Dinge wat jou kat wens jy geweet het

Sommer vinnig het ek op universiteit geleer dat ‘n kat nie ‘n klein hond is nie. Dit klink dalk logies maar omdat katte en honde maar die algemeenste troeteldier hier in Suid-Afrika is vergeet mens soms dat jy nie jou kat soos ‘n hond kan behandel nie. As jy ‘n unieke kat het wat meer van ‘n Brutes as ‘n Kerneels is, is jou kat wel in die minderheid. So hier volg ‘n paar algemene dinge wat meeste katte wens die mensdom van bewus was.

DIE KAT IS KONING. Baie van die dinge wat katte wil hê jy moet weet spruit uit die gedagte dat alle katte adellike bloed het. Dis nie verniet dat kat se kind mens graag uit die hoogte uit aankyk nie en daarom dat hulle so baie van bome, dakke en hoë krappale hou. Katte is te koninklik om soos honde op die grond te leef en verkies dat hulle blyplek baie horisontale vlakke het sodat hulle nie op die grond hoef rond te loop nie.

Stefaans is beslis koning van ons kliniek!

DIE WATERBAK DILEMMA. Katte verkies om orals water te drink… behalwe hulle eie waterbak. Die rede hiervoor is dat meeste waterbakke te naby aan die kosbak geplaas is, so diep dat die kat nie alles kan dophou terwyl hy drink nie en ook nie groot genoeg dat die kat kan water drink sonder dat sy snorre aan die kant raak nie. So hoe sorg jy dat jou kat genoeg water drink om algemene blaas- en nierprobleme te voorkom? Kyk dat daar genoeg breë,vlak waterbakke in die huis rondstaan – nie naby aan kos nie omdat dit katte afsit. Dan is daar ook katte wat absoluut hoi-poloi is en slegs lopende water uit ‘n kraan sal drink. Hiervoor is daar gelukkig ook al ‘n oplossing in die vorm van spesiale waterfonteinjies wat met die doel vir katte gemaak word. Anders moet jy maar net sorg dat jou kat ten minste elke oggend en aand wanneer jy tande borsel ‘n paar goeie slukke water uit jou kraan drink.

Image result for cat drinking water tap

KATTE IS SENSITIEWE SIELE – AL LYK DIT NIE ALTYD SO NIE. Vreemdeling in die huis, nuwe troeteldier, nuwe baba in die huis, nuwe beddegoed, nuwe kos basies enigiets wat nuut is kan jou kat in ‘n skoktoestand plaas. Onthou maar altyd om jou kat mooi dop te hou tydens enige verandering wat in die huislike omstandigheid plaasvind. As jou kat skieilik net wegkruip, nie meer goed eet nie, humeurig optree, op vreemde plekke urineer of dalk net nie homself is nie is dit moontlik weens spanning. Natuurlike kalmeermiddels en feromone is ‘n maklike en veilige manier om jou kat te laat ontspan. Net soos by mense is ‘n lang periode van spanning nie goed vir die gestel nie en moet dit nie geïgnoreer word nie.

Image result for pet remedy calming plug in diffuser
Vandat ons hierdie natuurlike produk gebruik voel die katte baie tuis in ons kliniek

KATTE HOU VAN AANDAG MAAR NET WANNEER EN VIR SOLANK AS WAT HULLE WIL. Hoe gereeld gebeur dit nie dat jou kat die een oomblik pur soos ‘n trekker en jou hand dan die volgende oomblik bevlieg en probeer opeet soos ‘n grotman wat jare laas vleis gehad het. Dit is weereens ‘n bewys van hoe katte ons op ons plek hou. Hulle maak jou mak en dan wanneer jy dit die minste verwag herinner hulle jou weer aan die rangorde. Kat is koning! Dit help nie om hierteen te stry nie en jy is beter af om maar net aandag aan jou kat te gee wanneer hy/sy dit van jou vereis.

Image result for free image cat bite hand

Dat katte ‘n unieke troeteldier is, is baie duidelik. Mens vergeet dalk soms van hulle omdat hulle ook heel selfstandig kan wees en nie altyd sulke aandag-vrate soos honde is nie. So doen ook jou deel om jou kat se lewe in die huis so plesierig as moontlik vir beide mens en dier te maak sodat daar vrede in die kat se koninkryk kan heers.