Dentals: het my hond dit werklik nodig?

Vandag mag ek oor iets skryf waaroor ek nogal ‘n groot passie het. Dit klink dalk snaaks dat ek opgewonde kan raak oor vuil bekkies maar die eindresultaat maak dit elke keer weer die moeite werd. So wat is ‘n dental, wat gebeur alles en wie het dit nodig? Vir die wat vinnig gril -ek sal al die fotos eers aan die einde van die artikel plaas so die wat nie na vuil tande wil kyk nie maar steeds iets wil leer kan rustig lees.

Honde het normaalweg 42 permanente tande nadat die babatandjies gewissel het. Dit is baie tande! Ongelukkig sit hierdie tande dan ook styf teen mekaar gepak, veral in ‘n kleinrashondjie soos ‘n Yorkie of Pekingnese se bekkie. Omdat die tande so dig teen mekaar sit kan kosdeeltjies, stukkies tou of selfs hare baie maklik in die nou spasies vas sit.

Aan die einde van die dag voor jy jou eie tande borsel sal jy dalk ook ondervind dat jou tande wollerig voel. Hierdie wollerige gevoel is die begin van plaak. Net soos by mense vorm die plaak op jou hond se tande wanneer bakterieë en kosdeeltjies aan en tussen die tande vas sit. Die plaak word dan deur die minerale wat natuurlik in speeksel voorkom gemineraliseer om harde kalkulus te vorm. Kalkulus is die klipharde bruin aanpaksel wat op baie honde se tande gesien kan word. Hierdie kalkulus is baie plakkerig en kan ongelukkig nie met ‘n normale tandeborsel afgeborsel word nie.

So waarom is hierdie kalkulus so gevaarlik? Kalkulus druk onder die tandvleis in en beskadig nie net die tandvleis nie maar maak ook ‘n gaping vir bakterieë om onder die tandvleis tot in die bloedstroom te beweeg. Vanuit die bloedstroom kan die bakterieë by al die organe uitkom en dis bekend dat slegte mondhigiëne tot hart-, nier- en selfs lewerskade kan lei. Kalkulus is dus nie net die oorsaak van sogenaamde draak-asem nie maar kan jou dier se lewe verkort deur orgaanskade te veroorsaak.

Verder gebeur dit dan ook dat die tandwortel namate die kalkulus die tandvleis beskadig ontbloot word. Hierdie ontblote tandwortel is dan die perfekte omgewing vir ‘n abses of gaatjies om te vorm. Dit veroorsaak ook dat tande los en vrot word.

Soos jy kan sien is slegte mondhigiëne dus nie iets wat ligtelik opgeneem kan word nie. Die effektiefste manier om van kalkulus ontslae te raak is deur ‘n skalering wat by die veearts gedoen word. Ongelukkig lê honde nie stil en sê, “aaaaah” vir die veearts nie. Volle narkose is aan die orde van die dag om ‘n deeglike dental te doen.

‘n Deeglike dental sluit in: ‘n volledige ondersoek en rekord houding van alle tande sowel as die tandvleis, skalering om alle kalkulus van die tande te verwyder, die ekstraksie van los en vrot tande en dan die polering om die tandoppervlakte weer mooi glad te kry sodat plaak nie so maklik kan vorm nie. Indien die hond ekstraksies, tandvleisinflammasie of net baie slegte kalkulus het sal die veearts pyn sowel as antibiotika voorskryf sodat die mond kan herstel.

As jy dalk nou die woord ekstraksie gelees het en summier besluit het jou hond gaan nooit vir ‘n dental gaan nie wil ek net gou die volgende noem. Dit is vir ‘n hond uiters pynlik om te probeer eet terwyl sy tande rondbeweeg of senuweepunte geprikkel word wat pyn veroorsaak. Ek kan nie eers sê hoeveel keer ek nou al fantastiese terugvoer gekry het ‘n dag na ‘n dental prosedure waar tande getrek is nie. Mens sou verwag dat die hond se bek nog sensitief sou wees so direk na die ekstraksies (en soms praat ek van 15+ tande wat getrek word) maar die antwoord wat ek meeste kry is, “my hond het jare laas so goed en gulsig geëet soos wat hy vandag eet!”. Een eienaar het selfs gesê dat sy hond die dag na sy tandekstraksie (hy het ‘n abses gehad) weer soos ‘n jong hondjie in die tuin bokspring. Dit laat my besef dat die pyn van getrekte tande nie eers naastenby vergelyk met die pyn wat die hond ervaar wat los en vrot tande in sy bek het nie. Dink maar hoe ‘n klein gaatjie in jou eie tand jou dag of nagrus kan versuur. Om nie eers te praat van hoe aaklig jou kos moet proe as jou bek permanent vol vrot tande is nie.

So hoe weet jy of jou hond ‘n dental benodig?

  • Jou hond se mond bloei vinnig as hy eet of speel
  • Jou hond se stink asem sou ‘n draak laat skaam kry
  • Jou hondjie het na ‘n jaar steeds melktande
  • Jy kan die dik bruin aanpaksel op sy tande sien
  • Hy het gereeld ‘n omgekrapte maag – agv die tandbakterië wat ingesluk word
  • Hy wil skielik net sagte kos eet
  • Hy wil nie meer met toue, balle of kouspeelgoed speel nie
  • Jou veearts het dit by die jaarlikse enting voorgestel

As jou hondjie van die tekens hierbo het is dit dalk tyd vir ‘n dental. In die meeste gevalle gaan dentals ‘n jaarlikse behandeling wees om periodontitis (dis ‘n onomkeerbare siekte) te voorkom. So as jy ‘n kleinrashondjie het is dit beslis iets waarmee jy rekening moet hou en jaarliks by jou begroting moet inwerk. Ek sê natuurlik nie dat groter honde nie ook slegte tande kan hê nie maar meeste hondjies wat sukkel is wel kleinrashonde. Genetika speel ook ‘n groot rol in slegte mondhigiëne so ongelukkig sal daar altyd honde wees wat dentals nodig het al is hulle op die beste kos, word hulle tande gereeld geborsel en kou hulle gereeld spesiale bederfies wat help om die tande skoon te hou.

Ons honde leef weens verbeterde kos en mediese behandeling deesdae baie langer as wat hulle vroeër geleef het. Dit is daarom uiters noodsaaklik dat ons nie van hulle tande vergeet totdat dit te laat is nie. Hoe ouer hulle word, hoe slegter word die tandprobleme en hoe gevaarliker raak narkose. Tree eerder vroegtydig op en moenie toelaat dat jou hond op 12 jarige ouderdom skielik die helfte van sy tande moet verloor weens nalatigheid nie.

FOTOS VOLG NOU – die slegste fotos kom laaste maar ek sit nie woeste vrot bekkies op nie.

Omdat die eienaar die hondjie vroeg gebring het is die tandvleis nog gesond
na die dental – kyk net die pragtige “colgate smile”!
Hierdie hondjie het vroegtydig vir ‘n dental gekom so daar is geen permanente skade nie
Let op die inflammasie (rooi) van die tandvleis wat deur die kalkulus veroorsaak is
Sien hoe die kalkulus ‘n rooi lyntjie op die tandvleis vorm waar dit druk om onder die tandvleis in te beweeg
Hier is ‘n melktandjie wat nooit gewissel het nie. Let op die etter wat nou rondom die tandwortel uitkom.
Hierdie hond het duidelik periodontale siekte

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s