Die gids tot Gidshonde

Ons weet almal dat gidshonde gebruik word om blinde mense te help, maar daar is beslis ‘n paar interessante vrae wat opduik as ek aan gidshonde dink. Hoe word hulle geleer, hoe lank vat dit, wat kos dit ensovoorts….

Die webtuiste guidedog.org.za beantwoord al my vrae en meer. Ek deel graag die belangrikste inligting wat ek wysgeraak het.

In Suid-Afrika is die gewildste rasse wat gebruik word Labrador Retrievers, Golden Retrievers en German Shepherds sowel as kruisings tussen Labrador en Golden Retrievers. Die honde word self deur die Gidshond organisasie in Suid-Afrika onder streng kondisies geteel.

Jong hondjies word op die ouderdom van 7 weke uitgeplaas na goedgekeurde huise waar hulle tot op die ouderdom van 16-18 maande bly. Dit is dan die gesin se verantwoordelikheid om die jonghondjie aan soveel as moontlik verskillende situasies bloot te stel soos veeartsbesoeke, parke, winkels, lughawens ens. DIe hondjie moet gemaklik wees met mense van alle ouderdomme, rasse en geaardhede. Dan moet die hondjie ook gewoond raak aan verskeie troeteldiere sowel as verskeie vervoermiddels. Dit is dus ‘n groot verantwoordelikheid om so jong gidshondjie in jou huis te neem.

Sodra die hondjies 10 weke oud is begin hulle opleiding by die opleidingskool. Vir die eerste 21 weke moet die hondjies weekliks geneem word waarna dit maandeliks word. Hier word die hondjies met ander gidshondjies gesosialiseer en basiese maniere geleer. Gidshondjies moet ook geleer word dat hulle, sodra hulle die werkersharnas aan het, hulle slegs op bevel mag piepie en mis.

As die hondjie dan die ouderdom van ‘n jaar of om en by 16maande bereik, is hy gereed om permanent by die opleidingssentrum te bly vir intensiewe opleiding met ‘n professionele gidshondopleier. Hierdie opleiding duur dan totdat hy op omtrent 2-jarige ouderdom gereed is vir sy nuwe eienaar. Hier is ‘n paar van die dinge wat hulle geleer word :

  • Basiese opleiding (sit, lê, staan, wag en kom)
  • Hoe om op te tree sodra die harnas aan is
  • Die korrekte posisie om te lei – effens vooruit en parallel aan die hanteerder
  • Om in ‘n reguit lyn te stap en alle obstruksies te vermy
  • Om hoogte obstruksies te vermy byvoorbeeld padtekens en lae takke
  • Hoe om op bevel links, regs en om te draai
  • Om trappe aan te dui, ook of die trappe op of af gaan
  • Om alle afleidings te ignoreer
  • Om sekere landmerke soos ‘n deur, ‘n sypaadjie, ‘n roltrap ensovoorts te vind
  • Hoe om ‘n veilige roete te vind as daar nie ‘n pad is nie
  • Hoe om roltrappe en hysbakke te gebruik
  • Verkeersoefeninge sodat die hond self ook padveilig is
  • Om ten alle tye op ‘n aanvaarbare manier in die publiek op te tree

Soos julle seker uit die lys hierbo kan aflei het gidshonde baie belangrike werk terwyl hulle in harnas is. Hulle is in sekere gevalle letterlik verantwoordelik vir hul eienaar se veiligheid. Vir hierdie rede is dit noodsaaklik dat hierdie honde NOOIT gesteur word terwyl hulle werk nie. Ongelukkig wil diereliefhebbers instinktief aan gidshonde vat of ‘n bederfie aanbied. Maar dit is nooit ‘n goeie idee sonder die eienaar se toestemming nie. Die eienaar het dalk net ‘n bevel gegee voor iemand skielik sy hond begin vryf. Sodoende vergeet die hond dan waarmee hy besig is en word die kosbare kommunikasieband momenteel verloor. Dit is dus nie dat gidshonde geen liefde mag kry nie maar moet hulle asseblief nie pla as hulle gekonsentreerd besig is om te werk nie. Indien jy ‘n gidshond sien wat rustig langs sy eienaar sit (maw die eienaar is nie haastig êrens heen nie) kan jy altyd die eienaar vra of jy aan sy/haar hond mag vat, maar respekteer ook die eienaar se privaatheid. Daar is eienaars wat graag as hulle nie haastig is nie oor hulle gidshond sal gesels, maar daar is natuurlik ook diegene wat eerder net met rus gelaat wil word.

Natuurlik is nie alle honde gepas om gidshonde te word nie en is daar soms honde wat nie aan die hoë standaard van opleiding voldoen nie. Hierdie honde word dan beskikbaar gestel vir aanneming. Die gesin wat die hondjie vanaf 7 weke groot gemaak het, het altyd eerste opsie. Indien hierdie gesin nie die hondjie permanent kan aanneem nie kan mense van die publiek by die organisasie aansoek doen om so hondjie aan te neem.

Om ‘n jong hondjie te teel, versorg en sorgvuldig op te lei kos ongelukkig ‘n astronomiese bedrag geld en die South African Guide-Dogs of South Africa is afhanklik van skenkings en fondsinsamelingaksies om aan die gang te bly. Ongelooflik vra hulle slegs R205 vir die nuwe blinde eienaar vir ‘n gidshond. Hulle doel is om soveel as moontlik blindes met ‘n gidshond te voorsien solank die nuwe eienaar oor die finansies beskik om binne perke die hond so goed as moontlik te versorg. Daar is verskeie maniere waarop die publiek die organisasie kan ondersteun:

  • Eenmalige donasies kan direk in hulle rekening betaal word
  • Maandelikse debietorders kan gereel word
  • Daar is verskeie pakkette waarvolgens jy ‘n jong hondjie kan borg
  • Jy kan ‘n jong hondjie vir hulle grootmaak – jy moet wel aan hulle vereistes voldoen
  • Jy kan die  jong honde wat in opleiding is oor naweke gaan haal vir ‘n “vakansie”
  • Volg die organisasie op Facebook – hulle deel gereeld oulike fotos van die jong hondjies
  • Neem deel aan en deel ook hulle fondsinsamelingsaksies op sosiale media
  • Daar is ook verskeie items te koop op hulle webtuiste
  • Registreer ‘n MySchool kaart in hulle naam

1 thought on “Die gids tot Gidshonde”

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s