ALLES OOR JOU HOND SE ORE

Honde het ore. Honde het ook hare maar dis nie waaroor hierdie blog gaan nie. Jeukende ore is ‘n algemene kwaal wat jou hond se lewe kan versuur. So hoe verseker jy dat jou hond se ore ‘n bate en nie ‘n las vir jou hond en jou beursie word nie?

Gesonde ore is mooi ligpienk binne, het nie ‘n vreemde reuk nie en is nie vol oorwas nie. Dit is nie seer as jy aan die ore vat nie en is ook nie so vol hare dat jy nie daarin kan kyk nie.

Daarinteen is ongesonde ore donkerrooi binne, ruik na vrot brooddeeg wat in die son vergeet is en kan jy baiekeer die rooibruin was sien wat in die oor saamkoek. Jou hond krap gereeld sy ore en skud die kop oormatig. Hy kan selfs sere onder sy ore kry soos hy sy ore probeer krap.

Die anatomie – let op die L-vorm van die oorkanaal

Sekere rasse soos Spanjoels en Worshonde wat hangende ore het se risiko vir oorprobleme is hoër as honde met regopstaande ore. Verder is daar ook rasse wat baie hare in hul ore het soos die Franse poedels en Yorkshire Terriers wat ook problematies kan wees.

As jou hond gereeld gebad word of gereeld swem is dit nodig om elke nou en dan die ore skoon te maak of druppels in te sit om die oor se ph weer reg te kry. As jou hond egter net ‘n klein bietjie oorwas het is dit beter om nie in te meng nie. Die oorwas is die oor se natuurlike manier om homself skoon te hou. Oorwas vang gemors vas en word dan uitgeskud. As daar egter te veel gemors of ‘n infeksie in die oor is, is inmenging wel nodig.

As jou hond ‘n ras is met baie hare in die ore moet die ore gereeld ondersoek word om probleme te voorkom. Om die hare sommer net te pluk terwyl jou hond nie onder narkose is nie is ‘n pynlike prosedure! Daarom sou ek nie aanbeveel dat dit gereeld gepluk word tensy daar ‘n probleem is nie, en dan ook net onder narkose. Dit gaan dalk nou en dan nodig wees aangesien hulle soveel hare binne-in die ore het, dat die oorwas nie soos normaal uitgeskud kan word nie. Wat dan gebeur is dat die vuilheid wat saam met die oorwas uitgeskud moet word dan vasgevang word en in die oorhare koek. Dit is dan die ideale omgewing vir bakterië om te groei. So as jou hondjie baie hare in sy ore het en dit begin so vuil raak dat ‘n oorskoonmaak tuis nie help nie is dit tyd om ‘n afspraak by jou veearts te maak.

Daar is verskeie redes waarom jou hond se ore kan jeuk. Oormyte is ‘n algemene probleem wat gereeld by jonghondjies voorkom. Met ‘n otoskoop kan mens die klein wit goggatjies sien wat in die oorkanaal baljaar. Gelukkig is daar baie goeie produkte wat korte mette van die oormyte sal maak. Ek sal wel aanbeveel dat jy al jou diere saam behandel aangesien oormyte aansteeklik is.

Gisselle of ook genoem malessezia kan sommer vinnig die oorhand kry in jou hond se oor. Dit kan jou hond se oor jeukerig maar ook baie pynlik maak omdat dit meestal hand aan hand met ‘n bakteriele infeksie loop. Om dit te diagnoseer gaan jou veearts ‘n smeer maak van dit wat binne die oor is en onder ‘n mikroskoop bestudeer. Die behandeling kan slegs deur ‘n veearts voorgeskryf word aangesien dit ‘n antibiotiese oorsalf is. Soos met alle antibiotika is dit uiters belangerik om die kursus te voltooi, al skud jou hond nie meer sy ore nie.

Medikasie moet diep in die oor gespuit word

As jou hond se oordrom gebars is kan dit middeloorinfeksie veroorsaak. Daarom is dit belangrik dat jou veearts elke keer ‘n ordentlike ondersoek doen en ook elke keer in jou hond se ore kyk voordat daar oormedikasie gegee word. Daar is sekere medikasie wat liefs nie by ‘n gebarste oordrom gebruik moet word nie, soos peroksied!! Verstaan dus as jou veeartspersoneel weier om geskeduleerde oormedikasie sommer oor die toonbank aan jou te verskaf.

