HOE OM BABAHONDJIES EN KATJIES HANS GROOT TE MAAK

Ek het laasweek die oulikste klein katjie gekry wat ek nou hans grootmaak. As diereverpleegster kry ek gereeld die kans om babadiertjies so groot te maak. Wat is nodig om so hondjie of katjie te versorg ?

Ontmoet vir Katie!

In my opinie is daar vier basiese behoeftes waaraan jy aandag moet gee om ‘n suksesvolle pleegmamma vir babadiertjies te wees.

1. Voeding

In Suid-Afrika is daar 2 opsies wat ek graag gebruik. Die een is van Royal Canin en kom met ‘n bottel en tiete en die ander opsie is Kyron se Puppy of Kitty Milk. Ek het al verskeie hondjies en katjies met beide die poeiermelk groot gemaak en kan dus beide aanbeveel. Dit is baie gerieflik as jy een of twee kleintjies het omdat jy klein hoeveelhede op ‘n slag kan aanmaak. As jy egter ‘n groot werpsel het wat jy moet grootmaak, soos vyf Boerboelhondjies,  sal ek eerder voorstel dat jy die volgende meer ekonomiese resep gebruik:

1 Blik ideal melk, 1 blik water – meet die water in die ideal melk blik, 1 eiergeel – maak lekker skuimpies vir jouself met die eierwit, 5ml glukose poeier – goedkoop verkrygbaar by die apteek en 5ml Protexin poeier – ‘n probiotika poeier wat in elke huis moet wees. Meng alles saam, gooi deur n sif en bewaar dit in die koelkas. Gebruik dan soos nodig.

Hoe gereeld en die hoeveelheid wat jy moet voer gaan afhang van hoe oud en hoe groot die kleintjies is. Hondjies drink in die eerste week tussen 3ml en 15ml tydens elke voeding so 2-3 ure uitmekaar. Kleinrashondjies gaan natuurlik heelwat minder as grootrashondjies drink so kyk maar wanneer die hondjies se buikies mooi rond is en dit nie lyk of hulle nog belangstel in melk nie. Moet egter nie die hondjies oorvoer sodat hulle magies so rond soos bosluise lyk nie – dis helemaal onnodig. Soos die hondjies ouer word gaan hulle al hoe meer tydens elke voeding drink en ook minder gereeld. Teen die 3de week kan mens begin om vir hulle vaste kossies soos Puppy Mousse of saggemaakte hondekos aan te bied. Op 4 weke drink hulle tussen 25ml en 250ml tydens elke voeding en slegs elke 6 ure.

Royal Canin se reeks

Katjies drink in die eerste week tussen 2ml en 4ml tydens elke voeding en ook 2-3 ure uitmekaar. Soos met die hondjies kan mens op 3 weke begin om Kitten Mousse of saggemaakte katjiekos vir hulle aan te bied. Teen 4 weke sal die katjies tussen 10ml en 15ml drink elke 6 ure.

Kyron se reeks

Dit gebeur maklik dat die hondjie of katjie binne die eerste dae gekonstipeerd raak. Dit is omdat die hondjie of katjie se magie eers gewoond moet raak aan die nuwe melk. ‘n Goeie wenk om konstipasie te voorkom is om die melkies die eerste 2 dae wat jy dit vir die hondjie of katjie gee eers te verdun. Gebruik dus vir die eerste twee dae dubbel die hoeveelheid water. Alternatiewelik kan jy ‘n druppel olie by een van die voedings gee – as jy te veel gee gaan jy baie SPUIT wees! – Dis nie ‘n spelfout nie ;P

Individualisme is ook ‘n werklikheid in die diereryk. Sommige diertjies sal sommer dadelik uit ‘n bottel drink maar met ander gaan mens meer kreatief moet wees. Die katjie wat ek tans grootmaak haat ‘n rubber tietie maar suig baie gretig aan ‘n plastiek inspuiting. Dan het ek ook al ‘n piepklein baba Yorkie gehad wat ek met ‘n sponsie gevoer het. Ek het ‘n grimeersponsie geknip sodat hy ‘n punt maak en dan die sponsie deurweek met melk. Die yorkie het dan die melk uit die sponsie gesuig.

Katie drink te lekker!

2. Eliminasie

Babahondjies en katjies kan nog nie self urineer en defekeer nie en moet dus voor en na elke voeding gestimuleer word. Die mees algemene manier is om met ‘n stukkie watte waarvan slegs die puntjie natgemaak is liggies te stimuleer sodat die hondjie of katjie kan urineer en defekeer. As jy ‘n groot werpsel het kan dit egter duur raak aan watte… ‘n Handige wenk is om die diertjie bo ‘n wasbak of toilet te hou en dan met ‘n nat oorstokkie te stimuleer. Die hondjie of katjie se urine en mis val dan so dat dit maklik weggespoel kan word en jy dit nie met watte hoef optevang nie. Wees altyd sagkens sodat jy nie die diertjie se deeltjies seer maak nie – onthou maar dat dit ‘n uiters sensitiewe area is!

3. Hitte

Dis baie belangerik om seker te maak dat die hondjie of katjie warm genoeg is. ‘n Koue diertjie sal nie melk drink nie en dus verkluim en verhonger. In die somer is ‘n boontjie- of ryssakkie wat jy sommer self kan maak meer as voldoende. In die winter gaan jy egter in die nag moet opstaan om die sakkies gereeld weer warm te maak omdat dit net ‘n paar ure warm bly. Wat vir my fantasties werk in die winter is die Kyron SnuggleSafe. Dit is net so snoesig soos wat dit klink en bly gemaklik vir 8 ure warm. Klein Katie begin sommer spontaan pur as ek haar op die SnuggleSafe in haar kombersie sit. Ek is maar versigtig vir warmwatersakke omdat hulle soms kan lek of selfs bars. Ek kan net dink hoe dit moet voel as jy die oggend op ‘n nat of dalk selfs gebrande diertjie moet afkom…

4. Liefde en aandag

Pasgebore kleintjies het minimale hantering nodig maar sodra hulle ogies begin oopgaan en hulle meer beweeglik word gaan hulle nuuskierige geaardhede kop uitsteek. As jy makdiertjies grootmaak is dit goed om hulle gereeld te streel en aandag te gee, sodat hulle gewoond aan menslike hantering en reuke kan wees. Laat hulle ook toe om in ‘n veilige area rond te loop en te verken sodat hulle gestimuleer kan word. As jy ‘n vriendelike troeteldier het wat hulle kan help sosialiseer gaan dit hul aanpassing by hul nuwe huise baie makliker maak.

Dexter hou ‘n waaksame ogie oor klein Katie

Om hondjies en katjies groot te maak is ‘n heerlike voorreg maar ook harde werk. Veral in die begin is die “pajama-drill” nogal rof! Gelukkig slaap hulle baie vinniger as kinders deur die nag, meestal al na 3 weke. Hier is ‘n video van Katie!

2 thoughts on “HOE OM BABAHONDJIES EN KATJIES HANS GROOT TE MAAK”

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s