VEEARTSE IS OOK MENSE

Dalk is vandag se blog bietjie meer van ‘n “preek” as inligting oor troeteldiere maar ek voel tog dis nodig dat troeteldiereienaars besef waarmee hulle geliefde dieredokter soms op ‘n daaglikse basis mee stoei. Kom ons gesels bietjie oor welsynswerk, GELD (so warmknoppie onderwerp…), beskikbaarheid en die hoë druk waaronder meeste veeartse werk.

Hierdie week sien ek op sosiale media hoe ‘n veearts wat haar beywer om soveel as moontlik welsynsgevalle te doen uitmekaar geskeur word deur ‘n welgestelde persoon wat wou aandring op welsynspryse vir sy eie diere. Natuurlik het sy die versoek geweier waarna sy ‘n vieslike publieke boodskap op Facebook ontvang het.

Dit is slegs een geval maar ek weet dat dit baie gereeld gebeur. In my studiejare het ons as deel van ons praktiese ervaring by ‘n welsynskliniek in Mamelodi gewerk. Hier het ons arm mense gehelp deur hulle diere te ent en te steriliseer teen goedkoper tariewe. Tog het dit menigmale gebeur dat daar mense in duur karre opdaag en dan verwag dat hulle diere as welsynsgevalle behandel word.

Die probleem wat veeartse ervaar as hulle alles teen welsynspryse doen is dat dit nie volhoubaar is nie. Sonder ‘n inkomste kan die veearts nie die duur middele bekostig wat nodig is om diere te behandel nie. Ek kan in baie meer diepte hieroor ingaan maar ek glo dat my lesers die basiese begrip kan verstaan.

So paar jaar terug was daar ‘n groot storie gemaak oor hoe veeartspraktyke oneerlik is en woekerwins maak. Dalk is daar sulke praktyke, maar kom ons praat oor die meerderheid veeartse. Waarom besluit ‘n veearts op sy beroep? Meestal is dit die liefde vir diere en die sterk oortuiging dat hulle ‘n verskil in duisende diere se lewens kan te weeg bring. En dit doen hulle ook! Maar dit is ook ‘n beroep! Dit is die veearts se manier om ‘n inkomste te verdien. So kan die veearts ook werk skep vir ander en ‘n eie gesin onderhou.

Dis blykbaar ongehoord om te dink dat ‘n veearts sy/haar werk kan doen om geld te maak. “Hoe kan hulle dit sê? Ons dag dan hulle doen dit vir die liefde van die saak!” Baie mense voel blykbaar so en dit is uiters onlogies. Dieselfde mense gaan elke dag werk toe en verwag aan die einde van die maand ‘n salaris wat eweredig is aan die standaard diens wat hulle gelewer het. Tog durf ‘n veearts nie dieselfde verwagting hê nie.

Die veearts wat 6-7 jaar kliphard moes studeer vir die graad moet asseblief alles teen kosprys doen omdat hulle lief is vir diere. Tans is die koste vir die graad, R135 000 en dit sluit nie behuising wat ‘n verdere R80 000 is in nie*. Sekerlik kan jy ook sien hoe belaglik dit is dat die veearts wat met soveel studieskuld sit alles teen kosprys moet doen. Hulle is basies met hierdie skuld self welsynsgevalle! Verder is die intree salaris vir ‘n veearts maar om en by R13 000*. Werk maar self uit hoe lank dit die veearts gaan vat om die studieskuld te betaal…

Baie van ons nuut gekwalifiseerde veeartse gaan werk oorsee om die studieskuld vinniger te delg. Die intree salaris is aansienlik hoër in plekke soos byvoorbeeld Brittanje waar die norm omtrent R3000 PER DAG is*!

So is daar dan in Suid Afrika troeteldiereienaars wat tot 100km moet ry om die veearts te besoek. In ‘n noodsituasie waar tyd ‘n faktor is gaan jou dier dit dalk nie eers tot by die veearts maak nie. So hoewel hier genoeg veeartse in Suid Afrika kwalifiseer is daar steeds ‘n groot tekort aan veeartse. Ek glo die manier waarop ons veeartse in Suid-Afrika hanteer word speel ‘n groot rol!

Kom ons vergeet vir ‘n oomblik helemaal van die geld kwessie…

‘n Veearts is verantwoordelik vir die gesondheid van troeteldiere. Die doel is om diere so te behandel dat hulle vir so lank as moontlik so gelukkig en gemaklik as moontlik kan wees. Sodoende versterk dit die band tussen eienaar en troeteldier. Dit klink soos ‘n idiliese werk! Tog is daar min tyd vir veeartse om spreekwoordelik heeldag met hondjies en katjies te speel. Die werksdruk is enorm.

‘n Veearts mag dit nie waag om ‘n fout te begaan nie. Onthou die siek troeteldier is dalk iemand se kind! Die veearts moet ten alle tye beskikbaar en gefokus wees, alhoewel hulle soms uiters lang ure moet werk. Die veearts se grootste werk is gereeld ook om die eienaar gelukkig te hou. En as dit kom by troeteldiere het mense baie sterk gevoelens.

Die verwagtings wat aan veeartse gestel word is onmenslik! Ons kan nie van ons veeartse verwag om God te wees nie. Hulle is ook mense. Hulle maak ook foute. Hulle mis ook nou en dan iets. En dit is normaal. Om die gedigskrywer Alexander Pope aan te haal : “to err is human, to forgive, divine.”

Ek raak vandag net aan ‘n paar kwessies sonder om in diepte oor alles te skryf,want dan het ek ‘n hele boek nodig. My doel vandag is dat mense twee maal sal dink oor wat, waar en hoe hulle hul ontevredenheid teenoor veeartse opper. Ek werk daagliks saam met ‘n veearts en het groot respek vir die werk wat hy doen. Hy offer elke dag tyd saam met sy eie gesin op om na ander mense te troeteldiere om te sien. Ek wens dat ander ook hierdie waardering vir hulle veeartse sal hê en dit ook sal oordra.

In ons eie praktyk is ons baie bevoorreg om die gaafste klante te hê wat gereeld hulle waardering toon en wat al soos familie voel! Steeds is daar altyd die ontevredenes wat iets vind om die veearts oor die vingers te tik of sommer net so op Facebook te gaan deel. As jy egter weet wat agter die skerms gebeur en hoeveel opoffering plaasvind sal jy dalk ook die getalle verstaan van veeartse met depressie en wat selfmoord pleeg. Woorde maak seer. Veral as dit halwe waarhede is…

As veeartse in Suid Afrika voel dat hulle waardeer word en nie oor elke regverdige koste soos boewe laat voel word nie sal daar dalk meer veeartse in ons mooi land bly.

*Die waardes is soos deur Onderstepoort gepubliseer in 2008

2 thoughts on “VEEARTSE IS OOK MENSE”

  1. Spot-on Marissa! Die konstante negatiewe druk en onrealistiese verwagtinge tesame met die normale druk wat ons almal in ons persoonlike lewens ervaar dryf ons veeartse TE dikwels na uiterstes. Die veterinere professie het wereldwyd die hoogste selfdood syfer van alle beroepe en ek wens kliente sal besef hoe groot rol hulle t o v die geestestoestand van ‘n professionele persoon speel. ‘n Bietjie begrip, dankie waar gepas en ‘n vriendelike glimlag kos niks, maar is so waardevol. Soos gewoonlik baie mooi geskryf!

    Liked by 1 person

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s