Hoe help ek my dier om gewig te verloor.

In die vorige blog het ek ‘n paar redes genoem waarom dit so belangrik is dat ons diere nie oorgewig moet wees nie. Noudat ons bewus is van die verskeie negatiewe impakte wat dit op ons diere se gesondheid het lei dit nou tot die volgende logiese vraag: Hoe help ek my dier om gewig te verloor?

In kort is die antwoord maklik en voorspelbaar genoeg: Oefening en dieet! Daar is egter verskeie oefeninge wat gedoen kan word en jy gaan iets moet vind wat vir jou sowel as jou dier werk. Omdat nie alle honde natuurlike swemmers is, of elke oggend 10km wil gaan draf nie – die eienaar wil dalk ook nie…. moet mens soms bietjie meer kreatief wees om die regte oefenprogram uit te werk. Net so is daar honderde verskillende kosse beskikbaar wat belowe om jou dier te laat gewig verloor. So dis moeilik om die regte een te vind as jy voor die groot rak hond- en katkos staan. So laat ons nou saam na ‘n paar praktiese oefeninge kyk vir honde sowel as katte en ook gesels oor hoe om die regte kos te kies.

Kom ons begin met ‘n paar maniere om jou hond oefening te gee:

  • STAP – Dis ‘n baie maklike en goedkoop manier van oefening en hou vir die eienaar self ook baie gesondheidsvoordele in. Begin met ‘n kort stappie en bou dit dan op.
  • SWEM – As jou hond nie omgee om te swem nie is dit ‘n uiters goeie vorm van oefening. Die ekstra voordeel wat swem bied is dat dit sorg dat daar goeie smering in die gewrigte vorm omdat alle gewrigte gedurende swem beweeg – hoe meer beweging hoe meer smering! Ongelukkig is die weer nie altyd gunstig nie so dit kan nie jou dier se enigste aktiwiteit op die oefenplan wees nie.
Image result for dogs swimming
  • SPEELDING – Vind ‘n speelding waaroor jou hond gaande is en maak ‘n punt daarvan om elke oggend en aand lekker aktief met die speelding te speel. Kleinrashondjies vind oor die algemeen ‘n speelding met ‘n “squeak” in onweerstaanbaar. Verder is ‘n leë 2L bottel met klippies in ook ‘n lekker goedkoop en raserige speelding wat baie vermaak en oefening verskaf. Dis natuurlik die maklikste as jou hond “bal-mal” is want dan hardloop hy homself sommer vinnig moeg agter die bal aan.
  • SPEELDING WAT KOS LAAT UITVAL – Daar is verskeie interaktiewe produkte op die mark waar jou hondjie aktief met die produk moet speel voor die kos begin uitval. Maak net seker dat die opening groot genoeg is dat jou hond se kos daar kan uitval. So neem dit jou hond langer om sy kos te eet wat hom gaan laat voel dat hy meer kos gekry het as wat hy in ‘n minuut uit sy kosbak uit kan opslurp.
  • HINDERNISBAAN – Dit verg net ‘n bietjie kreatiwiteit om ‘n hindernisbaan met klein spronge, tonnels, stoele om deur te vleg, bokse om deur te kruip en ‘n balk om oor te loop te bou. Dit is veral vir kinders lekker om met honde op hindernisbane te speel! Nooi dalk die raserige buurkinders om jou honde en hulleself te kom moegspeel. Dan is dit sommer twee vlieë met een klap.
Image result for diy dog obstacle course with kids
Kinders help graag met hierdie oefeninge

Katte is dalk meer van ‘n uitdaging om aan die beweeg te kry maar dit is beslis ook moontlik!

