Die stille doodsengel wat honde in Suid-Afrika teister: Spirocerca Lupi

Image result for spirocerca worm
Die Spirocerca Lupi wurm

As jy nog nooit van Spirocerca Lupi gehoor het nie sal dit my nie verbaas nie. Hierdie wurm word nie verniet die stille doodsengel genoem nie. So wat is Spirocerca, wat moet jy weet en hoe beskerm jy jou hond daarteen?

Op die oog af is die S-lupi wurm ‘n klein onpretensieuse rooi wurmpie. Die probleem begin egter as hulle in hul gunsteling woonplek, jou hond se esofagus of slukderm tuiskom.

Spirocerca larwes beland in jou hond se maag nadat hulle ‘n geinfekteerde miskruier, muis, geitjie, akkedis of ander klein dier geëet het. Die larwes beweeg dan met die klein bloedvaatjies in die maagwand tot in die aorta. Hierdie proses kan tot 3 maande neem.

Sodra die larwes in die aorta kom is dit vir hulle maklik om na die slukderm te beweeg omdat die aorta en die slukderm dig by mekaar lê in die borsholte.

In die slukderm vorm die Spirocerca ‘n “huisie” in die wand van die slukpyp wat dan ‘n granuloom genoem word. Die Spirocerca wurms groei en leef dan lekker in hierdie granuloom wat al hoe groter word namate die wurms groei.

‘n Diagram wat die lewensiklus van Spirocerca toon

Hierdie groot granuloom in die slukderm irriteer dan die hond sodat hy hoes en ook braak direk nadat hy geëet het. Die simptome is dus: Gereelde hoes, braking, die hond maak geluide asof iets in sy keel vassit of braakgeluide, sukkel om te sluk en gewigsverlies. Ongelukkig is daar soms net een simptoom byvoorbeeld die hond hoes nou en dan. Of die hond eet bietjie minder as gewoonlik. Hierdie is nie simptome wat mens dadelik na die naaste veearts laat jaag nie.

Image result for dog retching
Hierdie hond toon braak simptome

Hierdie granuloom veroorsaak egter nie net ongerief nie. Dit kan later ‘n kankeragtige gewas word wat ook kan versprei na verskeie organe en dodelike gevolge het. Verder kan die larwes, terwyl hulle in die aorta is, die aortawand beskadig. Hierdie beskadigde wand kan dan enige tyd bars en die hond sal homself doodbloei voor die eienaar besef iets is fout.

Hoewel die wurm meestal in die slukderm is kan hulle steeds op vreemde plekke soos byvoorbeeld die niere of rugmurg beland waar hulle dan ook kankers kan veroorsaak. Verder verswak die kondisie ook jou hond se imuunstelsel sodat hy meer vatbaar vir ander siektetoestande soos omgekrapte maag of jeukende vel is.

Dit kan ook gebeur dat die hond omdat hy gereeld braak per ongeluk van die braaksel in sy longe aspireer. Dit kan dan erge longontsteking veroorsaak wat antibiotiese behandeling benodig.

As jou hondjie dus gereeld hoes en braking het na ‘n ete is dit beslis tyd vir ‘n veeartsbesoek. Die veearts sal moontlik ‘n x-straal foto neem om te kyk of daar ‘n granuloom is. Dis soms ook moontlik om met ‘n mismonster die wurmeiers onder ‘n mikroskoop te sien. In moeilike gevalle is dit raadsaam om ‘n endoskoop (kamera) te gebruik om in die slukderm af te kyk vir ‘n granuloom.

Dit is moontlik om jou hond te behandel as Spirocerca die diagnose is maar ongelukkig gebeur dit dikwels dat die diagnose op so ‘n laat stadium gemaak word dat die granuloom reeds kankers veroorsaak het of net so groot is dat die hond nie meer kan eet nie. Hoewel dit moontlik is om die granuloom chirurgies uit die slukderm te sny is dit ‘n baie gekompliseerde en gevaarlike operasie waarvoor min veeartse kans sien. Dan is die prognose ongelukkig nie goed nie. Hieruit weet ons dat voorkoming die beste manier is om jou hond te beskerm.

Die behandeling van Spirocerca is ‘n ontwurmmiddel wat die wurms doodmaak. Afhangende van watter middel die veearts gebruik, hetsy inspuitbaar, tablette of top-spot, gaan die behandeling ‘n paar keer herhaal moet word om te verseker dat alle wurms dood is. Dan moet die hond ook meestal op ‘n vloeibare dieet soos Hills a/d blikkies gesit word om braking te voorkom. Die kosbak moet dan ook gelig word sodat die hond se kop nie laer as sy bors is om te eet nie. Dit is selfs moontlik om jou hond te leer om met behulp van ‘n spesiale stoel regop te sit om te eet. Hierdie help alles om te voorkom dat die hond tydens behandeling aan wanvoeding omkom. As die hond op ‘n vroeë stadium behandeling ontvang is die prognose baie goed.

Image result for milbemax dog
Milbemax ontwurmingstablette

Gereelde ontwurming met ontwurmmiddels wat spesifiek ook die Spirocerca wurm dood is die beste manier om jou hond te beskerm. Voorbeelde van ontwurming wat Spirocerca dood is die Advocate spot-on en die Milbemax ontwurmingtablette. Die ontwurming wat jy in die supermark koop is nie effektief teen Spirocerca nie.

Advocate Spot-on

Soos jy kan sien is Spirocerca beslis ‘n baie gevaarlike wurm! As jou hond enige van hierdie simptome soos hierbo beskryf het moet jy dit nie ignoreer nie. Spirocerca word beslis nie verniet die STILLE doodsengel genoem nie! Dit is maklik genoeg om jou hond gereeld met ‘n goeie kwaliteit ontwurmingsmiddel te behandel.

2 thoughts on “Die stille doodsengel wat honde in Suid-Afrika teister: Spirocerca Lupi”

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s