Wat om te doen as jou hond of kat opgooi en diarree het

As jy dink jy kan nie vinnig of maklik opstaan as jy slaap nie kry net ‘n naar hond of kat in jou kamer en jy sal sien dat jy vinniger as ‘n ninja kan beweeg! Net soos mense kan honde en katte skielik siek word en die nagevolge op jou vloer beland. Maar wanneer is dit ‘n noodgeval en wanneer kan jy jou dier sommer self met tuisbehandeling help?

Hier in Suid-Afrika is dit nodig om effens meer paraat te wees ten opsigte van braking en diarree, omdat dit ook ‘n simptoom van organofosfaatvergiftiging is. Dit word ook two-step genoem omdat jou dier nadat hy dit ingekry het na twee treë omkap. So as jou dier skielik van perdfris en gesond na dodelik siek verander stel ek voor jy jaag dadelik na jou naaste veearts. ‘n Kenmerkende simptoom van vergiftiging is dat die dier spiertrillings het. As jou dier binne slaap en dan skielik siek raak nadat hy buitentoe is om ‘n draai te loop klink dit baie verdag na vergiftiging. Moenie tyd mors en iets tuis probeer nie, bel dadelik jou veearts en laat weet dat jy oppad is! Of jaag na jou naaste 24-uur dierehospitaal.

Braking en diarree is ook baie algemeen by jonger hondjies en katjies. Hulle immuniteit is nog nie so sterk nie en kan daaroom vinnig siek word. Die volgende is moontlike oorsake: wurms, katgriep, verskeie patogene waarvoor hulle vatbaar is, asbliksiekte (as hulle gemors uit die asblik of tuin eet), skielike kosverandering (nuwe huis = nuwe kos), inflammasie van die maag of derms, of net as hulle te veel eet. So hoe besluit jy wat om te doen? Dit is natuurlik altyd die veiligste om jou dier na ‘n veearts te neem.

Jy kan egter besluit om na eenkeer se braking eers te wag en te kyk of die kondisie vererger – ek bedoel ‘n paar ure wag, nie ‘n paar dae nie… As jy weet dat jou dier iets snaaks geëet het of op ‘n nuwe kos is, is dit nie nodig om paniekerig te raak oor ‘n omgekrapte maag solank die dier verder nog goed lyk.

Omdat jong diere nie veel reserwes het nie moet jy eerder pro-aktief optree en nie lank wag nie. As jou jong dier nie ten volle ingeëent en ontwurm is nie (dit is 3 entings en jou dier moet minstens 3 maande oud wees om almal te kon ontvang) en braking met bloederige diarree het kan dit moontlik katgriep (parvo) wees. Katgriep is ‘n dodelik virus so moet asseblief nie internetraad volg nie. As jy vermoed dat jou hondjie moontlik katgriep het is spoedige optrede noodsaaklik. Besoek jou veearts en volg sy instruksies noukeurig – skryf dit neer as jy bang is jy vergeet dalk iets. Enige maagkondisie baat by goeie verpleegsorg!

Aan die ander kant van die spektrum is ons ouer diere. Net soos jongdiere is hulle ook vatbaar vir maagaandoenings en moet dit eerder vroeër as later behandel word. By hulle kan ‘n bloedmagie ook maklik ontwikkel. Omdat ouer diere oor die algemeen langer vat om van ‘n maagaandoening te genees help dit hulle baie om op ‘n drip te wees. Sodoende dehidreer hulle nie.

By ouer honde kan braking en diarree ook ‘n indikasie wees dat daar organe is wat nie meer goed funksioneer nie en daarom is dit beter om hulle eerder na ‘n veearts te neem. Soms is bloedtoetse nodig om te verseker dat daar nie ernstige skade is nie. Nierversaking is ongelukkig baie algemeen by ons ouer katte en die kondisie het ingrypende behandeling nodig. Een van die simptome van nierversaking is braking en anoreksia. Dan kan die pankreas ook inflammasie kry wat vir die dier baie pynlik is en ook braking veroorsaak.

Slegte mondhigiëne kan natuurlik ook omgekrapte magies veroorsaak. Die bakterië in ‘n vuil mond is skrikwekkend! Soos die dier eet sluk hy heeltyd van hierdie vuilheid. Dit is dan ‘n groot bron van infeksie wat die maag deurentyd omkrap. In so geval moet die dier antibiotika ontvang sowel as ‘n tandprosedure om die plaak en vrot tande te verwyder.

As jou hond gereeld opgooi direk nadat hy geëet het is dit wys om hom na ‘n veearts te neem al lyk hy dalk andersins gesond. Daar is ‘n wurm genaamd Spirocerca wat honde kan kry wat gewasse veroorsaak. Die gewas druk teen die slukpyp sodat kos nie maklik verby kan beweeg nie en die dier dan opgooi. Die dier sal gewoonlik hoes ook omdat die gewas die lugpyp ook irriteer. Hierdie kondisie kan dodelik wees so dis raadsaam om x-strale te laat neem van ‘n hond wat gereeld na hy geëet het opgooi om Spirocerca uit te skakel.

