Het my honde entings nodig?

In vandag se tyd, met die internet sommer in ons broeksak en verskeie menings en artikels oor basies enige onderwerp vrylik beskikbaar, is dit soms moeilik om by die regte antwoord uit te kom. Daar word soveel gedebateer oor die gebruik en veiligheid van onder andere entings dat dit vir ‘n ouer of eienaar baie moeilik is om ‘n ingeligte besluit te neem. Meestal het beide kante goeie motiverings en ook data om hul stelling te staaf. So vandag deel ek my persoonlike ervaring en dit wat ek van entings verstaan en hoop dat dit help om jou besluit makliker te maak. Kom ons kyk na ‘n paar algemene argumente of bekommernisse en dan ook die regte manier om jou hondjie te ent.

ENTINGS IS ‘N GELD MAAK STORIE. Een van die mees frustrerendste argumente teen entings is dat veeartse dit net doen om geld te maak. So kom ek doen gou ‘n klein sommetjie gebaseer op pryse wat ek ken. Jonghondjies het drie 5-in-1 entings nodig om teen katgriep beskerm te wees. Die koste van so enting is R350 per keer so in totaal R1050 wat jy oor 9 weke betaal. Daarinteen is die behandeling van ‘n hondjie met katgriep by ons enigiets tussen R1500-R3000 waarvan ‘n R1000 deposito dadelik betaalbaar is. So as jy hierna kyk behoort veeartse wat net wil geld maak eintlik nie entings te gee nie, en moet hulle nie na elke pasiënt die skaal en tafel met duur ontsmettingsmiddels skoonmaak nie – jy sien katgriep is super aansteeklik. Natuurlik het ek die som hierbo gemaak vanuit eie ervaring en ek weet byvoorbeeld dat daar praktyke is wat of baie goedkoper of baie duurder is as die pryse hierbo. So bel gerus jou plaaslike veearts as jy eerder jou eie som wil maak.

EK IS BANG MY HOND KRY ‘N ALLERGIESE REAKSIE. Kan ‘n hond ‘n allergiese reaksie kry na ‘n enting? Ja natuurlik is dit moontlik, maar dis steeds nie ‘n rede om nie jou hond te ent nie. Dis soos om te sê dat jou hond, nadat hy deur ‘n by buite gesteek is en sy gesig soos ‘n ballon opgeswel het, nooit weer mag buitentoe gaan nie. As jy bang is dat jou hond dalk ‘n reaksie kan toon maak net seker dat jy nooit jou hond ‘n paar minute voor toemaak tyd vir ‘n enting neem nie sodat die veearts jou hond kan behandel as hy wel ‘n reaksie toon. Meeste reaksies gebeur tussen 30 en 60 minute na die enting en die wat ek al gesien het sluit in: braking, swelling van die lippe of ooglede, swelling van die hele gesig of klein ronde knoppies wat oor die lyf uitslaan. Hierdie is alles baie maklik en vinnig behandelbaar en het geen langwerkende newe-effek op die hond nie . As jou hond voorheen ‘n reaksie getoon het sal jou veearts ‘n middel saam met die enting gee om die reaksie te voorkom.

MY HOND IS TE OUD VIR ENTINGS, OF HET AL GENOEG ENTINGS ONTVANG. Die enigste manier waarop jy kan seker wees dat jou hond se immuniteit nog sterk genoeg is om hom teen gevaarlike siektes te beskerm is om titer toetse te laat doen. Bloed word getrek en dan na ‘n labaratorium gestuur om die teenliggaamtelling te meet. Ideaal sou ons dit vir elke hond kon doen voor ons ‘n enting gee omdat alle honde effens anders reageer op entings. Ons het byvoorbeeld al bloed weggestuur van 2 honde wat ewe veel Hondsdolheidentings ontvang het, maar hoewel die een hond se teenliggaamtelling baie hoog was, was die ander hond sin baie laag en moes hy weer die hondsdolheidenting ontvang. So die bloedtoetse is ‘n veilige manier om te sien of jou hond weer ‘n enting nodig het, maar om bloed te trek en hierdie toetse te laat doen vat baie lank en kos ‘n reuse bedrag. So ongelukkig is dit nog nie op hierdie stadium prakties uitvoerbaar nie en is dit veiliger om eerder te ent. As jy ‘n gesonde middeljarige hond het kan jy met jou veearts praat om die jaarlikse entings byvoorbeeld na 3 jaarliks te rek mits jy nie in ‘n hoë risikoarea woon nie. Onthou egter dat jong hondjies en ouer honde ‘n hoër risiko het wat siektes aanbetref. Distemper of hondesiekte is byvoorbeeld ‘n siekte wat ouer honde kry as hulle nie gereeld geënt is nie. Ongelukkig is daar geen effektiewe behandeling vir hondesiekte nie en is die dodetal by honde wat dit kry baie hoog.

MY HOND KOM NOOIT UIT NIE EN HET GEEN KONTAK MET ANDER HONDE NIE. Jou hond het nie direkte kontak met ander honde nodig om aansteeklike siektes te kry nie. Die virus wat katgriep veroorsaak is byvoorbeeld ‘n baie klein virus wat aan skoene, klere en hande plak en so deur mense aan honde oorgedra kan word. Jy skud byvoorbeeld iemand se hand wat ‘n siek hondjie by die huis het en verstaan dan nie hoe jou hondjie skielik siek raak nie. Verder is dit ook ‘n baie ligte virus wat graag op die wind se rug oor mure en deur heinings vlieg tot by die volgende slagoffer. So behalwe as julle absoluut geen kontak met ander mense, of ‘n glashuis waar jou hond in bly het nie is hierdie nie ‘n geldige verskoning nie.

