Vreemde veeartsverhale

Elkeen wat al by ‘n veearts gewerk het sal jou vertel dat mens soms nie weet of jy moet huil of net moet lag vir die gekkigheid nie. Die vreemdste goeters gebeur wraggies in ‘n kliniek! Van snaakse pasiënte tot ongelooflike telefoongesprekke. Kom ek deel so paar. Jy moet maar self besluit of jy dit glo….

Die gesegde lui “leë blikke maak die grootste geraas”, maar ek kan jou verseker dat die ongelukkige Pitbull wat sy kop in ‘n verfblik gedruk het beslis nie stil was nie! Die nuuskierige agie het nog gewonder of die verf so lekker proe soos dit ruik toe hy besef dat hy nou vassit. So daag die arme blikkop toe by ons op en moes ons die verfblik met ‘n ystertang afknip. Dit was gelukkig darem ook ‘n suksesverhaal en die Pittie het met net ‘n verfkol op die oor daarvan afgekom.

Nou die dag kom daar ‘n groot reunhond vir sy jaarlikse enting. Die reun besluit om ons kliniek te merk sover hy loop. Ons ontvangsdame skryf sy naam op die lys en vra of hulle asseblief buite met hom sal wag. Ek loop na die ontvangsdame, opsoek na ons werker om my agter in die hospitaal te help. Ek vra toe die ontvangsdame of sy dalk weet waar die werker is, maar sy verstaan my verkeerd en dink ek vra waar die reunhond is . Ek kon skaars asemhaal van die lag toe sy my antwoord: ” Jy kan hom maar inroep, maar ek het hom buitentoe gestuur omdat hy op alles hier binne piepie.”

Ek weet self nie of die telefoongesprek wat ek die een dag met ‘n dame gehad het dalk net ‘n fop-oproep was nie maar hier volg die gesprek lossies soos ek dit onthou. Die dame bel en vra of ons genadedood doen. Ek bevestig dat ons dit wel doen en verduidelik vir haar die proses. Sy vra toe of dit moontlik is om self die verassing te reël, en hoe dit dan die koste gaan affekteer. Ek sê toe dat dit afhang van hoe swaar die dier is omdat dit gaan bepaal hoeveel spuitstof ons gaan gebruik. Hoe meer spuitstof, hoe duurder kos dit. Ek vra toe watter tipe hond dit is en hoeveel hy omtrent weeg. Haar antwoord: “Nee dis nie vir my hond nie, dis vir ‘n mens.”

My volgende 2 vreemde oproepe was snaaks, maar ek kan ook verstaan dat iemand wat nie by ‘n veearts werk nie dalk hieroor kon wonder. ‘n Dame bel my en sê dat haar hondjie met ‘n hartgeruis by ‘n ander veearts gediagnoseer is. Sy wil net seker maak of dit waar is. Semi dik van die lag verduidelik ek toe dat ek nie ‘n hartgeruis oor die foon kan hoor nie maar dat sy die hondjie moet inbring dat ons met ‘n stetoskoop kan luister. Dan was daar ook die meneer wat wou weet of hy net halfprys vir sy hond se kastrasie kan betaal aangesien die hond net een testikel het. Die ironie is dat die operasie om die ander testikel in die buik op te spoor juis duurder is as ‘n gewone bilaterale kastrasie.

Dit herinner my nou sommer aan nog ‘n oproep wat ek jare gelede met ‘n dame gehad het. Sy het met ‘n fluister stem gevra of sy asseblief ‘n kastrasie vir haar reun kan bespreek. Sy fluister omdat sy nie wil hê haar man, en sy vriende wat daar kuier, moet hoor dat sy die hond gaan kastreer nie. Een van die mans het haar egter afgeluister en toe luidrugtig kapsie gemaak. Die spul lawaai toe so dat die vrou op ‘n stadium dreig dat as hulle nie nou stilbly dat sy die afspraak kan maak nie sy hulle sommer almal saamsleep om gekastreer te word. Doodse stilte…

“My hond het nie vlooie nie”. As ek ‘n R5 gehad het vir elke kliënt wat dit al gesê het was ek vandag ryk. So gebeur dit dat ‘n hond wat vreeslik jeuk inkom vir ‘n konsultasie. Dokter ondersoek die hondjie en verduidelik die verskeie redes waarom ‘n hondjie kan jeuk. Hy sê ook dat die rou kol reg bo die hondjie se stert ‘n sterk aanduiding is vir vlooibyt-allergie. Die kliënt sweer hoog en laag dat sy hond beslis nie vlooie het nie. Dokter kry sy spesiale kammetjie en begin die hondjie deur kam. Nie lank nie of hy spoor ‘n vlooi op en wys dit vir die verdwaasde eienaar. “Maar dokter, hierdie hond slaap dan elke aand saam met my in die bed!” Praat van ‘n vlooi in die kooi!

Ons almal weet dat diere soms die vreemdste goed kan eet. Toe ek ‘n dag by ‘n vriendin gaan kuier vertel sy my dat hulle Boerboel gereeld in die huis in sluip om hulle kombuislappies te eet. Dan kom die lappies skielik weer op die grasperk te voorskyn, effens gedraai en ‘n hele ander kleur! So het ons ook op ‘n dag ‘n x-straal geneem van ‘n Bearded Dragon wat vermoedelik iets vreemds ingesluk het. Die x-straal wys dan ook duidelik die albaster wat die snip ingesluk het.

Dan het ek ook al ‘n hondjie gesien wat hoog was. Nee ek bedoel nie ‘n hond met ‘n lang nek nie, maar ‘n hondjie wat so hoog soos die takke was! Hierdie hondjie het die dame se daggateesakkie beetgekry en gulsig verorber. Hoewel daar sekere CBD-produkte vir honde beskikbaar is was die hoeveelheid wat die arme woef gekry het helemaal te veel. Sy het met verstarde oë ingekom en was helemaal bedwelm. Die situasie was natuurlik snaaks en ons het onderlangs gegiggel en grappies gemaak, maar die werklikheid is dat die hondjie ernstig vergiftig was en verskeie medikasie en binneaarse vloeistof moes kry om haar lewe te red. Gelukkig kon ons die hondjie na 3 dae ontslaan en was sy in die wolke (of moet ek sê plat op die aarde) om weer haar eienaar te sien!

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s