‘n Ander rede waarom ‘n hond en soms selfs ‘n kat kan opgooi nadat hulle geëet het is as gevolg van ‘n obstruksie. Obstruksies kan behalwe braking ook diarree en erge maagpyn veroorsaak. Die obstruksie kan ‘n bal, ‘n palmpit, ‘n handdoek, ‘n pop se kop, bene of enigiets wees wat jou troeteldier in die pote kon kry en vinnig ingesluk het. Die voorwerp sit dan in die maag of dunderms vas en veroorsaak dat die dier opgooi. As jy vermoed jou troeteldier het iets vreemds ingesluk sal ‘n x-straal of ultraklank dit kan bevestig of uitskakel. Soms is dit selfs vir ‘n veearts moontlik om die voorwerp deur abdominale palpasie te voel. As die vreemde voorwerp nie natuurlik uitkom nie is ‘n operasie nodig om die voorwerp chirurgies te verwyder.

Soms gebeur dit dat jou meestal gesonde dier ‘n keer of wat braak of net ‘n losser stoelgang het. Net soos by mense kan ‘n dier ook ‘n sensitiewe maag hê en is mediese behandeling nie noodwendig nodig nie. As jou dier verder vrolik is en nie aanhoudend siek is nie kan jy eers tuisbehandeling probeer.

Veilige tuisbehandeling is as volg: As jou dier braak kan jy vir 12 ure kos weghou(nie jong hondjies wat lae glukose kry nie!), beperk ook die hoeveelheid water wat op ‘n slag beskikbaar is. ‘n Maag vol water doen meestal meer skade as goed. Kry elektroliet soos Pro-lyte of Darrows by die veearts en gee dan elke uur ‘n klein hoeveelheid soos aanbeveel vir die dier se gewig. So verhoed jy dat die dier naar word van te veel vloeistof en vervang jy die elektroliet wat jou dier verloor het deur te braak.

Wanneer jou dier die vloeistof mooi inhou kan jy begin kos gee. Weereens is dit net soos met die vloeistof belangrik om die porsies klein te hou. Klein bietjie rys en wit gekookte hoender is ‘n goeie eerste maaltyd. Moet geen soute, souse of velle gee nie. Dan is daar ook blikkieskos by jou veearts beskikbaar wat spesifiek geformuleer is om die magie te help. Die Hills reeks het blikkies vir honde en katte wat baie goed werk! So as jou dier gereeld ‘n omgekrapte maag kry kan jy dalk ‘n paar blikkies in die kas aanhou.

As jy weet dat jou troeteldier ‘n sensitiewe maag het wat gereeld omgekrap word gaan dit hulle baie baat om permanent op ‘n kos soos Hills i/d (intestinal diet) of Royal Canin se Gastrointestinal te wees.

Vir enige maagaandoenings sal ek altyd ‘n goeie probiotika soos Protexin voorstel. Goeie kwaliteit wit jogurt bevat ook goeie probiotika en jy kan so paar lepeltjies hiervan gee – asseblief net nie gegeurde yogurt nie! Moet nooit melk vir jou diere gee nie. Melk en jogurt is nie dieselfde nie. Melk sal juis jou dier se maag omkrap en kan maklik diarree veroorsaak, omdat diere nie die ensiem het om melk te verteer nie. Die proses wat gebruik word om jogurt te maak, maak dit wel veilig vir honde en katte.

Geaktiveerde houtskool kan ook gegee word, maar moet dit nie vir jou dier gee as hulle op medikasie is nie. Die houtskool bind aan gifstowwe en kan dus daarom help om jou dier te genees as daar patogene in die derms is wat die maagaandoening veroorsaak. As jy dit egter saam met medikasie gee gaan die houtskool die medikasie bind sodat dit nie meer sy doel kan doen nie. Moet dan ook nie skrik as jou dier swart braking of stoelgang het as gevolg van die swart houtskool nie.

Sensitiewe magies kan ook hand-aan-hand loop met senuwees of spanning. Die dermkanaal kan as ‘n skok-orgaan funksioneer! Sodra jou dier dus bang of gespanne is, soos byvoorbeeld as hulle by die veearts op die ondersoektafel is kan hulle sommer ‘n spontane loopmagie kry. Enige verandering by die huis, bakleiery, vreemdelinge wat kuier, ‘n nuwe troeteldier, slegte weer of selfs die afsterwe van’n gesinslid kan ‘n omgekrapte maag veroorsaak. In so geval is dit dan ook nodig om vir die dier ‘n natuurlike kalmeermiddel te gee. Omdat dit meestal kleinrashondjies soos Yorkies en Miniatuur Pinscher is wat so sensitief kan wees is daar ‘n kos van Hills genaamd i/d mini stress. Dit is dan spesifiek vir honde wat ongestelde magies as gevolg van spanning ontwikkel. Die kos help dan ook om hulle te kalmeer sodat hulle nie so gereeld met hulle magies sukkel nie.

Hierdie is nou ‘n mondvol maar as jy ooit wonder bel eerder jou veearts en vra raad. Dis altyd beter om versigtig te wees!

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s