HELP, MY HOND JEUK!

As jy al ooit wakker gelê het omdat jou dier se gelek en krappery jou rus versteur sal jy weet hoe frustrerend ‘n velkondisie kan wees. Ongelukkig is daar in die meeste gevalle nie ‘n kitsoplossing vir alle jeukende diere nie. Ons is vandag so gewoond aan dinge soos kitskos en kitsaflewerings dat ons dalk vergeet dat daar sekere dinge is wat nie so vinnig gebeur nie. Gits as ek van ‘n nuwe tv-reeks hou kan ek danksy Netflix die hele seisoen op een dag kyk! So terug by die velle… Daar is ‘n hele lys van moontlike redes waarom jou dier jeuk so dis belangrik om saam met jou veearts die regte roete te volg om die probleem op te los.

MOONTLIKE OORSAKE

Soos ek reeds genoem het is daar ‘n magdom redes wat jou dier kan laat jeuk. Die vel is immers die grootste orgaan wat jou dier het. Dit is die eerste linie van beskerming en as die vel nie gesond is nie kan ‘n magdom dinge skeefloop. Kom ek noem gou ‘n paar hoofgroepe wat jou dier kan laat kitaar slaan: Vlooie – As jou hond allergies is vir vlooie kan selfs een vlooi chaos veroorsaak. Kosallergie – meestal is die allergie of vir die proteine of die graan wat gebruik word. Myte en parasiete – Demodex of Sarkoptes veroorsaak die brandsiek voorkoms maar daar is ook ander gediertes soos oormyte wat intense jeuk tot gevolg het. Bakteriele infeksies – hieronder val die bekende “hotspots” waar ‘n dier homself stukkend krap en dan met sy naels bakteriele infeksies veroorsaak. Gewasse – sekere tumors kan baie jeukerig wees. Atopie – dit is wanneer die vel hiper-sensitief is vir enige eksterne faktore.

DIE REGTE PAD

Omdat daar soveel oorsake is wat ‘n gejeuk veroorsaak moet die probleem sistematies en stap-vir-stap benader word. Jou veearts sal begin met ‘n volledige geskiedenis om ‘n idee te kry van wat dalk die oorsaak kan wees. Dan sal jou dier se vel en haarskagte deeglik ondersoek word. Velskrape en plakbandmonsters, wat onder ‘n mikroskoop ondersoek word, ‘n spesiale lig wat fungi of omlope aanwys, oorondersoeke en ‘n vlooikammetjie maak deel uit van hierdie stap. Die veearts kan ook besluit om dan na ‘n fekaleflotasie te kyk om wurms uit te skakel. Die behandeling wat dan gegee word hang af van wat die veearts vind… of nie vind nie. Hopelik kan jou dier deur konserwatiewe behandeling ophou jeuk, maar daar is altyd die kans dat dit ‘n chroniese allergie is. Soms is die oorsaak nie dadelik sigbaar nie en sal die veearts met die mees waarskynlike oorsaak begin. Vlooi- en wurmbehandeling kan altyd gegee word, omdat beide die gejeuk kan vererger al is dit nie noodwendig die hoofoorsaak van die gejeuk nie. Soms is die gejeuk ook ‘n gevolg van meer as een aspek.

KOSALLERGIE

As die veearts nie ‘n fisiese rede vir die gejeuk kan vind nie gaan hy dalk voorstel dat jou dier op ‘n spesiale veldieet gesit word. Daar is spesiale kosse waar die protein so klein gemaak word (hidroliseer) dat die dier se liggaam dit nie as ‘n protein herken en dan ‘n allergiese reaksie veroorsaak nie. ‘n Goeie voorbeeld is die Hills z/d reeks en die Royal Canin se Hypo-allergenic. Dan is daar ook wat ons noem ‘n “novel” dieet, wat bestandele bevat wat nie in die algemene kosse voorkom nie. So ‘n kos sal byvoorbeeld kangaroo, eend of volstruis as enigste proteien bevat en nie hoender of bees nie. Onthou net dat ‘n gegeurde kos (byvoorbeeld volstruis-geur) nie noodwendig beteken dat slegs volstruis as proteien gebruik is nie. ‘n Volstruis-geur kos kan net ‘n klein hoeveelheid volstruis en steeds baie hoender bevat. ‘n Goeie “novel” kos is Hills d/d wat slegs eend as protein bevat. Dan is daar ook kosse en olies wat spesiaal daarop fokus om die vel se epidermislaag so gesond as moontlik te kry sodat eksterne faktore nie die vel maklik kan irriteer nie. ‘n Voorbeeld van so ‘n kos is die Hills Derm Defense, en produkte wat vis-olies bevat soos Mirra-cote en Efazol werk ook baie goed. Diere neem nie die plant-olies baie effektief op nie so sonneblom-olie is nie ons eerste keuse nie. ‘n Spesiale veldieet vat omtrent 8-12 weke om ‘n verskil te maak en mens verwag dat die gejeuk minstens 50% minder is. Dit is dus ‘n lang tydsame proses om die proefperiode vir die kos te doen. Wat baie belangerik is met kos veranderings is dat die dier dan GEEN ander bederfies tydens die proefperiode mag eet nie. As jou dier een korrel van jou ander hond se kos eet, het jy jou geld gemors met die duur veldieet en gaan jy nie weet of dit werk en of die gejeuk ‘n ander oorsaak het nie. Ek voel ek moet dalk net nog ‘n dieet aanraak wat baie gewild word… Dis dalk ‘n blik wurms wat ek nou oopmaak maar baie mense verkies deesdae om vir hulle allergiese honde self kos voor te berei. Dit is volgens my ‘n baie goeie opsie as die eienaar homself daartoe kan verbind om ‘n gebalanseerde dieet saam met ‘n voedsel-konsultant uit te werk. Ek sou egter wegbly van rou vleisprodukte. Ek weet ons diere se voorgeslagte was dalk wolwe en tiere wat beslis nie om ‘n kampvuur hulle tjoppies gaar gemaak het nie, maar ek bly maar skrikkerig vir dinge soos Salmonella. Gaar vleis is in my opinie die veiliger keuse. Jy gaan ook moet sorg dat jy verskaffers het wat organiese produkte lewer.

