Die gevaar van menslike medikasie vir troeteldiere

Die kuur of die probleem?

Ek het al in ‘n vorige blog aan die onderwerp geraak, maar steeds word ons gereeld gevra oor watter menslike medikasie veilig is vir troeteldiere.

Die grootste en ook gevaarlikste sondebok is pynmedikasie. Die oomblik wat jou geliefde troeteldier seer het wil jy so gou (en soms ook so goedkoop) as moontlik vir hom verligting gee sodat julle altwee kan begin “beter” voel. Honde en veral katte is egter uiters sensitief vir anti-inflammatoriese middels. Om ‘n voorbeeld te gee: ‘n Gesonde volwasse man kan as hy spierpyn ervaar ‘n 15mg Coxflam tablet drink. ‘n Groot 45kg hond kan ‘n halwe 7.5mg tablet (dus 3.75mg) drink vir sy artritis – mits dit deur ‘n veearts voorgeskryf is. Soos jy kan sien is die dosis vir ‘n hond baie laer as vir ‘n mens. Net so is daar byvoorbeeld ‘n anti-inflammatoriese tablet waarvan jy een 227mg tablet vir ‘n 40kg hond en slegs ‘n kwart van hierdie selfde tablet vir ‘n 500kg perd kan gee!

Daar was die afgelope week ‘n foto wat op Facebook versprei is van ‘n hond wat uitgesit moes word. Die hond het vir 5 dae Ibuprofen, ‘n menslike anti-inflammatoriese middel, by die eienaar gekry omdat hy in ‘n geveg betrokke was . Die arme hond se slymvliese was geler as ‘n boemelaar se tande – sy lewer het totaal opgepak! Natuurlik was dit onkunde en nie kwaadwillige dieremishandeling nie maar steeds het dit die hond se lewe gekos…

Die antwoord op waarom mense pynmedikasie vir hulle diere gee is dat hulle (die eienaar) nie langer kon sien hoe die dier in pyn is nie, of dat daar nie geld is vir ‘n veearts nie. As jou dier soveel pyn ervaar dat dit onuithoubaar is moet jy eerder so gou as moontlik by ‘n veearts uitkom of kontak maak met ‘n veearts om raad te vra. Die koste van ‘n besoek kan sekerlik nie meer as jou dier se lewe kos nie.

Dit gebeur egter dat jou hond dalk pyn het en jy baie ver van ‘n veearts is. So vir pyn behandeling kan jy Disprin of ‘n ander aspirien aanhou. Maar jy gaan eers jou veearts moet raadpleeg oor die veiligheid en dosis afhangende van die oorsaak van die pyn. As jou hond byvoorbeeld erge bytwonde het of raakgery is kan die aspirien die bloeding vererger, wat erge anemie en selfs dood kan veroorsaak. Aspirien was vroeër een van die pynmedikasies wat veeartse kon gebruik, maar gelukkig is daar intussen nuwe medikasie wat met meer veiligheid en vir langer periodes gebruik kan word.

As jou kat pyn ervaar is dit ‘n ander storie. Katte is selfs vir die pille wat vir hulle geregistreer is sensitief. Pynmedikasie word, slegs indien werklik nodig, deur ‘n veearts vir katte voorgeskryf. Die tydperk wat ‘n veearts vir ‘n kat pynmedikasie sal gee is daarom meestal ook heelwat korter as wat vir ‘n hond voorgeskryf sal word. Die grootse fout is om vir vir jou kat panado (parasetamol) te gee. Parasetamol is dodelik vir katte!!! So in my opinie as jy ooit wonder moet eerder niks vir jou kat gee nie, hulle is nie net klein honde nie. Jy gaan hoogs waarskynlik meer skade as goed doen.

Maar dis nie altyd die eienaar se skuld dat hul troeteldiere menslike medikasie of selfs net mekaar se pille inkry nie. Wat soms gebeur is dat diere hul eienaar se chroniese medikasie opspoor en sommer ‘n hele pakkie verskeur en opeet. Natuurlik weier jou hond neus-in-die-lug om die spesiaal-met-spek- gegeurde-wurmpilletjie te eet. Maar laat hulle nou net per ongeluk die bitter antibiotika-pilletjies opspoor en dis neusie verby daarmee. Dit gebeur!

Daarom moet alle medikasie (soos op alle sakkies en botteltjies gemerk ) geberg word waar kinders en troeteldiere dit nie kan opspoor nie. Veral as die medikasie spesiaal gegeur is om aanloklik vir diere te wees! Onthou maar dat katte uiters akrobaties is en selfs sekere kassies kan oopmaak… Verder is dit ook goed om gereeld deur jou medikasiekassie te gaan en alle vervalde en ou medikasie weg te gooi. Ek hoop nie jy vind ‘n onvoltooide antibiotika kursus nie – weerstandigheid teen antibiotika is ‘n realiteit wat nog groot nagmerries gaan veroorsaak, en onvoltooide kursusse is ‘n groot deel van die oorsaak.

As dit wel gebeur dat jou dier jou medikasie per abuis inneem moet jy so gou as moontlik met jou veearts kontak maak. Jou veearts gaan jou vra vir die medikasie se aktiewe bestanddeel en sterkte – byvoorbeeld Nurofen gaan jy lees as Ibuprofen 200mg. Afhangende van die medikasie gaan jou veearts die beste behandeling kan voorstel. Sekere medikasie is skadeloos en ander is uiters gevaarlik! Moet asseblief nie dink dat jy jou dier self tuis met melk kan behandel nie. Melk is fantasties, veral as dit roomys is, maar dit beskerm nie jou dier teen medikasie nie. Dit is ook nie raadsaam om met alle medikasie jou dier te laat braak om die medikasie uit te kry nie. Met sekere medikasie kan dit juis meer skade veroorsaak. As braking wel ‘n opsie is sal jou veearts dit aanbeveel en ook verduidelik wat die beste manier is om dit te doen.

