Vlooi, vlooi wat soek jy in my kooi!

Die nuwejaar het ons begroet met lekker warm sonskyndae en lawende reënbuie! Ongelukkig is daar nou ‘n tipe klein gedierte wat net so baie soos ek van hierdie tipe weer hou – en dis die VLOOI! In die afgelope weke het ons soveel klagtes gehad oor honde en katte wat hulleself stukkend krap weens vlooie. Om net daaraan te dink laat my eie kopvel sommer jeuk. Die vlooi is egter ‘n lastige kalant om van ontslae te raak omdat die vlooie wat jy sien maar net die puntjie van ‘n reuse ysberg of te wel “vlooiberg” is. Kom ek verduidelik die vlooi se siklus dan verstaan jy ook waarom dit bietjie uithouvermoë verg om die geveg teen vlooi se kind te wen en waarom daar tans so reuse vlooipopulasie-ontploffing plaasvind.

Image result for flea dog cat

LEWENSSIKLUS VAN ‘N VLOOI

Die vlooi-populasie bestaan uit 4 dele: volwasse vlooie, eiers, larwes en papies. Die deel wat ons kan sien, die volwasse vlooie, maak slegs 5% uit van die totale vlooi-populasie. Die eiers maak 50%, larwes 35% en laastens die papies 10% van die populasie uit. So as jou hond krioel van die vlooie kan jy maar weet dat jy ‘n reuse geveg op hande het.

Volwasse vlooie het ‘n bloedmaaltyd nodig voordat hulle kan voortplant. ‘n Vlooi sal dus op die gewensde gasheer spring en begin bloed suig. Na sowat 8 tot 24 ure kan die vlooi ‘n maat soek om mee te paar. Dit neem dan nog ‘n dag of twee voor die vlooi haar eiers begin lê. Dis dus ‘n blitsige 3 dae voordat ‘n vlooi jou huis vol eiers kan maak en vinnige optrede is van uiterste belang. ‘n Volwasse vroulike vlooi lê omtrent 500 eiers in haar leeftyd! Hierdie eiers word op jou troeteldier se hare gelê en rol dan orals af waar jou troeteldier beweeg. Die eiers beland dus dikwels in hoë persentasies waar jou diere slaap – ek hoef seker nie te noem wat dit beteken vir diegene wie se diere snags by hulle inkruip of saam op die bank televisie kyk nie…. ‘n Interessante wanpersepsie oor volwasse vlooie is dat hulle van een dier na ‘n volgende spring. Alhoewel hulle baie bekend is vir hulle springvermoë sal ‘n vlooi nie van een gasheer na ‘n volgende spring nie. Hoekom sal hy dan nou energie wil vermors om van een dier na ‘n volgende te spring. Al wanneer dit wel gebeur dat ‘n vlooi na ‘n ander gasheer sal skuif is wanneer die vlooi byvoorbeeld afgeborsel of af gelek word en dan weer op die naaste dier hop.

Eiers is die mees algemeenste deel van die vlooi-populasie. Omdat vlooie die eiers meestal snags lê is die diere se slaapplek soos reeds genoem waar jy die meeste eiers sal vind. Elke eier is omtrent 0.5mm lank en dit kan enigiets van ‘n dag tot 6 dae neem voor die larwe uitbroei.

Larwes is 1 tot 12mm lank en kruip graag in krakies, matte, beddegoed of ander warm donker plekke weg. Larwes oorleef van vlooimis, dooie selle en ander organiese gemors. Hierdie fase duur 5-11 dae voordat die larwe homself in ‘n kokon toespin en die volgende fase betree.

Papies is die taaiste van die lot. Sy klewerige 2-3mm kokon maak dit moeilik om hom van die vloer af te was of met ‘n stofsuier op te suig. Verder kamoefleer hy ook goed omdat stof en ander gemors aan die kokon vassit. Die kokon is ook die perfekte beskermlagie teen meeste gif en wasmiddels. Die papie kan tot 350 dae rustig wag vir gunstige omstandighede voordat die volwasse vlooi sy verskyning maak. As die papie egter direk in gunstige omstandighede is neem dit slegs 2 weke voor die volwasse vlooi uitkom.

Tien vlooie kan maklik 250000 vlooie word in ‘n maand se tyd. Sodra jy volwasse vlooie sien moet jy vinnig aksie neem om ‘n vlooi-ontploffing te voorkom. Die vlooie moet nie kans kry om voort te plant nie want dan groei die populasie teen ‘n ontsettende pas.

Image result for flea pyramid

BEHANDELING

Nou kom ons by die praktiese deel. Wat is die beste manier om jou diere te behandel? In my opinie is daar tans ‘n paar produkte wat uitstekend werk en wat dit eintlik onnodig maak dat enige dier en frustreerde eienaar nog met vlooie moet sukkel. Daar is tablette, spot-ons en ook langwerkende halsbande beskikbaar van verskeie maatskappye wat regtig goed werk. Ek sou wel aanbeveel dat jy hierdie produkte by jou veearts gaan koop omdat die verkoopspersoneel die terugvoer van kliënte kry en dus weet wat werk en wat nie werk nie. Hoe meer produkte jy moet koop en probeer hoe duurder raak dit….

