Katte en chroniese senuweetoestande

“Kry toktokkies waterpokkies? Raak ‘n sjongololo siek? Sou ‘n oester drome koester oor ‘n kokkerot of kriek? Kry ‘n mossie in sy nessie ook soms sooibrand en depressie? Sou ‘n tor ook mor en kla? Hier’s die antwoord en dis: JA!” Kerm en kla deur Philip de Vos

Ongelukkig het die gedig hierbo nie nog ‘n versie wat lui: “Sal ‘n kat confess hy lei aan stres?” nie. Ja diere kan werklik ook aan stres lei! Maar voor jy jou kat saamsleep na jou volgende sessie by die sielkundige kan jy eers hier lees. In die vorige blog het ek aangeraak dat katte soms baie gespanne raak en dat mens dit nie altyd raaksien nie. Chroniese stres in katte kan tot verskeie gesondheidsprobleme lei waaronder die mees algemene blaasprobleme is. Die probleem is dat katte nie opdringerig raak as hulle gespanne is nie, maar eerder die teenoorgestelde doen en gaan wegkruip. So kom ons kyk na ‘n paar tekens van ‘n gespanne kat, wat dit kan veroorsaak en hoe mens hulle kan help om meer ontspanne en dus ook gesonder te wees.

Image result for aggressive cat

Die liggaamshouding van ‘n kat wat gespanne is en bedreig voel lyk soos volg:

  • Is te bang om te beweeg, so hulle vries
  • Die lyf is kromgetrek en kan ligkens bewe
  • Die bene is gebuig
  • Stert is styf teen die lyf vasgetrek
  • Kop is laer as die lyf of selfs op die grond
  • Oë is groot en waaksaam
  • Ore lê plat teen die kop
  • Snorre is styf en na agter getrek
  • Maak brom, grom of meow geluide
  • Blaas, en kan ook baie spoeg in die mond hê
  • Urineer of defekeer
  • Kap met die voorpoot na dit wat hulle bedreig

Die lys hierbo dui op ‘n kat wat op die oomblik gespanne is. Dit is byvoorbeeld wanneer ‘n vreemde kat skielik in die werf verskyn, of wanneer die kat by die veearts moet gaan kuier. Solank die bedreiging of die situasie nie vir lank aanhou nie is dit nie ‘n probleem nie. Die kat gaan basies in die veg of vlug toestand waar sekere streshormone verskillende reaksies in die lyf teweeg bring. Sodra die bedreiging weg is of die kat weer veilig voel kan daar weer ander hormone vrygestel word om die streshormone om te keer. Die probleem kom egter wanneer die kat vir lang tye aaneen bedreig voel. As die kat nie kans kry om uit die strestoestand te kom nie het dit negatiewe gevolge vir die kat se gesondheid. Dit is dan wanneer mens vreemde gedrag, wat die volgende kan insluit, by katte begin sien:

  • Verandering in eet-, slaap-, toiletgewoontes en ook hoe gereeld hy homself skoonlek
  • Kruip weg
  • Onttrek skielik uit geselskap of wil juis nooit alleen wees nie
  • Tree aggressief op teenoor mens en dier in die huishouding
  • Skrik baie vinnig en oordrewe
  • Speel skielik nie meer nie
  • Verkies om net binne of net buite te wees ongeag die weerstoestand
  • Urineer of mis op vreemde plekke
  • Merk deur middel van urine voorwerpe in en om die huis
  • Eet vreemde goed soos komberse, wol ens
  • Krap skielik aan meubels en ander voorwerpe
  • Lek of “groom” so baie dat daar kaal kolle ontstaan soos die hare afgelek word
Image result for urine marking cat

Dis belangrik om jou kat se normale gedrag goed te ken sodat jy gou sal agterkom as jou kat se optrede nie normaal vir hom is nie. Sommige van die punte hierbo is dalk vir jou kat normaal. Jou kat verkies dalk om ‘n huiskat te wees en wil nie buite speel nie. Solank dit nie ‘n skielike verandering is nie dui dit gewoonlik nie op chroniese stres nie. As dit egter wel ‘n nuwe gedrag is wat skielik voorkom is dit dalk tyd om op te tree. Daar is verskeie maniere om jou kat te help om meer ontspanne te wees:

