Om gesond oud te word

Ek sou wat wou gee dat al my diere net so lank soos ek lewe. Natuurlik is dit net ‘n droom maar ek kan gelukkig wel sê dat ons troeteldiere as gevolg van beter voeding en algemene sorg langer lewe as voorheen.

Skielik is die grootste persentasie van ons troeteldiere seniors, maar ons is nog nie noodwendig aangepas tot hierdie verskuiwing nie. Jy het ‘n jong hondjie wat spesiale hondjiekos en entings nodig het, ‘n volwasse hond, en dan ‘n stokou hond wat dalk op chroniese hart- of pynmedikasie is. Min mense dink dat hul troeteldier eintlik al ‘n pensionaris is sodra hulle ouer as 7 jaar is. Ek dink mense sien oor die algemeen eers hulle dier as ‘n ou hond sodra hulle hier rond 12 jaar kom.

Wat ons sien (dis nou maar net ‘n persoonlike observasie in ons kliniek) is dat die meeste ouer hondjies wat vir genadedood kom hier rondom 15 jaar is, en vir katte draai dit al nader aan 20 jaar. So van 7 tot 15 of selfs 20 jaar het hierdie troeteldiere eintlik spesiale aandag nodig om hulle gelukkig en gesond te hou.

Maar wat presies is veroudering en wat beteken dit vir my troeteldier? Veroudering is basies net oksidering. Die proses waardeur suurstof gebruik word stel vrye radikale in jou dier se liggaam vry wat ‘n negatiewe impak op die liggaam se selle en organe het. Om dit eenvoudig te stel kan ons amper sê dat die liggaam roes. Hoe meer die liggaam oksideer, hoe meer veroudering vind dus plaas. So as jy ophou asemhaal dan verouder jy ook nie meer nie. Natuurlik het die liggaam wel suurstof nodig om te oorleef. Hieruit leer ons dat veroudering ‘n natuurlike proses van oorlewing is.

Vir my troeteldier beteken dit dat die organe en ander stelsels in sy lyf fyn dopgehou moet word om te verseker dat daar nie skade is nie. Met organe is vroeë ingryping die beste manier om verdere skade te voorkom.

Met vandag se tegnologiese vooruitgang is dit moontlik om die veroudering met behulp van antioksidante en ander aanvullings te rem. Dit is dan ook moontlik om die tekens van veroudering te behandel. Ons sê nie meer dat die hond wat styf-styf opstaan in die winter maar net oud is en dat dit nou maar so is nie. Ons gee vir hulle ekstra omega-olies, glukosamien en chondroitien en sien dan hoe hulle skielik weer ‘n huppel in hul stap en nuwe lewensvreugde het! Daar is tablettte en ook kosse wat aanvullings bevat wat die bloedvoorsiening na die brein verbeter om demensie hok te slaan – ja diere kry ook demensie!

Ons algemeenste probleem by ouer katte is nierskade. Sodra jy die simptome van nierskade sien is dit meestal reeds te laat om suksesvol te behandel. So as jy ‘n ouer kat het voer hom ‘n kos wat die niere beskerm. Ongelukkig bevat die supermark katkosse wat baie mense vir hul katte voer te veel fosfate wat juis die niere beskadig…

Ons weet dat sodra ons self op ‘n ryper ouderdom kom ons gereeld dokter toe moet gaan sodat enige gesondheidsprobleme so vroeg as moontlik gediagnoseer kan word. Vroeë diagnose kan die verskil tussen lewe en dood beteken by baie siektetoestande. Dink maar aan iets soos borskanker, bloeddrukprobleme of hartkwale.

Nou as ons mense met diere wil vergelyk is daar ‘n belangerike aspek wat nie vergeet moet word nie. Diere verouder vinniger as mense. As ons sê dat ‘n hond in ‘n jaar 7 mensjare verouder dan beteken ‘n jaarlikse veeartsbesoek dieselfde as dat ‘n ouer persoon slegs eenkeer elke 7 jaar by die dokter uitkom! Dis skrikwekkend as mens so daarna kyk! In 7 jaar kan daar baie probleme ontstaan en met van die kondisies kan ‘n vroeë diagnose ‘n groot verskil in prognose maak.

Die volgende tekens kan vir jou ‘n aanduiding gee dat jou troeteldier dalk ‘n behandelbare kondisie ontwikkel weens ouderdom:

  • Drink meer water
  •  Urineer moeilik of vreeslik baie
  •  Is nie meer so spelerig nie
  •  Katte wat nie meer op tafels of ander voorwerpe wil spring nie
  •  Staar na ‘n hoek en lyk of hulle verdwaald is
  •  Honde blaf in die nag vir geen rede (is wakker en onrustig)
  •  ‘n Skielike verandering in gewig
  •  Stel nie meer belang in kos nie
  • Wil nie meer harde kos kou nie
  • Hoes – veral in die nag
  • Enige optrede wat abnormaal vir die spesifieke dier is

OUDERDOM IS NIE ‘N SIEKTE NIE! Die feit dat jou diere ouer word beteken nie dat hulle hoef swaar te kry nie. Daar is soveel goeie middels en selfs kosse soos die Hills en Royal Canin reeks waar die behandeling sommer “ingebou” is. Die dier moet mos in elk geval eet. So is dit ‘n maklike manier om jou verouderende dier te help om gesond oud te word!

So om saam te vat: As jou troeteldier bo die ouderdom van 7 jaar is, is dit uiters belangerik om minstens eenkeer ‘n jaar, maar verkieslik elke 6 maande, die veearts te besoek vir ‘n gesondheidsondersoek. Die veearts kan dan as hy dit nodig ag selfs bloedtoetse voorstel sodat mens ‘n goeie idee kan hê van hoe effektief die organe nog werk. As die bloedtoetse gereeld gedoen word sal die veearts gou agterkom as daar ‘n vreemde neiging te voorskyn kom. Voer jou diere ordentlike kos! Ek weet die goeie kos is duurder maar in my opinie is dit die moeite werd! As hier ‘n dier by die kliniek ingestap kom kan ek sommer sien of hy ‘n ordentlike kwaliteit kos of goedkoop-gemors kos eet.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s