Dan is daar nog ‘n nare kondisie wat deur jeukende ore veroorsaak kan word. ‘n Othematoom is wanneer ‘n hond se hele oorskulp opswel as gevolg van ‘n gebarste aar in die oor (blomkoolore soos by rugbyspelers). Die aar bars weens trauma. Dit kan gebeur as die hond sy ore oormatig skud omdat dit vreeslik jeuk maar dit kan ook weens iets soos ‘n geniepsige byt deur ‘n ander hond veroorsaak word.

Om ‘n Othematoom suksesvol te behandel moet die hond onder volle narkose gesit word. Die oorskulp word dan gedreineer en styf toegewerk om te voorkom dat die oor weer opswel. ‘n Baie effektiewe tegniek is om klereknope aan weerskante van die oorskulp vas te werk. Die knope bied ‘n groter oppervlak as gewone steke en lyk ook sommer vrolik. Dis dalk die enigste keer wat jou hond soos ‘n kersfeesboom gaan lyk. Sodra die oorskulp genoeg hegweefsel gevorm het kan die knope weer uitgehaal word. Dis natuurlik nodig dat die primere probleem wat die othematoom veroorsaak het ook behandel word sodat die hond nie meer sy ore skud nie.

Om jou hond se ore skoon te maak moet die volgende stappe gevolg word:

  • Flap jou hond se oor om sodat die oor op die voorkop lê en die oorkanaal oop is
  • Drup ‘n paar druppels oorskoonmaakmiddel in die oor in – moenie dat die punt van die bottel aan die oor raak en vuil word nie aangesien dit weer gebruik kan word
  • Masseer die oorkanaal van buite af met jou duim en wysvinger om die oorwas los te kry
  • Vee die sigbare vuilheid uit die oorskulp met skoon watte
  • Jou hond sal die was wat diep is self uitskud
  • Beloon jou hond met ‘n gunsteling bederfie

As jou hond ook medikasie van die veearts ontvang het kan jy dit insit nadat die ore skoongemaak is en daar genoeg tyd verloop het dat jou hond al die skoonmaakmiddel uitgeskud het. As jy medikasie in ‘n vuil oor gooi sit dit net aan al die was vas sonder om veel van die oorweefsel te behandel. Maar as jy die medikasie te gou na die oorskoonmaak insit gaan dit deur die oorskoonmaakmiddel verdun word. Die ore gaan maksimum driemaal ‘n week skoongemaak word terwyl die medikasie meestal tweemaal per dag gebruik moet word. Beplan dus die dae wat jy die oor eers gaan skoonmaak sodat jy genoeg tyd het om ook die medikasie te kan gee. Die oorweefsel is baie sensitief so moenie die skoonmaak oordoen nie.

Hoe om vir jou hond oormedikasie in te sit:

  • Flap jou hond se oor om sodat die oor op die voorkop lê en die oorkanaal oop is
  • Plaas die oormedikasie se tuit tot diep in die oorkanaal – die oorkanaal loop met ‘n L-vorm so jy kan nie met ‘n reguit tuit die oordrom seermaak nie
  • Masseer die oorkanaal van buite af met jou duim en wysvinger om die medikasie goed te versprei
  • Hou jou hond vir ‘n paar minute besig sodat hy nie dadelik die medikasie uitskud nie – ‘n Speelding met katjiebotter of ‘n vinnige stappie om die blok is dalk net die ding

Onthou dat oorinfeksies uiters pynlik kan wees, so wees maar geduldig met jou hond as hy nie wil stilsit nie. Probeer eerder sy aandag aflei met ‘n lekker bederfie.

Dan is daar nog ‘n “kondisie” waar eienaars vra of ons iets het vir die hond se ore. Maar vir hierdie gevalle stel ons meestal opleiding voor want ons het nie medikasie wat help as jou hond blompotte vir ore het nie!

2 thoughts on “ALLES OOR JOU HOND SE ORE”

    1. ‘n Oorstokkie kan gebruik word om materiaal te verkry om vas te stel wat in die oor is. Maar dit is te grof om herhaaldelik die oor diep binne skoon te maak. Die binnekant van ‘n oor is baie sensitief.

      Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s