LOADSHEDDING, WAT NOU?

Daar gaan die krag af! Wat nou? Nou is die perfekte tyd om nie meer skuldig te voel oor die wasgoedmandjie wat uit sy nate skeur of die botterskorsie wat jy nog moet skil en sny vir aandete vanaand nie. Ek noem graag ‘n paar idees wat jy kan doen as jy by die huis is en die krag af is.

LEER JOU DIER ‘N NUWE TOERTJIE

As jy ‘n dier soos ‘n Labrador of ‘n Skaaphond het sal dit ‘n fees vir beide wees om saam aan ‘n nuwe toertjie te werk. Dit stimuleer die dier en die eienaar om bietjie kreatief te wees! Leer byvoorbeeld jou hond om sy gunsteling speelding te gaan soek, of kruip sommer self weg en kyk hoe vinnig hy jou kan vind. ‘n Oulike toertjie wat jy vir jou kat (ja jou kat!) kan leer, is om deur jou arms te spring. Begin met jou arm op die vloer, 90 grade teen ‘n muur en lok dan jou kat met ietsie soos hoender of tuna om oor jou arm te loop. As dit goed gaan lig jy jou arm elke keer net effens hoer op sodat sy later oor jou arm moet spring vir die bederfie. Die laaste stap is dan om jou ander arm te gebruik om ‘n hoepel te vorm waardeer jou kat spring. Al het jy net ‘n vis by die huis kan jy hom ook ‘n toertjie leer! Visse is baie slimmer as wat meeste mense dink en ek het al ‘n vis geleer om deur ‘n ring te swem en uit die water te spring vir kos wat ek bo die waterlyn hou! So weet ek ook van mense wat die oulikste toertjies vir hulle voeltjies en selfs rotte geleer het! Al wat jy nodig het is ‘n bietjie kreatiwiteit en ‘n troeteldier. In my opinie is positiewe aandag deur middel van bederfies die vinnigste en lekkerste manier om diere te leer.

BEDERF JOU TROETELDIER MET ‘N TUIS-SPA BEHANDELING

As jou troeteldier meer van ‘n tv-aanhanger as ‘n avonturier is beteken dit nog nie dat jy nie iets lekkers en gesonds vir jou dier kan doen nie. Jy kan jou dier ‘n lekker bad gee, naels knip, goed uitborsel, tande borsel, ore skoonmaak en ‘n massering gee. Veral ouer honde vind baie baat by ‘n ligte massering en bietjie fisio. Die siklus van seer gewrigte loop as volg: Seer gewrigte ➡️min beweging➡️stywe gewrigte➡️seer gewrigte en so gaan dit dan aan. Deur die gewrigte stadig te manipuleer kan jy die smering in die gewrigte verbeter wat dan met die pyn gaan help. Begin by die voet en werk dan boontoe na die heup- of skouergewrig. Daar is oulike masseringsborsels beskikbaar wat jou dier se spiere goed masseer terwyl die borsel ook help vir ‘n blink pels.

KOM ‘N BIETJIE UIT

Deesdae is daar die oulikste parke waarheen jy jou honde kan vat. Die parke is volledig afgesper en van hulle het selfs ‘n gesellige restaurant waar jy ‘n melkskommel kan geniet terwyl jou viervoete die wêreld verken en nuwe maatjies maak. Almal wat ek ken wat na hierdie tipe parke gaan kan nie uitgepraat raak oor hoe lekker dit is nie. Die honde hardloop rond, swem in die dam, kuier met ander honde en kan selfs na die tyd ‘n vinnige bad kry voor jy hulle weer in jou kar laai. As jy nie so park naby jou het nie kan jy altyd net ‘n lekker draai om die blok stap en so bietjie vars asem skep. Selfs ‘n kort stappie het vele gesondheidsvoordele vir beide dier en eienaar. As jou honde nog nie aan leibande kan stap nie stel ek voor dat jy dit die eerste “toertjie” maak wat jy hulle leer!

AS JY NIE JOU EIE DIERE HET NIE

Jy het nie jou eie troeteldier tuis nodig om bietjie positiewe diere-aandag te geniet nie. Studies wys dat diere kan help met stress, hoe bloeddruk en hoe harttempo. Dit is dus goed vir jou gesondheid om na jou naaste dierewelsynsorganisasie te gaan en daar met van die diere te speel. Die arme diere is altyd uitgehonger vir aandag en sal die onverwagse liefde só waardeer. Honde is natuurlik glad nie skaam om hulle waardering te wys nie so jou beker sal ook oorloop na so sessie! Van die organisasies het selfs spesiale paadjies wat jy met die honde kan gaan stap. Dan kan jy ook ‘n gunsteling boek saamvat en bietjie by die katte gaan sit en lees. Die katte wat aandag wil hê sal maar te bly wees vir ‘n gewillige mens op wie se skoot hulle kan lê en purrrrr.

STILTETYD

Ek bedoel nou nie noodwendig met die woord stiltetyd dat jy vir jou hond van Noag se Ark moet lees nie, maar dat jy letterlik moet stil raak. Ons lewe in ‘n baie gejaagde wêreld waar ons verkeerdelik glo dat hoe besiger ons is, hoe meer suksesvol ons is en hoe beter dit met ons gaan. Neem hierdie gegewe tyd om rustig by jou dier te sit en bietjie na te dink oor alles wat in jou lewe aangaan. Dink oor jou geloof, jou familie en geliefdes, jou werk, jou toekomsplanne… As jy dit so verkies kan jy jou gedagtes neerskryf, maar as jou dier met sy kop op jou skoot lê verkies jy dalk eerder om bietjie sy ore te streel. As jou gedagtes jou egter bang maak kan jy dalk eerder op mooi herinneringe of selfs jou drome fokus, sodat dit ‘n rustige, salige oomblik saam met jou geliefde troeteldier is. Ek self het nie hierdie gawe nie maar ek weet party mense kan so stil sit en aan absoluut niks dink nie. Om so met leë gedagtes te verkeer is blykbaar ook ‘n fantastiese manier om jou battery weer nuwe krag te gee!

VIR DIE WAT WONDER

Ja, ek het hierdie hele blog geskryf gedurende loadshedding…. So as jy hou van skryf is dit ook ‘n lekker aktiwiteit vir wanneer die krag af is 😋

1 thought on “LOADSHEDDING, WAT NOU?”

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s