Soos jy hierbo uit die siklus van ‘n vlooi kan aflei gaan dit nie help om jou dier net te was nie. Hoewel ‘n vlooi-dodende sjampoe wel die vlooie op jou hond of kat gaan doodmaak het dit geen effek teen die eiers, larwes en papies nie en gaan die nuwe vlooie net weer op jou dier spring soos hulle uitbroei. Dieselfde geld vir vlooi-poeiers en vlooi-bandjies wat net die volwasse vlooie doodmaak en geen effek op die ander fases van die siklus het nie. Daarby saam gaan jy enige vlooi-behandeling minstens 3 opeenvolgende maande moet gebruik om te verseker dat jou omgewing skoon is. So eenkeer se was en poeier is nutteloos.

So jy het iets nodig wat nie net die vlooie op jou dier doodmaak nie maar wat ook ‘n effek het op die omgewing. Daar is produkte soos Activyl beskikbaar wat die volwasse vlooie op jou dier doodmaak maar wat ook effektief is vir die larwes en papies. Basies werk hierdie produkt so dat die dooie vlooi waar hulle land self gif is vir die larwes en papies. Onthou dat die larwes leef van dooie selle dus ook dooie vlooie. So produk gaan dus vinnige resultate lewer.

As die produk wat jy verkies slegs die volwasse vlooie doodmaak gaan jy ook aksie moet neem om die omgewing te behandel. As jy ‘n baie groot vlooi -lading in jou huis het sal ek dit in elk geval aanbeveel. Daar is sproeie beskikbaar waarmee jy jou huis en die diere se beddegoed kan behandel om vinniger klaar te speel met die eiers, larwes en papies. Een so sproei is Ultrum Duration Environmental spray. Verder gaan goeie higiëne wat jou vloere, matte, banke en diere se beddegoed betref ook help! Hoe vuiler jou huis is hoe makliker is dit vir die larwes en papies om te oorleef. Stofsuig is nie net effektief om van die eiers ontslae te raak nie maar sal dit ook moeiliker maak vir die larwes en papies om te oorleef. Was jou en jou diere se beddegoed gereeld teen ‘n hoë temperatuur of gooi dit vir 20min in ‘n tuimeldroër nadat dit gewas is.

Persoonlik het ek nog nie gehoor van uitstekende resultate met enige natuurlike middels nie. Ek weet daar is boererate maar soos ek sê het ek nog net gehoor: “Ons het nou al alles probeer van was met klapperolie, tot suurlemoensproei, kaneelpoeier, roosmaryn en selfs pepperment maar my diere is steeds vol vlooie.” Van die raad wat so op die internet beskikbaar is is selfs giftig veral vir jonger honde en katte so wees asseblief versigtig voor jy enigiets probeer. Sien is glo en ek gaan nie wag tot my hele huis vol vlooie is voor ek met die sterk gewere inkom om die probleem op te los nie. Dit neem regtig nie lank vir ‘n paar vlooie om jou hele huis in ‘n vlooines te verander nie so ek bly maar by dit wat ek sien en weet werk.

Image result for dangerous dr google

My 3 gunsteling produkte teen vlooie is Bravecto, Nexgard en Activyl. Al 3 hierdie produkte werk uitstekend en ek het hulle ook al persoonlik op baie diere gebruik en gesien hoe vinnig en fantasties dit werk. Jy merk dalk dat ek nie die bekende produkte ,wat Fipronil bevat, noem wat so 10 jaar terug die beste was nie. In my opinie werk hierdie produkte nie meer so goed nie en ek vermoed maar dat die vlooie al ‘n weerstand hierteen opgebou het. Ek het al katjies wat oortrek was met vlooie omtrent papnat gesproei met hierdie produkte maar die vlooie het nie doodgegaan nie. Dis vir hierdie rede dat daar nou nuwe produkte op die mark beskikbaar is. Die bogenoemde 3 produkte is nie al produkte wat werk nie maar bloot my gunstelinge en wat ek die maklikste kan aanbeveel omdat ek gesien het hoe goed dit werk.

Ek hoop dat die inligting bietjie help om jou vlooi-taxis weer in vrolike diere te verander! Ek voel dat wanneer mens die siklus verstaan dit makliker is om ‘n resep uit te werk om finaal van vlooie ontslae te raak. By vlooie is voorkoming natuurlik die heel beste en daarom behandel ek maar my eie diere heeljaar en nie net wanneer ek vlooie sien nie. Mag jou huis en diere ‘n vlooi-vrye somer beleef!

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s