  • Probeer eerstens die bedreiging verwyder, byvoorbeeld as ‘n vreemde kat jou kat tuis terroriseer kan jy probeer om die kat se eienaar te kontak of as dit ‘n wilde ongekastreerde kat is, kan jy ‘n organisasie soos Bewise Sterilize kontak om te help om die kat te vang.
  • Sorg dat jou huis katvriendelik is: Verskaf genoeg water, kos en sandbakke veral as daar meer as een kat is – die formule is een per kat plus een ekstra. Sorg vir genoeg horisontale vlakke sodat jou kat genoeg lêplekkies in die lug het. Beveilig jou huis sodat jou katte nie deur ander honde of katte aangeval kan word nie.
  • Feromone: Daar is baie produkte beskikbaar wat feromone bevat. Dit kom in sproeivorm, halsbandjies en ook ‘n muurprop wat feromone vrystel voor. Feromone is ‘n chemiese middel wat diere ook natuurlik kan afskei wat hulle laat goed voel. Wanneer jy ‘n kat sien wat sy gesiggie teen ‘n muur skuur is hy besig om hierdie ”goed-voel-feromone” teen die mure te vryf. Feromone het ‘n baie kalmerende effek op katte en help hulle om tuis te voel.  
  • Natuurlike kalmeermiddels: Meeste natuurlike kalmeermiddels vir katte bevat ‘n aminosuur wat nodig is om serotonien die hormoon wat diere (en mense) gelukkig laat voel te produseer.  Serotonien het ook ‘n groot invloed op jou kat se aptyt, gemoed, liggaamstemperatuur, hart, longe en nog ander prosesse in die liggaam. Dit is dus uiters noodsaaklik vir jou kat se gesondheid. Hierdie tipe kalmeermiddels werk beter as dit vir langer periodes gebruik word sodat die serotonienvlakke vir ‘n lang periode hoog kan wees. Dit is byvoorbeeld ideaal as jy jou kat vir ‘n vakansie by ‘n kathotel gaan laat loseer sodat hy nie so beangs is nie en ook sodat hy nie ophou eet nie.
  • Voorskrifmedikasie: ‘n Veearts gaan hierdie moet voorskryf maar daar is sterker tablette en stropies beskikbaar wat ‘n groot verskil in jou kat se gesindheid en stresvlakke kan maak. Dit werk veral goed vir katte wat aggressief teenoor ander in die huishouding optree.  
  • Kattekruid en valeriaanwortel: Jy ken dalk valeriaanwortel as ‘n kalmeermiddel wat mense kalmeer en help om beter te slaap. Dit het egter ‘n ander effek op katte. Kattekruid en valeriaanwortel laat meeste katte spelerig en avontuurlustig voel. Op die manier help dit hulle dus om in ‘n vreemde omgewing te speel en ook te eet. Dit sal jou kat egter nie lomerig maak nie. As ons dit in die kliniek gebruik is die katte in die hospitaal nie so bang nie en sal hulle meer geneig wees om aandag te soek, die katsand te gebruik en ook om te eet.
Image result for pet remedy cat

So selfs vir stres is daar verskeie maniere waarop jy jou kat kan help! Nie alle voorstelle gaan noodwendig die regte oplossing vir jou kat wees nie, so speel maar ‘n bietjie rond en kyk hoe jy jou kieter weer gelukkig kan kry. Stres is werklik nie iets waarvan mens maar kan vergeet of ‘n blinde oog voor moet draai nie. Chroniese stres sal jou kat se lewe onnodig verkort en natuurlik ook versuur. Interessant genoeg kan ‘n gelukkige kat in die huis help om die huismense se serotonienvlakke te verhoog en so weer hulle eienaars help om gelukkiger en meer gesond te wees!

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s