ENTINGS WERK NIE. Persoonlik het ek nog nooit gesien dat diere wat op die regte manier geënt is die siektes kry waarteen hulle geënt is nie. Ek glo egter nie dat entings 100% effektief is in alle gevalle nie maar het gelukkig nog nie die teendeel beleef nie. So wat kan veroorsaak dat entings nie so effektief is nie? Entings wat nie op die regte temperatuur gestoor word nie werk nie meer nie- dis ‘n algemene probleem as onkudige eienaars of telers sommer self hulle diere ent. Ek kon net my kop in ongeloof skud toe ‘n kliënt eendag by ons opdaag met ‘n botteltjie entstof waarmee sy al ‘n halfuur in haar warm kar rondry want sy het die verdunningsmiddel verloor en wou net ‘n nuwe een hê – sy moes die botteltjie net daar in die asblik gooi aangesien hy niks meer werd was nie. Honde wat ‘n baie hoë wurmlading het se imuun is nie sterk genoeg om die korrekte reaksie op die enting te hê nie en moet eintlik eers ‘n week na ontwurming geënt word om ‘n sterk teenliggaam-reaksie te hê. Honde wat geënt word terwyl hulle ‘n hoë koors het – die hond se temperatuur maak die enting onaktief voordat dit die gewensde reaksie kan veroorsaak. Honde wat geënt word terwyl hulle siek is sal ook nie ‘n goeie reaksie op die enting hê nie. Meeste van die probleme word dus uitgeskakel as jou hond by ‘n veearts gespuit word wat die entings in ‘n yskas hou wat daagliks gemonitor word om die regte temperatuur te verseker en wat die hond eers deeglik ondersoek om seker te maak dat hy gesond is. Onthou ook dat die doel van ‘n enting nie is om die siekte te voorkom nie maar om die hond in staat te stel om self die siekte te oorwin met minimale simptome en ‘n hoë oorlewingssyfer!

ENTINGS GAAN MY HOND ALLERLEI KONDISIES GEE. Ja daar is mense wat beweer dat entings hul dier se artritis, jeukende vel, slegte magie of wat ook al veroorsaak. Wat ek persoonlik al hoe meer sien is dat ons sekere rasse het wat dieselfde probleme kry. Byvoorbeeld Labrador en Golden Retrievers wat artritis kry, Jack Russels en Bull Terriers wat jeukende velle het, Yorkies en Pekingnesies wat slegte magies het ensovoorts. So persoonlik dink ek eerder dat ons teling vir spesifieke rasse die genepoel so verswak dat allerlei siektes opduik. Daarmee saam weet ons ook dat dinge soos wifi, hormone in kos, mikrogolf gebruik en nog vele meer ‘n negatiewe invloed op ons sowel as ons diere het. So ek dink nie dis eerlik om sommer dadelik die vinger na entings te wys sodra iets fout gaan met ons diere nie. Sover ek kan vind is daar geen wetenskaplike bewys dat entings ons diere verswak nie. Daar is wel wetenskaplike bewyse wat wys dat entings jou dier teen lewensbedreigende siektes beskerm. So vir my maak dit sin om eerder te ent.

AS JY ENT, DOEN DIT REG! As jy graag jou hondjie wil ent is dit uiters belangrik om dit volgens die regte intervalle te doen anders mors jy ook net jou geld en tyd. Jong hondjies kry op die ouderdom van 6 weke – dit is wanneer die ma se teenliggaampies nie meer ‘n invloed op die hondjie het nie- die eerste enting. Dan MOET hierdie enting tussen 3 en 4 weke herhaal word. Vanaf 3 tot 4 weke is die hondjie se teenliggaampie-telling op sy hoogste en dis juis wanneer die enting herhaal word om die teenliggaampies weereens te verhoog. Indien jy langer as die 4 weke wag is die volgende enting nie so effektief nie. Die 2de enting moet dan ook weer tussen 3 en 4 weke herhaal word sodat jou hondjie se teenliggaampie-telling hoog genoeg is om immuniteit teen die virusse waarteen hy geënt word te hê.

Die blou lyn dui ‘n hondjie aan wat korrek geënt is. Die oranje lyn dui ‘n hondjie aan wat slegs een enting ontvang het. Die grys lyn wys hoeveel teenliggaampies nodig is vir immuniteit teen ‘n siekte.

Ek het ‘n keer iets gehoor wat nogal by my aanklank gevind het: ons lewe in ‘n tyd waarin entings so goed werk dat ons begin bevraagteken of dit ooit werklik nodig is… As ‘n diereverpleegster sien ek gereeld babahondjies wat die gevreesde katgriep of parvovirus het. Omdat ek weet hoe erg dit is en dat honde wat nie hulle entings ontvang het nie dit kry sal ek nooit my eie honde nie ent nie. As jy egter nog nooit beleef het hoe mislik en goor ‘n klein hondjie voel wat katgriep het en soms self in absolute pyn daarvan sterf nie voel entings dalk nie vir jou so belangrik nie.

1 thought on “Het my honde entings nodig?”

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s