My teef is op hitte, wat nou?

Hierdie is dalk die vraag wat ons ontvangsdames amper daagliks moet beantwoord. So kom ons kyk wat jou opsies is as jou teef NOU op hitte is.

As jy hierdie lees weet jy heel moontlik reeds dat jou teef op hitte is, maar kom ek noem net gou ‘n paar kenmerke van ‘n hitte. ‘n Teef gaan gewoonlik twee maal ‘n jaar op hitte kom en dit duur meestal so drie weke. Die teef sal eers ‘n witterige afskeiding hê voordat dit rooi word. Soms is die enigste teken wat die eienaar sal sien dat die teef haar vulva heeltyd lek en skoonmaak. Die vulva kan dan ook baie geswolle raak. Party tewe raak baie hormonaal en sal sommer na ander honde hap wat hulle gewoonlik nie doen nie. Dit gebeur egter ook dat die enigste teken wat jy sien is dat die reun skielik vreeslik in haar begin belangstel of haar dek.

So jou teef is op hitte. Wat nou?

WAG TOT DIE HITTE VERBY IS. Een opsie is om bloot te wag totdat die hitte verby is. As daar nie ongekastreerde reuns naby is nie, is hierdie dalk jou maklikste opsie. As dit ‘n huishondjie is wat in jou bed slaap kan jy spesiale doeke by ‘n veearts of dierewinkel koop om morsing te voorkom. Na die hitte kan jy dan besluit of jy die hondjie gaan steriliseer of met haar volgende hitte gaan laat dek.

Daar is verskeie doeke beskikbaar vir tefies

BOEK JOU TEEF BY ‘N HONDEHOTEL IN. As jou teef al wat reun is op hol jaag is dit raadsaam om haar vir die lengte van die hitte by ‘n hondehotel in te boek. Enige ongekastreerde reuns in die omgewing kan negatiewe gedragsveranderings toon. Hulle kan skielik baie aggressief optree, weier om te eet en oor heinings en pallisades spring en selfs voor karre inhardloop om by die teef te probeer uitkom. So verwyder eerder jou teef uit die omgewing sodat sy in vrede die res van haar siklus deurgaan sonder dat sy heeltyd deur reuns gepla word. Die reuns sal hulself dan ook nie meer verhonger en manies optree nie.

LAAT HAAR DEK. As jou teef jou skielik met ‘n hitte verras en jy agterkom jy het net vergeet om haar sterilisasie vroegtydig te bespreek laat die reun toe om haar te dek. Dit klink dalk verkeerd maar as jy haar in elk geval wil laat steriliseer kan jy dit direk na haar hitte doen nog voordat daar tyd is vir babahondjies om te ontwikkel. Sodoende sal daar darem vrede in jou huis wees. Moet egter nie te lank wag nie want geen veearts wil ontwikkelde babahondjies van kant maak as gevolg van die eienaar se agterlosigheid nie.

Kom ons kyk nou na ‘n paar goed wat nie werk nie of gevaarlik is:

PILLETJIES OF INSPUITINGS. Ons word dikwels gevra of daar nie ‘n pilletjie of inspuiting is wat vir ‘n teef gegee kan word om haar hitte te laat verbygaan of te stop nie. Tans is daar geen veilige middel wat gebruik kan word nie. Daar was voorheen wel so pilletjie beskikbaar wat gegee word na ‘n teef gedek is maar omdat dit ‘n invloed op die normale hormonale siklus het, het dit GROOT probleme veroorsaak. Honde het verkalkte embrios gevorm, baarmoederinfeksies gekry en ander probleme ontwikkel. In kort: mens foeter nie met hormone as dit nie nodig is nie!

MOENIE JOU HOND WAT OP HITTE IS STERILISEER NIE. Ek weet daar is baie veeartse wat wel ‘n hond sal steriliseer terwyl sy op hitte is maar vir my weeg die moontlike komplikasies net te swaar om dit ooit aan te beveel. Wanneer jou teef op hitte is, is die bloedtoevoer na haar baarmoeder baie hoër as normaal. Dit beteken dan dat die operasie meer bloederig is. Gedurende ‘n sterilisasie word sekere dele afgebind om bloeding te voorkom. Ongelukkig kan dit weens die verhoogte bloedtoevoer gebeur dat hierdie steke loskom wat dan inwendige bloeding kan veroorsaak – noodlottig as dit nie dadelik reggestel word nie. Dan verdwyn die reuk wat hulle gedurende hulle hitte het ook nie dadelik saam met ‘n sterilisasie nie – dit is nie soos ‘n kraan wat jy toedraai en die water stop dadelik nie. Dit beteken dat die reuns steeds in haar belang gaan stel en jou teef wat nou net ‘n groot operasie gehad het en steke het deur die reuns seergemaak kan word. As die reun rof genoeg is kan hy selfs inwendige bloeding veroorsaak. So weereens, dis in my opinie nie die risiko van jou teef werd omdat jy nie jou hond vroeg genoeg gesteriliseer het nie!

AFWEERMIDDELS IN DIE VORM VAN ‘N SPROEI OF SALF. Daar is produkte beskikbaar wat belowe om reuns van jou teef af weg te hou as sy op hitte is. Ons hou nie eers hierdie produkte aan nie want in kort: dit werk nie! Jy gaan net jou geld mors as jy dink jy kan ‘n reunhond se reuksintuig flous. Onthou dat ‘n reun ‘n teef wat op hitte is letterlik van myle ver af kan ruik. Daar is mense wat beweer dat reuns in plekke soos die platteland tot 10km ver agter ‘n teef op hitte aan kan loop. So hulle kan die teef regtig baie ver ruik.

KASTREER DIE REUNHOND. Dit gaan ook nie dadelik help om net jou reunhond te kastreer as jou teef NOU op hitte is nie. Net soos by die teef is dit nie ‘n kraan wat toegedraai word nie. Die reun gaan steeds die teef na sy kastrasie kan dek en haar dragtig maak. Dit neem ‘n paar weke vir die reun om steriel te raak na sy kastrasie. Natuurlik bly ‘n kastrasie iets wat ons aanbeveel maar dit is ongelukkig nie ‘n kitsoplossing vir ‘n teef wat NOU op hitte is nie.

NEEM AAN DAT GROOTHONDE NIE KLEINHONDE KAN DEK NIE EN VICE VERSA. As jou teef op hitte is sal hulle ‘n plan maak om te teel. Die natuurlike instink is baie sterk! Ja daar was al Boerboele wat Jack Russels gedek het, en Yorkies wat Rottweilers gedek het. Waar daar ‘n wil is, is daar ‘n weg. Moenie die verkeerde aanname maak dat hulle weens logistieke redes nie by mekaar sal kan uitkom nie.

As jy jouself nou in hierdie dilemma bevind sal jy saamstem dat dit beter is om jou teef vroegtydig reg te maak. So doen maar die moeite en bespreek jou hond se sterilisasie voordat sy op hitte gaan. Spyt kom altyd te laat en daar is meer as genoeg ongewensde werpsels om hiervan te getuig. Wees ‘n verantwoordelike eienaar en doen die regte ding!

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s