  • LASERLIGGIE – Daar is min katte wat dit kan weerstaan om daardie rooi kolletjie wat teen die muur rondbeweeg uit te los. Hierdie speletjie is veral lekker vir as die eienaar aan die einde van die dag net op die bank wil lê en die katte wil moegmaak sonder moeite.
Image result for cat laser light
  • SPEELGOED – Kry speelgoed met vere, klokkies, klein balletjies, piepgeluidjies en wat lig genoeg is om rondgeslaan te word. Selfs ‘n balletjie van papier of ‘n leë toiletrolletjie kan katte ure besig hou as hulle dit op die vloer rondjaag. Katte kies meestal self hulle speelgoed so kry goedkoop speelgoed om te bepaal wat jou kieter opgewonde maak.
  • BOKSE – So vreemd as wat dit klink is leë bokse ‘n fantastiese manier om jou kat besig te hou. Verskaf ‘n paar bokse waar jou kat dan sal in en uitklim of self soos ‘n tonnel in kan rondloop.
  • SPEELDING WAT KOS LAAT UITVAL – Net soos vir honde is daar ‘n wye reeks speelgoed waar katkos gemaklik in pas en eers begin uitval as jou kat daarmee speel.  Met hierdie speelgoed moet jou kat eers werk voor hy kos kry. Katte hou in elk geval daarvan om voorwerpe met hul voorpote te stamp so hulle sal dit nog geniet ook.
  • STAP- Ja daar is mense wat dit regkry om met hulle katte te stap – al is dit net om die huis en in die tuin. Maak net seker die harnas sit mooi en dat jou kat nie kan ontsnap as jy wel uit die erf gaan nie.
  • VERTIKALE SPEELGROND/SLAAPPLEK – Katte is mal daaroor om ons uit die hoogte dop te hou, so as jy ‘n speelplek met verskillende vlakke kan verskaf gaan jou kat gereeld oefening kry om tot bo te vorder. Dit hoef natuurlik nie die duurste model te wees nie en jy kan selfs met bokse, planke en bietjie kreatiwiteit ‘n eie speelplek versin. As jy egter ‘n muur aan die kat wil afstaan is die pragtige idees op internet legio. Net omdat dit vir jou kat is beteken dit nie dat dit nie ‘n treffende deel van jou huis se dekor kan wees nie.
Wall shelves playgorund for cats
Kyk net hoe oulik is hierdie boekrakkies ook vir die kat bedoel.

Nou vir die meer tegniese deel van die gewigsverliesplan: DIEET! Die feit dat daar soveel verskillende reekse beskikbaar is, maak dit vir die troeteldiereienaar moeiliker om die kaf van die koring te skei. Net soos daar vir mense ongelooflik baie verskillende planne beskikbaar is met verskillende maniere waarop dit werk is dit ook so vir ons diere. So kom ons kyk na hoe jy die regte kos vir jou dier kies en hoe dit werk.

In die vorige blog het ek genoem dat ‘n hond se maag tot 400x kan rek! So hoe besef ‘n hond dan wanneer hy genoeg geëet het? ‘n Hond se honger verdwyn sodra sy glukosevlakke reg is. So as die hond se glukose bietjie laag is dan voel hy honger. Sodra hy geëet het en sy glukosevlakke weer gestyg het voel hy nie meer honger nie – dit is dus nie dieselfde as by mense nie. As mense voel ons eerste dat ons maag leeg is, hy rommel dalk al en dan weet ons dis tyd om te eet. Dis eers as hierdie leë gevoel geignoreer word wat ons begin sleg voel van lae bloeddruk en glukosevlakke. So ons moet versigtig wees om te dink dat ons diere ‘n groot bak kos nodig het om nie honger te voel nie. Diere weet egter dat eet lekker is en dat as hulle na ons kyk met hartseer ogies ons geneig is om vir hulle iets te gee om te eet. Ons word dus eintlik net mooi gemanipuleer om ons diere meer kos te gee as wat nodig is. Die beste manier om hierdie slegte gewoonte af te leer is om die dier bloot te ignoreer of sy aandag met iets anders soos ‘n speelding af te lei.

