Wat om te doen as jou hond in die huis mors – “Potty training 101”

As jy lekker in jou huis op kouse rondloop en skielik voel hoe die hele kous sopnat word of nog erger hoe die kous op iets sponserig gly is die gort dalk behoorlik gaar. Dis daardie aaklige gevoel wat jou dalk laat besluit om jou woef sommer permanent die huis te verbied.

Gelukkig is daar raad! Daar is verskeie tegnieke en metodes wat jy kan gebruik om jou hondjie sindelik te kry. So kom ons kyk na hoe hondjies leer waar om hulle toiletgewoontes te doen en hoe dit jou kan help om jou hondjie te leer. Dan kan ons ook vinnig na ‘n paar verskillende maniere kyk hoe jy jou hondjie kan “potty train”.

Jong hondjies leer by hulle ouers waar om te piepie en te mis. Hulle is sulke ernstige na-apers van hul mamma dat hulle op presies dieselfde plek as sy gaan probeer piepie. Dit is dus belangrik dat jong hondjies, sodra hulle sterk genoeg is, saam met mamma uitgaan op die gras om te piepie en te mis. Hieruit weet ons dat hondjies wat eers na die ouderdom van 8 weke na hulle nuwe huis gaan dit baie makliker vind om buite op die gras te pieps. Dit is reeds ‘n geoefende gedrag by hulle, so die feit dat hulle in ‘n nuwe omgewing is behoort nie te veel te pla nie.

Die ander noembare feit is dat jong hondjies ‘n assosiasie maak met wat hulle onder hul pootjies voel terwyl hulle piepie. As die hondjies in ‘n garage, badkamer of ander hok grootword sal hulle slegs op harde oppervlaktes piepie en mis. Soms is hulle gewoond om op koerantpapier te bly en sal hulle papier soek om hul besigheid op te doen. So om dit vir jouself makliker te maak moenie ‘n hondjie kry wat uit sulke omstandighede kom nie. Soek eerder ‘n hondjie wat gereeld tyd op die gras gehad het en wat mooi by sy ma kon leer.

As jy reeds ‘n nuwe hondjie het en nou sukkel om hom geleer te kry is hier ‘ n paar metodes wat jy kan probeer. Hierdie is net ‘n vlugtige verduideliking maar as jy ‘n metode gekies het kan jy maklik meer in diepte hieroor aanlyn gaan lees.

Los jou hondjie bedags vir solank as moontlik op die gras. As jy ‘n tydelike afskorting kan oprig om jou hondjie veilig in te los waar hy slegs toegang tot gras het gaan hy vinnig genoeg op die gras begin piepie. Jong hondjies se blasies is maar baie klein en hulle urineer omtrent elke 2-3 ure. As die hondjie net toegang tot gras het gaan hy gou ‘n assosiasie maak met die gras onder sy pootjies en die plek waar hy behoort te piepie. As dit egter koud is buite gaan jy net moet sorg dat jy die hondjie minstens elke uur vir ‘n paar minute buitentoe vat. As daar ‘n ouer hond is wat mooi op die gras piepie behoort die jong hondjie die ouer hond te na-aap en sal dit die leer proses aanhelp. Vir jong hondjies gaan jy hom ongelukkig ook in die nag moet uitneem om te piepie. Gelukkig word hondjies gou groot en behoort dit nie vir lank nodig te wees nie.

Gebruik puppy pads. Veral kleinras hondjies kan soms sukkel om hulle piepie te hou totdat hulle op gras is. ‘n Goeie metode om hulle te leer is dan om “puppy pads” te gebruik. Gebruik ‘n “puppy pad” wat met feromone behandel is en as het ware vir die hondjie ‘n teken gee dat die “pad” die regte plek is om te urineer. Natuurlik is die einddoel steeds dat die hondjie buite op die gras sal piepie. So wat mens doen is om die “pad” elke dag bietjie nader aan die deur te skuif wat uitloop op die tuin totdat jy die “pad” later op die gras self kan sit. Sodra die hondjie op die “pad” piepie wat op die gras is kan jy die “pad” elke dag bietjie kleiner sny sodat die hondjie se pootjies aan die gras begin raak. Sodra die hondjie die assosiasie gemaak het van gras-onder-die-pootjies-is-waar-ek-piepie behoort die “pad” nie meer nodig te wees nie. Jy kan natuurlik steeds terwyl die hondjie baie jonk is ‘n “pad” beskikbaar hê vir in die nag. Mens kan nie van klein hondjies verwag om heelnag te gaan sonder ‘n glips nie. Hulle blasies is werklik nog baie klein.