So is alle medikasie wat ons tuis het gevaarlik vir ons diere? Nee glad nie. Baie menslike medikasie word juis vir diere ook gebruik. Meeste antibiotika, hartmedikasie, bloeddrukmedikasie, oogsalf en selfs hoesstroop is eintlik menslike medikasie. Wat jy egter moet onthou is dat die dosis vir diere soos ook hierbo genoem grootliks verskil van menslike dosisse. By mense word daar byvoorbeeld volgens ouderdom gekategoriseer, byvoorbeeld: Kinders onder die ouderdom van 12 jaar neem 1 tablet. Volwassenes neem 2 tablette. By diere werk dit egter volgens gewig omdat ‘n volwasse Maltees en ‘n volwasse Rottweiler beslis nie dieselfde weeg nie.

Om veilig te wees sal ek ALTYD aanbeveel dat ‘n veearts se advies ingeroep word voordat enige medikasie aan ‘n dier gegee word. Jy kan byvoorbeeld nie jou een dier se medikasie sommer vir jou ander dier gebruik sonder om eers seker te maak dat dit veilig is nie. Jou veearts neem baie dinge in ag voordat medikasie voorgeskryf word, nie net gewig nie. Sekere medikasie is byvoorbeeld nie vir jong of baie ou honde veilig nie byvoorbeeld hoesstroop wat hartkloppings kan veroorsaak. Daar is selfs sekere medikasie wat nie vir sekere rasse gebruik kan word nie. Skaaphonde is byvoorbeeld baie sensitief vir Ivermectin, ‘n middel wat gebruik word om bosluiskoors en hartwurm te behandel. As jy nie bewus is van hierdie sensitiwiteit nie kan jy met Ivermectin jou Skaaphond verlam! Dan is daar oogdruppels wat baie skadelik vir sekere kondisies, en juis fantasties vir ander kondisies is. Hierdie is alles dinge waarvan die meeste troeteldier eienaars nie bewus is nie. Jou veearts weet wel van al hierdie gevare so raadpleeg hom eerder as byvoorbeeld ‘n Facebook post. Net omdat ‘n veearts ‘n sekere middel vir iemand se dier gegee het is dit nie veilig of noodwendig behulpsaam vir jou dier se kondisie nie.

So watter medikasie kan jy wel byderhand hou vir noodgevalle?

Die antihistamien tablet Allergex (aktiewe bestandeel Rhineton) is ‘n uitstekende middel om aan te hou, veral as daar bye of baie insekte in julle tuin is. Indien jou hond met bye speel en sy gesig skielik soos ‘n ballon begin swel kan jou veearts jou vinnig die korrekte hoeveelheid aanbeveel om vir jou hond te gee volgens sy gewig. Hoe vinniger jou dier hierdie middel neem hoe beter. Jou veearts kan dan ook wenke gee waarvoor om uit te kyk en wanneer die hond wel ingebring moet word.

Daar is heelwat middels wat jy met veiligheid kan gebruik vir maagaandoenings. Dis nie abnormaal vir ‘n Yorkie om op ‘n vakansie of Sondag, wanneer die veeartspraktyk toe is, skielik ‘n loopmagie te kry nie. Geaktiveerde houtskooltablette is wonderlik vir as jou dier dalk iets geëet het wat sy maag omkrap. Protexin is ‘n fantastiese probiotika wat ook veilig is om vir siek diere te gee. Dan is elektroliete ook ‘n veilige en goedkoop middel wat geredelik beskikbaar moet wees veral as jy baie jong of ou hondjies het wat gou kan ontwater. Meng altyd die elektroliet presies volgens die instruksies sodat optimale absorbsie kan plaasvind. Dis ook raadsaam om ‘n buis by jou veearts te koop wat help om ‘n loopmaag te stop. Daar is verskillendes op die mark en dit is oor die toonbank verkrygbaar. Indien die dier egter nie na ‘n dag verbeter nie kontak eerder jou veearts.

As jou dier geneig is tot ‘n sekere kondisie kan jy gerus met jou veearts gaan praat en hoor watter medikasie veilig is om tuis aan te hou. Ek kan natuurlik nou nie al die medikasies wat veilig is hier lys nie want dan tik ek dalk volgende jaar nog.

Dan is daar nog ‘n belangrike aspek terwyl ons nou oor medikasie praat. Die wetlike aspek! Ons kry gereeld eienaars wat met ‘n leë pakkie of botteltjie opdaag en dan net gou nog ‘n paar pilletjies of salfies wil hê. Dis egter nie so eenvoudig nie! Volgens wet mag ‘n veearts nie ‘n voorskrif wat deur ‘n ander veearts voorgeskryf is vul nie – dus mag ‘n veearts nie as ‘n apteek optree nie. ‘n Veearts MOET eers persoonlik die dier ondersoek voordat medikasie voorgeskryf en uitgegee mag word. Skedule middels mag slegs deur personeel hanteer word met die nodige kwalifikasie – ‘n ontvangsdame mag byvoorbeeld nie chroniese medikasie vir diere gereed kry nie, dit moet deur ‘n verpleegster of veearts uitgetel word. Verder is daar ook limiete op watter skedule medikasie deur verpleegsters gegee mag word, sommige medikasie mag dus slegs deur die veearts hanteer word. Respekteer dus die reëls en moenie van jou veearts se personeel verwag om die wet vir jou te oortree nie.

As jy enigiets van hierdie artikel kan leer sou ek sê die heel belangrikste is dit: as jy ooit wonder, bel jou veearts! Daar is ‘n rede waarom jou veearts jare lank kliphard moes studeer.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s