Rond en gesond?

Is jou dier werklik gesond as hy rond is? Hier bekende spreekwoord is dalk besig om jou troeteldier van die wal af in die sloot te help. En as hy boonop so vet soos ‘n varkie is gaan jy dalk sukkel om hom weer daaruit te kry. So wat is nou eintlik die probleem met bietjie ekstra vetjies en is dit regtig so erg?

Ek hoor gereeld hoe eienaars laggenderwys sê dat hulle hond bietjie oorgewig is … nes sy eienaar! Maar ongelukkig is dit nie ‘n lagwekkende saak nie. Navorsing dui daarop dat die ekstra vetjies jou troeteldier se lewe drasties kan verkort! Hoe is dit moontlik dat die ekstra vet ons diere so ernstig kan benadeel? Kom ons kyk saam na ‘n paar voorbeelde waarop jou dier negatief deur ekstra gewig geaffekteeer word.

Pro-inflammatoriese toestand. Sodra jou dier oorgewig is plaas dit jou dier se liggaam in ‘n pro-inflammatoriese toestand. Die voorvoegsel “pro” klink dalk positief maar wat dit beteken is dat jou troeteldier se liggaam baie vinnig inflammasie kry. Inflammasie beteken dat daar : pyn, rooiheid, swelling, verlies van funksie en hitte in die liggaam is. Dit is dus nie ‘n voordelige toestand vir jou dier om in te wees nie. Die direkte implikasie, sonder om nou te ingewikkeld te raak, is dat jou dier met siektetoestande of wonde baie langer gaan vat om te genees, en meer vatbaar is om siek te word, omdat die liggaam nie optimaal funksioneer nie. Dink maar self hoeveel erger kondisies soos jeukende velle, hartkondisies, urinere probleme en hormonale probleme soos diabetes raak as die liggaam dan nog met ekstra inflammasie moet sukkel. Dit maak die prognose vir enige kondisies net soveel swakker.

Image result for overweight dog and cat

Ekstra gewig op gewrigte. ‘n Groot persentasie van ons troeteldiere sukkel met artritis, rugprobleme sowel as heupprobleme. Hierdie word direk vererger deur enige ekstra gewig wat jou troeteldier dra. Hoe meer hy weeg hoe meer stremming is daar op die gewrigte. Hoe seerder die gewrigte is, hoe minder aktief gaan jou dier wees en hoe meer gewig gaan hy optel. Dit is in werklikheid dus ‘n bose kringloop!

Anaalkliere. Hoewel ons nie net oorgewig hondjies sien wat met hulle anaalkliere sukkel nie verhoog dit beslis die kans dat jou dier met sy anaalkliere gaan sukkel. As jou hond daarmee sukkel sal jy weet dat dit ‘n baie onaangename probleem is wat selfs tot absesse kan lei as dit nie gereeld geledig word nie. Normale funksies van jou dier se liggaam word dus negatief beinvloed deur die ekstra gewig.

Narkose risiko. Meeste diere gaan een of ander tyd onder narkose geplaas moet word vir ‘n operasie of ‘n prosedure soos ‘n tand- of oorskoonmaaksessie. Vanuit ‘n verpleegster se oogpunt kan ek noem dat ‘n oorgewig dier ‘n nagmerrie onder narkose is. Eers wil hulle nie ordentlik onder narkose bly nie omdat die narkosemiddel te lekker in die vet gestoor word. Dan as jy uiteindelik na ‘n groot gespook die dier onder narkose het vat hulle weer vreeslik lank om wakker te word omdat jy so baie narkosemiddel moes gebruik. Ook sukkel meeste van hulle om ordentlik asem te haal as hulle vir die prosedure op hulle rug moet lê soos vir ‘n sterilisasie – vra maar vir enige hoogsswangervrou hoe dit voel as daar ekstra gewig op jou longe druk sodra jy plat op jou rug lê. Dis natuurlik nie slegs onder narkose wat oorgewig diere sukkel om asem te haal nie en die gesnork en geblaas kan ‘n teken wees dat jou dier ekstra vet het wat sy longe se funksie benadeel. Narkose is en sal altyd ‘n sekere mate van risiko hê maar die kans vir komplikasies raak net so vinnig hoër hoe verder die naald op die skaal verby ideale gewig klim.

Image result for overweight dog and cat

Vet is duur! As jy vir jou hond ordentlike kos voer en gereeld ontwurm en ‘n middel vir bosluise en vlooie gee sal jy weet dat dit alles aan gewig gekoppel is. As jou hondjie wat veronderstel is om 7kg te weeg 11kg weeg dan is jy besig om jou geld vir die vet te gooi. Jy voer letterlik die vet. Jou hondjie kort voedingstowwe vir 7kg maar jou hond weeg 11kg so jy gee ekstra kos wat onnodig en duur is. Jy koop die 10-20kg ontwurmingspille wat natuurlik duurder as die 5-10kg pille is. Jy betaal meer vir standaard operasies soos kastrasies en sterilisasies omdat jou dier met sy ekstra gewig nou in ‘n duurder klas val – onthou die narkose vir ‘n vet hond is mos meer. As jou hond sukkel met hartprobleme, artritis of selfs diabetes gaan dit alles meer kos omdat ons die dosis per gewig uitwerk. Jou hond gaan byvoorbeeld 2 tablette vir sy pyn per dag moet drink in plaas van die 1 tablet wat dit sou wees as hy op sy ideale gewig was.

Pankreatitis. Pankreatitis steek veral sy kop uit hier aan die einde van die jaar. Oor die kersseisoen en nuwejaar is omtrent elke 2de hondjie by die veearts vir braking en diarree – ‘n simptoom van pankreatits. Dis nie per toeval nie. Die ekstra vetterige kosse wat tydens die feesseisoen vir hondjies gevoer word is nie gesond nie! Die pankreas is nie in staat om al die ektra vet te hanteer nie en kom dan in ‘n krisistoestand. Hieruit kan ons duidelik sien dat ekstra vet nie goed is vir ons diere nie!

Related image

Jou veearts of verpleegster is dus nie besig om jou in die gesig te vat as hulle sê dat jou hond of kat oorgewig is nie. Hulle probeer net help om jou dier ‘n lang en gesonde lewe te gee. En ek weet dis moeilik om nee te sê as jou hondjie saans met aandete jou beskuldigend aankyk maar vir sy gesondheid is dit die regte ding om nie tafelkos te gee nie.

Ek sal in die volgende blog fokus op maniere waarop jy jou dier kan help om gewig te verloor en die gewig af te hou. Hier is solank ‘n interessante brokkie tot dan: ‘n hond se maag kan tot 400 maal rek. Dit beteken dat ‘n hond nie vol of versadig sal voel met ‘n groter ete nie! Die volgende blog sal verduidelik wat dit vir jou hond se gewig beteken.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s