AS JOU DIER NOGSTEEDS JEUK

Dit help nie om jou dier dadelik vir alle moontlike oorsake te behandel nie. Daar is ‘n magdom produkte beskikbaar om te help met jeukende velle maar nie almal werk vir dieselfde probleem nie. As jy eensklaps kos verander, ‘n nuwe sjampoo gebruik, alle beddegoed verander, ‘n salfie kry, die ore skoonmaak, ‘n olie oor sy kossies spuit, Bob Martin pilletjies gee en sommer jou dier saam met die badwater uitgooi gaan jy later nie weet wat help, en wat die probleem vererger nie. So na al jou moeite gaan jy steeds nie eintlik weet wat die probleem was nie. Ongelukkig veroorsaak die stadige stap-vir-stap benadering van die veearts dat eienaars ontevrede voel as die dier nie dadelik ophou jeuk nie, of selfs weer begin jeuk. Dit gebeur selfs dat so eienaar dan na ‘n ander veearts gaan. Die probleem is dat die nuwe veearts dan weer alles van voor af gaan begin en moontlik ook dieselfde eerste stap gaan neem as die eerste veearts. Vir hierdie rede sou ek aanbeveel dat jy nie soos ‘n vlooi van een veearts na ‘n ander veearts hop nie – behalwe as jou veearts besluit om jou dier na ‘n velspesialis te stuur omdat dit ‘n gekompliseerde kondisie is. So ek stel voor jy gaan eerder vir die opvolgbesoek na jou eie veearts en kommunikeer goed sodat jy ook weet wat volgende gaan gebeur en watter stappe geneem gaan word as jou dier steeds jeuk. ‘n Baie handige idee is om ‘n jeuk-dagboek vir jou dier te begin. Skryf neer watter behandeling gegee word en gebruik dan ‘n skaal van 1 tot 5 om te sê hoeveel jou dier elke dag jeuk. Kyk na hoeveel jou dier kou, krap, lek en skuur. So ‘n dagboek kan jou en die veearts baie help om die beste behandeling te bepaal.

As iemand instap by ‘n dierekliniek sonder die jeukende dier, is hierdie ‘n paar van die produkte wat oor die toonbank aanbeveel kan word. Sonder ‘n veeartsondersoek is dit baie moeilik om te weet waar om te begin…

PASOP VIR FACEBOOK

Daar is baie gratis en maklik verkrygbare advies oor jeukende velle op Facebook beskikbaar. Die probleem is dat hoewel die mense wat advies gee dalk regtig behulpsaam probeer wees dit jou baie frustrasie kan kos omdat daar net te veel moontlike oorsake van jeukende velle is. Net omdat iemand se Jack Russel op ‘n sekere kos nie meer jeuk nie of ‘n sekere olie die oplossing was beteken dit nie noodwendig dat JOU Jack Russel presies dieselfde probleem het nie. Ek lees nou die dag hoe ‘n dame noem dat ‘n jeukende-hond onmoontlik allergies vir ‘n sekere kos is want sy het 5 honde wat dieselde kos eet en hulle makeer niks….

LAASTE GEDAGTES

Praat met enigiemand wat ekseem het en jy sal verstaan dat chroniese velprobleme ‘n realiteit is. Hou moed en vind ‘n veearts saam met wie jy en jou jeukende dier ‘n pad kan loop. Dit is dalk ‘n baie lang pad met vele paadjies maar ongelukkig is daar eenvoudig net nie ‘n kortpad as dit by velkondisies kom nie. Bly maar geduldig en probeer jou dier se vel so gemaklik as moontlik te maak met watter behandeling dan ook die beste werk.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s