Veeartsenykunde uit ‘n vroulike perspektief

Ek dink dat die veeartsveld oor die afgelope jare baie verander het in terme van die diens wat gelewer word en die mediese vooruitgang wat gemaak is. Daarom het ek gedink dat dit interessant is om bietjie met ‘n vroulike veearts te gesels en te hoor hoe sy dit as veearts beleef.

Image result for female veterinary png

Dokter Simone het in 2001 haar studies by Onderstepoort voltooi. In hierdie jare het Onderstepoort gepoog om die aantal vroulike veeartse te vermeerder omdat daar voorheen meestal manlike veeartse was. In haar finale jaar was die verdeling omtrent 50/50. Vandag is die verdeling egter effens anders en is daar in meeste finalejaar groepe tot 70% vroulike veeartse. Ek het vir haar ‘n paar vrae gevra en deel dit graag.

Hoe en wanneer het jy besluit om ‘n veearts te word? Dis dalk ‘n ongewone antwoord maar dit was die kampus wat my eerste aangetrek het tot hierdie studie. In graad 11 was ek nog nie seker wat ek wou studeer nie. My broer het in hierdie tyd by Onderstepoort installasiewerk gedoen en vir my vertel hoe pragtig die kampus is, en voorgestel dat ek dit oorweeg om veeartsenykunde hier te studeer. Dit het vir my toe ook lekker gelyk om hier te studeer veral toe ek sien dat die studente ook die kans kry om buite te werk met die beeste, perde en skape. Dit was soveel anders as ander universiteite waar jy net heeldag in die klas sit.

Hoe lank het jy studeer? Die tyd wat ek studeer het was dit 6 jaar om die graad te voltooi. Ek het egter eers ‘n jaar dierkunde gaan studeer terwyl ek vir keuring gewag het.

Hoe was jou eerste werkservaring? Die eerste jare was maar rof gewees. Ek het saam met ‘n ander veearts gewerk wat ook pas gekwalifiseer het. Ons het verskriklike lang ure gewerk. Tussen die twee van ons het ons die kliniek 24h/dag beman. Dit was egter fantasties om ondervinding in verskeie gevalle te kry en ook meer selfvertroue te bou. As pas gekwalifiseerde veearts het mens juis die energie en dryfkrag wat nodig is om hierdie ure te werk. Gelukkig het ek op daardie stadium ook nog nie kinders gehad nie anders sou dit onmoontlik gewees het. Na 5 jaar se werk het ek ‘n geleentheid gekry om vir 3 maande as locum in Engeland by ‘n praktyk te gaan werk. Dit was baie interessant om die verskille te sien tussen Suid-Afrika en Engeland se praktyke. In Engeland het ons byvoorbeeld baie meer ouer honde sowel as hasies en konyne behandel.

Hoekom het jy besluit om as locum te begin praktiseer? Daar was vir my baie voordele. As locum is dit moontlik om geleenthede wat oor jou pad kom soos byvoorbeeld navorswerk met pikkewyne in die Kaap, of selfs net werk op interessante plekke waar jy andersins nie kom nie te kan doen. Ek het gevoel dat ek dan nie so gebind is nie veral wat vakansie en naweke betref. As dit dan ooit nodig is om vir watter rede ookal ‘n breuk te vat dan kan ek dit doen. Natuurlik is daar egter ook nadele aan en sou ek nie aanbeveel dat ‘n veearts dadelik met locum werk begin direk na studies nie. Van die nadele is byvoorbeeld dat jy nie altyd terugvoer kry oor pasiënte wat jy behandel het nie, en dan altyd wonder of die pasiënt wel mooi genees het. Dan doen sekere klinieke dalk dinge op ‘n ander manier as wat ekself sou verkies. Daar is ook kliënte wat verwag om hulle eie veearts te sien en wat half teleurgesteld is as hulle ‘n ander veearts kry – nie dat hulle dan lelik is daaroor nie maar mens sien wel die verwagting. (‘n Locum is iemand wat tydelik in die plek van ‘n ander werk, meestal wanneer die permanente werker op byvoorbeeld verlof, siekverlof of kraamverlof is.)

Hoe balanseer jy werk, huwelik, ma-wees en jou persoonlike lewe? Dit bly maar moeilik, veral in die begin toe die tweeling baie jonk was. Dit is nie maklik om jou jong kindertjies vir lang ure by iemand anders te los nie. Die feit dat hulle nou bietjie ouer is en ook al gewoond is aan my ure maak dit wel makliker. Met die locum werk kan ek dit darem bietjie beter bestuur as wat ek sou kon doen met ‘n vaste werk. Ek probeer om so een week per maand te werk, of anders ‘n paar halfdae om omtrent ‘n week se werksure op te maak. Dit gee my dan genoeg tyd vir die tuisonderrig wat ek met my seuns doen.

Image result for balance png

Sou jy dit weer doen? Dit hang af watter dag jy my vra! Party dae as alles goed gaan en die pasiënte mooi genees en die kliente almal saamwerk dan beslis ja. Maar dan is daar altyd dae wat dit nie so goed gaan nie en jy pasiënte verloor vir wie jy lief geword het en wat ondanks jou beste sorg dit net nie maak nie. Of daar kom kliente wat net absoluut goor is en dan wonder mens waarom mens al die moeite doen. Maar dan besef ek ook dat dit juis die onvoorspelbaarheid is wat elke dag interessant maak. Ek wens egter dat ek as locum bietjie meer finansiële stabiliteit kon gehad het.

Watter raad sou jy vir aspirant veeartse gee? As dit is wat jy wil doen is daar werklik soveel geleenthede beskikbaar! Jy moet egter weet dat jy hard gaan werk. Ek wens ook ek kon die groot stres van die studies minder maak – dit is beslis nie ‘n maklike graad om te verwerf nie. Daarby is dit moeilik om ‘n gesonde balans te handhaaf tussen werk en rus. So veeartse moet dit sommer vroeg al ‘n prioriteit maak en moeite doen om die lewe ook nog te geniet!

Image result for female veterinary png

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s