HONDE- DIE BYTENDE WAARHEID

Ek lees vandag op ‘n bekende nuuswebwerf van mense wat deur honde aangeval is. Dit voel vir my of daar elke week nuwe gevalle is van mense, en dan veral kinders, wat deur honde aangeval word. Hoe voorkom jy dat jou honde iemand aanval, en hoe hou jy jou kinders veilig?

AS HY TANDE HET KAN HY BYT!

“Toemaar, hy sal nie byt nie”, hoe gereeld hoor of sê jy dit self? Ek gebruik dit gereeld as iemand versigtig na Dexter kyk. Die probleem met hierdie stelling is dat diere wat meestal lief en vriendelik is wel sal byt as dit vir hulle nodig is. As hy tande het KAN hy byt! Honde byt vir verskeie redes, nie net omdat hulle aggressief van aard is nie. Kom ons kyk saam na ‘n paar redes waarom honde byt, hoe om dit te voorkom en ook na die waarskuwingstekens wat honde toon voor hulle byt.

ANGSTIGHEID

As jou hond homself in ‘n vreemde situasie bevind of vreemdelinge skielik aan hom wil voel of vat kan dit dalk te veel wees vir hom. Honde wat nie gewoond is aan kleinkinders nie sal meestal tekens wys dat hulle ongemaklik voel as hulle kinders die eerste keer sien. Dan is daar ook plekke soos die veeartskliniek of die hondewassery waar jou dier skielik onseker kan voel. As jou hond onseker is en voel dat hy in ‘n hoek gedruk word kan hy byt om homself te probeer beskerm teen die onbekende. Wees simpatiek teenoor jou hond se angstigheid en probeer om jou hond van jongs af aan verskeie situasies bloot te stel, sodat hy nie later aggressief optree as hy met iets nuuts gekonfronteer word nie. Daar is ook verskeie natuurlik en veilige kalmeermiddels beskikbaar waarmee jy jou hond se stress kan verminder. ‘n Goeie hondeskool sal ook klem daarop lê om jou hond aan allerlei dinge gewoond te maak soos dat iemand hulle voete hanteer vir naels knip en binne-in hulle mond voel vir ondersoeke.

Wedersydse respek lei tot liefdevolle verhoudings.

FRUSTRASIE EN BESITLIKHEID

Party honde voel dat geen ander dier of mens naby sy erf mag kom nie omdat hy dit wil beskerm. ‘n Hond kan ook hierdie beskermingsgedrag rondom ‘n speelding, kos of selfs hulle eienaar vertoon. ‘n Goeie manier om hierdie gedrag te beheer is om jou hond te leer om iets te los op jou bevel. Maak ook van jongs af jou hond gewoond daaraan dat jy met sy kos mag karring terwyl hy eet. Kom ons praat ook net gou oor verplaasde aggressie…. Daar is sekere rasse soos Bull Terriers wat besitlikheid te ver vat. Verplaasde aggresssie is wanneer ‘n hond sy woede op ‘n onskuldige persoon, dier of voorwerp uithaal. Verplaasde aggressie is uiters gevaarlik omdat ‘n hond so gefrustreerd kan raak in sy onvermoë om dit wat hy wil aanval by te kom dat hy enigiets of iemand sal byt wat net naby genoeg is. Die Bull Terrier agter die hek wil graag die Jack Russel wat verby die hek loop hap om sy erf te “beskerm”. Omdat hy nie die Jack Russel kan bykom nie, sal hy dan op die naaste slagoffer fokus en dalk sy beste maatjie of sy eienaar byt. Ek was self al in die situasie waar ‘n Boerboel my ondersoekhandskoen skoon van my hand af gepluk het omdat ‘n ander hond te naby aan sy hok verby geloop het. Ek was net dankbaar dat dit nie my hele hand was nie! As jy opmerk dat jou hond histeries raak as hy ander honde of mense wat verby die huis stap sien gaan drastiese stappe geneem moet word. Ek sou begin met ‘n kastrasie/sterilisasie en dan hondeskool waar jou hond ordentlik gesosialiseer kan word. In erge gevalle kan ‘n dieregedragskenner se hulp ingeroep word. Ek weet van gevalle waar honde mekaar doodgebyt het weens verplaasde aggressie. Daarom voel ek vir mens en dier se veiligheid moet dit nie net geignoreer word nie.