Leer jou hondjie deur middel van “clicker training”. Positiewe leertegnieke is baie effektief by honde omdat hulle ‘n sterk drang het om hul eienaars gelukkig te maak. Hier is hoe jy ‘n “clicker”kan gebruik om jou hondjie te leer om op die gras te piepie. Die eerste stap is om jou hondjie te leer dat elke keer wanneer hy die kliek geluid hoor hy ‘n bederfie gaan kry. So basies druk jy die “clicker”en gee jou hondjie direk daarna ‘n klein bederfie. Sodra jou hondjie besef dat die kliek ‘n aanduiding is dat iets goeds op pad is kan jy oorbeweeg na die volgende stap. Neem jou hondjie buitentoe en hou hom fyn dop. Sodra hy begin piepie kan jy die woord wat jy wil gebruik om die opdrag te gee byvoorbeeld “pssst” of “maak ‘n pieps” sê, ‘n kliek gee, en dan sodra die hondjie klaar is vir hom ‘n bederfie gee. Onthou net om te wag tot hy klaar is anders knyp hy dalk sy piepie kort om eers die bederf te eet. Terwyl jy die bederfie gee kan jy weer die woord noem wat jy vir die opdrag gekies het. Dit gaan jou hondjie help om die opdrag vinniger te leer. Sodra jou hondjie besef wat die opdrag beteken sal dit vir jou hondjie moontlik wees om te piepie sodra jy die opdrag gee. Jy kan dieselfde tegniek gebruik om hom te leer om te mis. Daar is verskeie oulike boeke, webtuistes en selfs videos op die internet beskikbaar oor “clicker training” so as jy hierdie tegniek wil gebruik gaan jy maklik die regte bronne kan vind.

Leer jou hondjie om in ‘n hok te slaap – die metode word ook “crate training”genoem. Die idee agter die hok metode is dat ‘n hond nie in sy slaapplek wil mors nie, omdat hulle van nature skoon diere is. Die hok moet nie so groot wees dat die hondjie in die verste hoek kan mors en dan net in ‘n ander hoek kan gaan slaap nie. So gebruik ‘n hok waarin die hondjie gemaklik kan staan en omdraai maar nie in kan rondloop nie. Vir hierdie metode gaan jy jou hondjie eers moet leer dat die hok sy veilige hawe en slaapplek is.

Lok jou hondjie met bederfies en speelgoed in die hok in maar moet hom nooit self insit nie. Los in die begin ook altyd die deur oop. Sodra hy self rustig in die hok in gaan kan jy begin om hom in die hok te voer. Tydens etenstyd kan jy die hok toemaak en dan weer oopmaak sodra hy klaar is. Namate hy gewoond raak aan die toe deur kan jy die hok ‘n paar minute nadat hy geëet het toe los voordat jy weer oopmaak. Sodra jou hondjie gemaklik is met die hok kan jy hom oornag in sy hok los en net gereeld uitneem om te urineer. Meeste hondjies sal begin skarrel of kerm as hulle buitentoe moet gaan so dis dan jou teken om die hondjie uit te neem. Sodoende leer jou hondjie om nie in die aand in die huis te mors nie.

Die hok kan ook bedags gebruik word maar onthou dat jong hondjies baie stimulasie en aandag nodig het so jy kan hom nie vir lang tye in die hok los nie. As die hondjie gereeld in die hok gelos word gaan hy dalk net ‘n negatiewe houding teenoor die hok ontwikkel wat die hele oefening dan nutteloos maak. Lok hom eerder na sy hok as jy sien dat hy moeg is sodat hy ook bedags lekker in sy hok kan slaap. As jou hondjie kerm sodra jy die hok toemaak moet jy hom net ignoreer en eers die hok oopmaak as hy ontspan. Anders leer hy om te kerm sodra jy die hok toemaak.

Wat jy nie moet doen nie. Die grootste fout wat jy kan maak gedurende enige van die metodes hierbo is om met die hondjie te raas as daar ‘n glips is. Dit leer die hondjie dan om eerder glad nie te piepie as jy naby is nie en maak hulle bang vir jou. Wat dan gebeur is dat die hondjie skelm erens in ‘n hoekie of onder ‘n bank gaan piepie of mis in die hoop dat jy dit nie sien nie. Onthou ook dat jou hondjie elke keer wat hy urineer, maak nie saak waar dit is nie, self die beloning kry van ‘n blaas wat nie meer ongemaklik en vol voel nie. Daarom is dit jou werk om te sorg dat jou hondjie op die regte plek is wanneer dit gebeur. Verder help dit ook glad nie om jou hond se neus daarin te druk of die hondjie met ‘n opgerolde koerant op die neus te tik nie – ons leef nie meer in die 1900s nie en het aanbeweeg van hierdie ouderwetse metodes. Moenie ongeduldig raak nie. Nie alle honde is ewe slim nie…. Jou hondjie is dalk baie lief en oulik maar dit neem hom dalk langer as wat dit met jou vorige hond gevat het. Wees eerder net konsekwent en prys die hondjie wanneer hy wel op die regte plek sy dinge doen.

Om ‘n nuwe hondjie te kry is baie opwindend! Met die regte voorbereiding en ‘n positiewe houding kan dit vir jou en die hondjie ook ‘n aangename tyd wees. As jy regtig sukkel gaan vra gerus raad by jou veearts of ‘n plaaslike honde opleier.

1 thought on “Wat om te doen as jou hond in die huis mors – “Potty training 101””

  1. Baie oulik!!!! Klein Max het ongelukkig op ons bou SITE groot geword en dit was baie moeilik om hom grassies toe te vat om hom te leer.. Hy slaap wel van kleins af al buite en nou maak ek ñ punt daarvan om hom elke oggend as ek opstaan gras toe te vat. Hy weet al dat ek hom eers baie gaan liefies en optel as hy klaar gepieps het. Dan maak ek gereeld deur die dag so as ek tuis is❤️

    Liked by 1 person

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s