Koprofagie – as dinge mis gaan

Koprofagie is net ‘n mooi woord vir ‘n aaklige gewoonte: die eet van mis. Ongelukkig is dit nogal algemeen dat honde hul eie mis, ander honde se mis en veral katmis eet. Die blote gedagte is genoeg om my maag te laat draai, maar siende dat dit gebeur kan ons dit nie net ignoreer nie. In die afgelope 2 weke het ek al van 4 gevalle gehoor waar honde mis vreet.

As jou hond een van die sondebokke is sal jy dit weet! Of jy hom op die daad betrap of dalk die nagevolge sien in die vorm van ‘n stink asem of selfs die braking wat dit kan veroorsaak is irrelevant. As jou hond dit doen wil jy natuurlik so gou as moontlik stappe neem om dit te stop. Dis immers moeilik om vir jou hond lief te wees as jy hom sopas die vieslike daad sien doen het.

Daar is verskeie redes waarom jou hond mis vreet en daarom is dit belangerik om seker te maak dat dit nie ‘n gesondheidsprobleem is nie. Gesondheidsprobleme wat dit kan veroorsaak sluit in: swak dieet (bv die goedkoopste supermark hondekos), wurms of ander parasiete, ensiem tekort, hormonale wanbalans soos ‘n onderaktiewe skildklier, chroniese medikasie wat die hond heeldag honger laat, of ondervoeding.

As jy vermoed jou hond se gedrag gaan dalk gepaard met ‘n gesondheidskwessie is dit raadsaam om jou hond na die veearts te neem vir ‘n ondersoek. Jou hond kan dalk minder spelerig wees, ‘n geswolle buik hê, nie so gretig soos gewoonlik eet nie of juis baie meer wil eet en drink, los stoelgang hê wat vreeslik stink of enige gedrag wat skielik verander het saam met die koprofagie. Sodra die probleem opgespoor is kan die veearts dan die beste behandeling voorstel.

Dan is dit ook baie moontlik dat jou hond weens gedragsredes begin mis vreet. Die mees algemene oorsake is as volg: jong honde is baie maal nuuskierig en sal enigiets wat hulle vind eet en dan word die misvreet bloot ‘n slegte gewoonte, honde wat vir langtye alleen is begin dit weens angstigheid of verveeldheid doen, soms leer honde dit aan as hulle neus in mis gedruk word om hulle te probeer leer om nie in die huis te mors nie – onthou dat die reuk van mis nie vir honde ‘n onaangename reuk is nie, dan leer honde dit ook aan as hulle toegang tot katmis het omdat die katmis veral vir hulle lekker is en laastens kan dit gebeur dat ‘n teef wat kleintjies het wat nie na nuwe huise gaan na 8 weke nie aanhou om agter haar kleintjies skoon te maak deur hulle mis te vreet.

As jou hond mis vreet as ‘n aangeleerde gedrag is daar ‘n paar goed wat jy kan probeer om die vieslike gewoonte af te leer. Eerstens is dit uiteraard noodsaaklik om enige mis so gou as moontlik op te tel. Meeste honde sal wanneer hulle in die oggend uitgelaat word gaan mis so dan moet jy net met jou grafie gereed staan om gou agter hulle op te tel. ‘n Ander tegniek is om sodra jou hond klaar gemis het hom dadelik na jou te roep en met iets lekkers te bederf of ‘n speletjie te begin sodat hy van die mis vergeet. As jy katte het moet jy hulle sandbakke hoog of buite bereik van die honde plaas sodat dit nie vir die honde ‘n versoeking is nie.

Daar is ook produkte op die mark beskikbaar soos Copronat wat jy oor jou honde en katte se kos kan spuit. Almal wie se mis gevreet word moet hierdie produk daagliks oor hulle kos kry. Hierdie produk veroorsaak dan dat die mis ‘n baie onaangename smaak het wat die hond sal keer om die mis te eet. Dit kan tot 6 weke neem voor die slegte gedrag afgeleer is, so mens moenie te gou moed opgee nie. So ‘n produk werk baie goed solank daar nie vreemde honde of katte op die werf kan kom mis nie.

Soms help dit ook om jou diere se dieet aan te pas. Koop ‘n kos wat hoogs verteerbaar is sodat die hoeveelheid mis op die gras aansienlik minder is. Hoe minder grane en vullers in die kos is, hoe minder mis gaan jy op die gras sien. Dan kan jy ook ‘n probiotika soos Protexin by jou hond se kos sit om te verseker dat jou hond se maag optimaal funksioneer.

As jou hond basiese opleiding ontvang het behoort hy die opdrag “los” goed te verstaan. Met hierdie opdrag kan jy jou hond ook leer dat jy nie die eet van mis goedkeur nie. Ek sou dit egter nie aanbeveel dat jy op jou hond skree en soos een of ander besetene te kere gaan nie want jou hond vind dit dalk net amusant en enige aandag is mos beter as niks.

Ek hoop nie hierdie artikel laat jou mislik nie en glo die wat dit nodig het sal dit wel waardeer. Hopelik sukkel jy nie self met hierdie onaangename probleem nie maar weet jy minstens nou hoe om dit te hanteer. As jy wel sukkel, hou moed! Meeste jonghondjies leer dit af voor hulle volwasse is!

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s