PYN

Pyn is die geval waar ‘n meestal liewe dier skielik sal hap. Omdat alle honde in hul lewe pyn kan ervaar moet mens altyd altyd altyd versigtig wees met kleinkinders rondom honde. Die meeste gevalle wat ek van weet waar ‘n hond ‘n kind onverwags gebyt het was dit omdat die hond, meestal ouer, oorpyn of artritis het. Kinders kan uiters geniepsig wees en die hond moet die kind laat weet dat hy seer het. Die probleem is dat kinders nie die waarskuwingstekens kan sien wat honde gee nie. Vir hierdie rede voel ek baie kleinkinders moet nooit alleen by honde gelos word nie. ‘n Ouer persoon kan vinnig sien as iets die hond pla en die kind weghaal. As jou dier skielik grommig optree is ‘n veeartsbesoek in orde om te bepaal waar die hond pyn ervaar. Nog ‘n voorbeeld van pyn is honde wat deur ‘n kar raakgery is of soortgelyke trauma ervaar het wat na die eienaar hap as die hom probeer help of optel. Behalwe as jou dier wild bloei is dit beter om jou dier eers kans te gee om tot verhaal te kom voor jy hom net gryp om na die naaste veearts te jaag. Praat in ‘n rustige stemtoon met jou hond om hom te kalmeer voordat jy hom versigtig met ‘n handdoek optel. Histerie gaan in hierdie geval die saak vererger so haal self eers asem voordat jy jou hond ook histeries maak.

MOEDERINSTINK

Hier praat ek nie van jou ma wat stink of slegte badgewoontes het nie. Tewe met werpsels kan aggressief optree teenoor mense en ander diere om hul werpsel te beskerm. Dit is ‘n belangerike en nodige instink wat gerespekteer moet word. As jou teef beskermend optree nadat sy kleintjies gekry het moet sy meer privaatheid kry. Skuif haar na ‘n rustige area waar sy nie deur ander diere of gereelde mens-besoekers gesteur gaan word nie. As jou teef ongemaklik voel as haar kleintjies hanteer word moet hulle minimaal hanteer word. Sy sal gou genoeg ontspan en meer mense om haar toelaat as sy die eerste paar dae met rus gelaat word. Daar is natuurlik tewe wat juis baie aandag soek sodra hulle kleintjies kry omdat hulle onseker is oor die nuwe verskynsel. As jou teef so optree kan jy haar gerus met ekstra liefde en aandag behandel. In kort moet jy net presies doen wat jou teef wil hê – baie soos jy ‘n swanger vrou moet behandel….

JAG EN HERDERINSTINK

Honde het ‘n baie sterk instink om enigiets wat van hulle af weghardloop te jaag en dan in die opwinding van die jag dood te byt. Ek het ‘n keer gelees dat Hiënas hierdie instink uitbuit om honde te vang. Die hiëna hardloop gemaak verskrik weg van die hond af en sodra die hond op volle spoed agter die hiëna aanhardloop, swaai die hiëna eenvoudig om en gryp die hond. Hierdie instink is ook wat maak dat honde agter karre en fietsryers aanhardloop.
As jy honde en hase het wat saamleef sal jy dalk ook al gesien het hoe die 2 vreedsaam kan saamleef totdat die haas skrik en van die hond af weghardloop. Die nagevolg is baiemaal dodelik. Leer jou kind dus van jongs af om nooit van ‘n hond af weg te hardloop nie. Honde is baie vinniger as kinders en hulle sal die gillende kind jaag en dalk selfs hap net omdat die kind weghardloop. As jy met jou eie hond stap en daar ‘n hond los op straat loop is dit beter om met jou hond stil te staan en nie vinnig te probeer weghardloop nie. Die rondloper gaan dalk aan julle kom ruik maar behoort dan weer die pad te vat. Stap maar altyd met ‘n stok of iets om jou en jou hond te beskerm op stappies, omdat dit wel soms gebeur dat ‘n rondloper skielik op jou afgestorm kan kom. In so geval moet jy maar doen wat nodig is om jouself en jou hond te beskerm. In dieselfde asem kan ek noem hoe belangerik dit is om te sorg dat jou hond nie self uit die erf uit kan kom om amok te veroorsaak nie. Die ander instink wat tot happe lei sien ons by rasse soos die Border Collies wat ‘n kind probeer stuur soos hulle geteel is om skape bymekaar te maak. As die kind dan nie gaan waar die Collie hom wil heenstuur nie sal die Collie na die kind hap om sy gesag af te dwing. As jy so ras besit is dit nodig om die hond van jongs af ordentlik af te rig sodat hy weet dat mense nie skape is nie.

DIE WAARSKUWINGSTEKENS

Honde byt nie sommer net uit die bloute nie, alhoewel hulle jou blou kan byt! As jy mooi oplet sal jy gou leer om die waarskuwingstekens te sien en dan daarvolgens op te tree

  • Ore wat plat teen die kop lê
  • Vermyding van oogkontak (draai die kop weg)
  • Die wit van die oë wat sigbaar is
  • Die hond lek sy lippe en gaap aanhoudend
  • Die hond grom of wys sy tande
  • Die hare op die hond se rug staan regop
  • Die stert is tussen die bene of swaai stokkerig
  • Die lyf is stokstyf

Wees maar altyd versigtig as jy ‘n nuwe honde ontmoet en respekteer hulle spasie. As jy kinders het leer hulle ook om honde met respek te behandel en wees maar altyd versigtig vir “power breeds” (Rottweilers, Pitt Bull Terriers, Bull Terriers ens.) Nie omdat hulle meer geneig is om te byt nie maar omdat hulle potensieël baie meer skade aan ‘n kind kan veroorsaak.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s