‘n Terugblik op 2019

Ek kan omtrent nie glo dat dit nou ‘n jaar terug is wat ek hierdie blog begin het nie. Aan die een kant voel dit soos nou die dag maar tog voel dit ook asof ek dit maar net nog altyd gedoen het. Die blog was ‘n idee wat ek lank gehad het met die doel om artikels op google te kry wat nie die tipe advies gee wat my hare laat regop staan het nie. Ek weet self dat as ek bekommerd is oor iets ek dadelik my foon gryp en loer wat die internet oor my “kondisie” te sê het. So het dit toe gekom dat ek my eerste blog wat net ‘n vinnige bekendstelling was 30 Januarie 2019 geplaas het.

black and white dog with disguise eyeglasses
Photo by Braydon Anderson on Unsplash

Behalwe dat ek nie meer elke blok in ‘n verskillende kleur sit nie (ek wonder nou of dit was om meer profesioneel te lyk of sommer net omdat ek laks geraak het) het die artikels oor die algemeen ernstiger begin raak. Jy sien hoe kwater ek was oor goed wat gebeur het hoe vinniger swiep my vingers oor die sleutelbord as ek ‘n artikel moet tik. So as iemand nonsens met hulle diere aanjaag het ek gou ‘n artikel getik om te verduidelik wat wel en wat nie gedoen moet word nie – dis nogal ‘n effektiewe manier vir my om gereeld artikels te skryf. So dalk is dit tyd vir ‘n gesellige vars artikel maar oor ou nuus!

Kom ek begin deur dankie te sê aan almal wat so getrou my artikels lees. Ek weet daar is veral familie en vriende wat dit net lees om my te ondersteun en aan te moedig en dalk regtig gril vir die dinge waaroor ek skryf. So baie dankie, en ook jammer as ek die sterkte van julle mae so nou en dan beproef! Dan is daar natuurlik ook diegene wat ek gereeld pes om my artikels te proeflees dat ek darem nie soos ‘n ongeletterde of ‘n leek voorkom nie… En laastens dankie aan diegene wat vertrou dat die raad wat ek in my artikels gee van sodoende aard is dat dit gevolg kan word – dit maak my hart die blyste! Vir die wat soos ek nou al die “baaaaaaie baaaaaie dankie” kan hoor soos wat hulle ‘n bruidegom op sy troudag verpes kan ons maar aanbeweeg.

Vir my as diereverpleegster het daar ‘n paar dinge verander in 2019. Eerstens het ons praktyk nog ‘n voltydse verpleegster bygekry wat ‘n reuse verligting was – alhoewel die aanpassing nogal groot was om skielik werk te verdeel en kop te hou van wie wat moet doen. Daarmee saam het ek meer besig geraak by sosiale media en kan werklik sien hoe groot invloed dit op ons veeartspraktyk het. My blog is natuurlik ‘n groot deel hiervan. Dan het ek ook aan die einde van die jaar saam met Dexter (my liewe Labrador) begin om kleuterskole te besoek – ons was al by 2, maar hoop om as daar tyd is die jaar meer te doen! Ek dink die vreugde op die kindergesiggies en Dexter se absolute liefde en geduld met die kinders was beslis een van my hoogtepunte! As ons die kinders reeds kan leer hoe om ordentlik na hulle troeteldiere te kyk glo ek sal dit ‘n reuse verskil maak in hoe volwassenes hulle diere behandel.

Photo by FLOUFFY on Unsplash

Dan het ek ook bietjie persoonlike nuus wat moontlik ‘n invloed op my plasings die volgende 4 maande gaan hê. As alles goed gaan word ons gesin binne die volgende weke met nog ‘n dogtertjie geseën! Natuurlik wil ek dan sommer nog meer skryf as normaal maar ek dink dis dalk bietjie naief om te glo dat ek meer tyd beskikbaar gaan hê as gewoonlik. So as daar meer artikels is weet julle dit gaan goed, maar as die artikels skielik skaars word verstaan dan maar dat die mamma bietjie besig en/of moeg is….

Ek deel graag ‘n paar snaakse sêgoed of advies wat ek die afgelope jaar (2019) gehoor het om die blog mee af te sluit: Oor sterilisasie: “Ja ek wil beslis my hond se water en ligte laat afsit” ‘n Jong dogtertjie se kreatiewe nuutskepping: Mamma gaan ons nou na die vlooi-arts?” Snaakste google search na my blog: “kan ek drugs gebruik voor ek tandarts toe gaan” Slegste advies op Facebook: “gee vir jou hond bietjie van ‘n gesonde hond se piepie” ?!? Nog Facebook humor: “het iemand pappies te koop of weg gee asb” en as antwoord “Ek het ‘n halwe pak weetbix as jy wil hê?”

So kom ons maak ons nuwejaarsvoorneme vir ons troeteldiere in 2020: om alle entings, sterilisasies, kastrasies, vlooi-behandelings en dentals te doen soos nodig, geen medikasie vir my diere te gee sonder ‘n veearts se goedkeuring nie en net ons diere met soveel as moontlik liefde (nie tafelkos of bene nie!!!) te bederf!

tabby cat touching person's palm
Photo by Jonas Vincent on Unsplash

1 thought on “‘n Terugblik op 2019”

  1. Ek wens jou met Dexter en jou 2 dogertjies een bàie mooi 2020 toe, en dat jy mag blom in jou werk wat jy so geniet. Ek geniet jou blog terdeë, dis baie leersaam en niemand kan dit beter beskryf dan jy nie…ek lag ook te lekker oor jou opsommings van die lewe met mense en troeldiere …
    Hou so aan Marissa!!!!

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s