Die grootste struikelblok wat ons sien met kosse is by die kos wat as “lite”geadverteer word. Dit kan soms verwarring veroorsaak. Hierdie woord mag op enige pak verskyn solank die kalorietelling in die kos minder is as op dieselfde reeks se normale kos. Dit beteken dus dat meeste kosse wat as “lite”geklassifiseer word nie noodwendig vir gewigsverlies bedoel is nie. Hierdie kos is soms eerder bedoel vir diere wat geneig is om oorgewig te raak byvoorbeeld nadat diere gesteriliseer is, ‘n ras wat vinnig gewig optel soos Labradors, of as hulle vir een of ander rede nie meer so aktief kan wees soos gewoonlik nie. Hierdie kos kan help dat jou dier ‘n gesonde gewig handhaaf sonder om ekstra gewig op te tel. Daar is egter van die kosse wat as beide ‘n gewigsverlies en ‘n gewigshandhawing dieet gebruik kan word. Met so ‘n kos is daar gewoonlik 2 opsies op die agterkant van die pak wat aandui hoeveel jou hondjie moet eet vir gewigsverlies, en ook die hoeveelheid vir gewigshandhawing. Wat dit verder kan kompliseer is dat sommige kosse die hoeveelheid aandui volgens wat jou hondjie moet weeg, terwyl ander kosse se hoeveelheid afhang van wat jou hondjie tans weeg. As jy dus nie seker is nie of nie die instruksies mooi verstaan nie vra eerder hulp om seker te maak jy voer die regte hoeveelheid.

Meeste kosse wat bemark word as gewigsverlies kosse werk op die volgende beginsel: Verlaagde kalorieë en/of verhoogde vesel. Die idee hieragter is dat jou dier steeds ‘n volle bak kos kan geniet maar sonder om ekstra kalorieë in te neem. Dit beteken dat die eienaar nie skuldig gaan voel oor die klein hoeveelheid kos wat elke dag gegee word nie. Die nadeel van hierdie kos is egter dat die vesels nie opgeneem word nie en net as groot landmyne op jou gras gaan verskyn. Verder weet ons nou ook al dat ‘n hond se maag soveel kan rek dat hy omtrent ‘n hele sak hondekos kan verorber voordat hy vol gaan voel, so selfs na sy bak kos mag hy steeds bedel. Nietemin werk hierdie kos baie goed as jy verby die landmyne kan kyk en nie vir jou dier enige ander lekkernye gee nie. Sodra jy ekstra koekies en bederfies voer foeter dit egter die hele dieet om en mors jy net jou geld met duur dieet kos. As jy voel dat jou dier nie sonder sy daaglikse koekie kan gaan nie moet jy gaan uitwerk hoeveel kalorieë in die koekie is en dan die kos met dieselfde hoeveelheid kalorieë verminder. Hierdie tipe dieet werk die beste in ‘n gekontroleerde omgewing waar jy presies weet hoeveel kalorieë jou dier eet. Waar kinders en Oumas egter gereeld kuier (wat nogal ‘n geneigdheid het om ekstra te voer) is hierdie ‘n moeiliker dieet om te volg.

Hierdie kos kan vir gewigsverlies en/of gewigshandhawing gebruik word

Dan is daar ook nou kos met nuwer tegnologie wat baie goeie resultate gee. Dit klink dalk vreemd om kos en tegnologie in dieselfde sin te gebruik maar oorsee is daar toetse gedoen om vas te stel watter produkte ons diere se metabolisme versnel. Hierdie tegnologiese bevindings word dan gebruik om ‘n kos te formuleer wat jou dier se metabolisme versnel. Dit beteken dat al word jou dier so nou en dan ekstra bederf met koekies hy steeds die positiewe gevolge van ‘n vinnige metabolisme geniet. Hierdie is uitstekende nuus vir diegene wat nie so streng toesig kan hou oor alles wat hulle diere eet nie. Sodra jou dier dan sy gesonde doelgewig bereik kan mens na ‘n kos oorskakel wat ‘n gesonde gewig handhaaf soos een van die “lite”kosse. Die nadeel van hierdie kos is gewoonlik die koste self. Omdat daar duur tegnologie gebruik is om die kos te formuleer is hierdie ‘n duurder kos en nie alle eienaars beskik oor die nodige fondse om so kos te kan koop nie.

Hierdie metabolies-versnellende kos het ‘n 88% suksessyfer!

Ek voel dat gewigsverlies nie altyd ‘n “one size fits all” plan is nie. Daar is verskeie maniere waarop jy jou troeteldier kan help om ‘n meer gesonde gewig te bereik. Die personeel by ‘n veearts weet gelukkig wat alles beskikbaar is en hulle kan jou help om die plan te kies wat die beste by jou troeteldier en huishouding gaan pas. Meeste klinieke help graag en sonder ekstra koste om hulle pasiente by die doelgewig te kry.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s