die negatiewe aspekte van ongesteriliseerde diere so gereeld dat ek maklik sterilisasie op 6 maande kan aanbeveel. Dit bly egter jou keuse of jy jou hond gaan steriliseer of nie. Ek wens wel meer mense wil betrokke raak by dierewelsynsorganisasies sodat hulle die implikasie van onverantwoordelike telings kan beleef. Babahondjies is baie oulik en lief  maar as hulle nie goeie huise kry nie is dit hartverskeurend.


Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s