Katgriep/Parvo: die dodelike virus wat jong hondjies se lewe eis!

brown dog on grass looking at camera
Photo by Austin Kirk on Unsplash

Dit is ongelukkig weer die tyd van die jaar om op my seepkissie te klim en te preek oor hoe belangrik jou hondjie se entings is. Dit voel of ek elke jaar minstens een keer ‘n skrywe het hieroor maar steeds is baie mense oningelig oor hierdie dodelike virus. Moenie die oningeligte eienaar wees wat jou hondjie aan katgriep verloor nie! Lees verder vir ‘n vinnige opskerping van wat jy as troeteldiereienaar moet weet.

WAT IS KATGRIEP?

Katgriep is die Afrikaanse naam vir die parvo-virus. Dit is ‘n virus wat die spysverteringstelsel aanval en die klein villi in die derms afbreek. Sonder hierdie villi kan jou hondjie nie meer voedingstowwe soos proteïene sowel as vog absorbeer nie. Sonder voedingstowwe en vog kan die liggaam nie funksioneer nie en onbehandeld is dit dan noodlottig.

WAT IS DIE SIMPTOME VAN KATGRIEP?

  • Braking
  • Diarree – dit kan bloederig wees
  • Gewigsverlies
  • Koors
  • Lomerigheid
  • Lusteloosheid
  • Geen aptyt
  • Ontwatering
  • Pynlike abdomen
short-coated black puppy
Photo by Joel J. Martínez on Unsplash

WATTER HONDE KRY DIT?

  • Jong hondjies wie se 3 primere entings nog nie op datum is nie (jonger as 3 maande)
  • Jong hondjies waarvan die teef se entings nie op datum is nie
  • Honde met ‘n verswakte immuunsisteem
  • Ouer honde wie se entings nie op datum gehou is nie

HOE BEHANDEL MENS ‘N HONDJIE MET KATGRIEP?

  • Beheer naarheid deur inspuitings – pille is oneffektief weens braking.
  • Beheer diarree.
  • Voorkom ontwatering deur middel van mondelinge  elektroliet- of binneaarse drupbehandeling.
  • Voorkom infeksies weens swak immuun  deur antibiotiese middels.
  • Voeding deur middel van ‘n neusbuis of mondelings met ‘n spesiale vloeibare kos.
  • Enige verdere simptome wat voorkom omdat die immuun reeds verswak is moet ook korrek behandel word byvoorbeeld vitamien- of elektroliet tekort ensovoorts.

MOONTLIKE KOMPLIKASIES

  • Derminstulping : wanneer die derms  soos ‘n teleskoop oor mekaar begin beweeg en vou en dan ‘n inflammasie veroorsaak – Hierdie is ‘n dodelike kondisie met ‘n baie swak prognose.
  • Orgaanskade : soms gebeur dit dat honde na hulle reeds van katgriep genees het omkom weens orgaanskade aan byvoorbeeld die hart, lewer of niere as hulle ouer is.
  • Terugslae: dis moeilik om jong hondjies rustig te hou en ons sien soms terugslae as die hondjie homself ooreis die oomblik as hy begin beter voel.
  • Sepsis: omdat die immuunsisteem reeds verswak is kan die skade aan die dermkanaal erge sepsis veroorsaak wat dan die hele bloedstroom vergiftig en noodlottig kan wees.
  • Kroniese dermprobleme: na die oorlewing van katgriep is die kans vir kroniese dermprobleme baie hoër as vir ‘n hondjie wat nie katgriep gehad het nie.

HOE BESKERM EK MY JONG HONDJIE TEEN KATGRIEP

  • Ent, ent, ent! Maak seker jou hondjie se entings is op datum en by ‘n veearts gedoen.
  • Moenie telers se advies oor entings volg as dit nie ooreenstem met wat jou veearts aanbeveel nie – bel en vra net dis baie maklik!
  • As jy slegs ‘n afskrif van ‘n entingssertifikaat of leë entbotteltjies ontvang het is dit nie ‘n versekering dat jou hondjie werklik geënt is nie.
  • Geen hond kan ten volle geënt wees teen katgriep voor die ouderdom van 3 maande nie – as iemand dit sê jok hulle!
  • Moenie jou jong hondjie by die veearts op die vloer laat rondhardloop of dat ander mense met siek diere aan jou hondjie vat nie. Katgriep is hoogs aansteeklik so hoe minder kontak jou hondjie met mens en dier het voor hy ten volle geënt is hoe beter.
  • As jy voorheen katgriep op jou erf gehad het moet jy minstens 2 jaar wag voor jy weer ‘n jong hondjie kry – die virus kan baie lank oorleef. Of neem ‘n meer volwasse hond aan wat reeds al sy entings ontvang het.
  • Die beste tyd om ‘n nuwe hondjie te kry is vroeg in die winter aangesien die katgriepvirus meer vollop is in die somer.
  • Gebruik ‘n middel soos F10 om jou ongewing mee skoon te maak voor jy ‘n nuwe hondjie kry. F10 maak die katgriepvirus dood.
tan chow-chow puppy on towel
Photo by samuel sng on Unsplash

Katgriep is werklik ‘n vieslike virus en dis krities dat jy as eienaar die nodige voorsorgmaatreëls tref om jou hondjie hierteen te beskerm. Daar is tans geen middel beskikbaar waarmee jy die katgriepvirus kan dood maak as jou hondjie klaar die virus het nie. Die enigste behandelings wat ons kan gee is simptomatiese behandeling. Basies moet die hondjie aan die lewe gehou word sodat sy eie imuunsisteem die virus kan oorwin. Goeie verpleegsorg is daarom noodsaaklik om jou hondjie die beste kans op oorlewing te gee.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s