Bosluiskoors en bosluisbytkoors

Bosluiskoors en bosluisbytkoors is, soos die naam beskryf, ‘n siekte wat deur bosluise aan ons diere oorgedra word. Die goeie nuus is dat daar nie nog ‘n derde BORSluiskoors (soos dit verkeerdelik gespel word) ook bestaan wat ons sensitiewe areas teiken nie. Die naam galkoors word ook, veral deur boere, gebruik.

Vir meeste mense wat op plase of plotte bly is dit ‘n baie bekende kondisie. As jy egter nie so vertroud met die simptome en behandeling is nie, lees gerus voort!

man petting brown dog
Photo by Colton Kresser on Unsplash

BOSLUISKOORS TEENOOR BOSLUISBYTKOORS

Die eerste verskil tussen bosluis- en bosluisbytkoors is dat dit deur verskillende tipe bosluise aan honde oorgedra word. Die bosluis is nie self die probleem nie maar dra ‘n parasiet oor wat die siekte veroorsaak.

Bosluiskoors of babesiose word deur klein rooi bosluise oorgedra terwyl die bosluisbytkoors of ehrlichiose deur die groter geel bosluise oorgedra word.

Verder vind mens die parasiete van bosluiskoors in die hond se rooibloedselle terwyl bosluisbytkoors se parasiete in die witbloedselle voorkom.

Die simptome van bosluiskoors is maklik uitkenbaar omdat jou hond van die een dag tot die volgende dodelik siek word. Bosluisbytkoors is moeiliker om te diagnoseer omdat jou hond oor ‘n lang periode elke dag bietjie swakker raak en nie noodwendig al die simptome het nie.

SIMPTOME VAN BOSLUISKOORS

  • Lusteloosheid
  • Anoreksie – wil glad nie eet nie of het ‘n baie swak aptyt
  • Koors
  • Tandvleis en oogvliese is baie bleek of selfs geel
  • Vinnige asemhaling
  • Bloederige urine
  • Vergrote limfknope
  • Vergrote milt – ‘n veearts kan dit tydens ‘n ondersoek voel
Image result for babesiosis blood smear
Let op die klein parasiet duidelik sigbaar in die rooibloedsel
Foto vanaf capcvet.org

SIMPTOME VAN BOSLUISBYTKOORS

  • Gewigsverlies
  • Nie so aktief soos tevore nie
  • Seer gewrigte
  • Tandvleis en oogvliese wat met tyd al hoe bleker of geler word
  • Geswolle limfknope
  • Vergrote milt
  • Koors kan ook later voorkom
  • Sommige honde toon geen simptome nie – hulle is dus asimptomaties

BEHANDELING

Bosluiskoors: ‘n Veearts sal, nadat hy met ‘n bloedsmeer die diagnose bevestig het, jou hond met ‘n middel inspuit wat die parasiet in die rooibloedsel doodmaak of wat die parasiet se vermoë om voort te plant inhibeer. Die behandeling hang van die parasietlading wat op ‘n bloedsmeer gesien word af.

Indien daar ‘n baie hoë lading parasiete is, kan die middel wat dadelik alle parasiete dood, veroorsaak dat die hond te vinnig te veel rooibloedselle verloor (die rooibloedselle bars as die parasiete daarbinne doodgaan). Dit kan dodelik vir die hond wees, omdat hy in skok kan gaan weens bloedarmoede. Dit is dus gevaarlik om sommer by ‘n kooperasie self ‘n middel te koop en vir jou hond te spuit sonder dat jy weet hoe groot die parasietlading is.

Aangesien die behandeling vir bosluiskoors jou hond baie naar kan maak, is dit ook goed as die veearts ‘n middel gee om naarheid te voorkom of te behandel. Dis noodsaaklik dat die siek hond so gou as moontlik weer begin eet, om sy krag op te bou.

Jou veearts sal ook bietjie bloed trek en ‘n toets doen om te bepaal watter persentasie rooibloedselle jou hond het. As die persentasie te laag is sal jou hond ‘n bloedoortapping moet kry.

Dan kan daar ook met die bloed getoets word om te verseker dat jou hond se imuunstelsel nie homself aanval nie – dit is meer algemeen as jou hond meer as een keer bosluiskoors gekry het. Indien dit wel die geval is sal die veearts dit met kortisoon behandel.

‘n Binne-aarse drup wat met vitamienes en glukose aangevul is, is ook baie voordelig vir honde wat reeds baie verswak is. As die hond nie opgeneem word nie kan die veearts ook die vitamienes inspuit en spesiale aanvullings en kos aanbeveel.

Die koste van behandeling hang dus baie af van hoe siek jou hond is. Hoe vinniger hulle behandel word, hoe goedkoper is dit. Dis meestal die honde wat al ‘n paar dae siek is wat bloedoortappings en drastiese behandeling nodig het, so moet liewer nie te lank wag om by jou veearts uit te kom as jy bosluiskoors vermoed nie.

Meeste honde reageer gelukkig goed op die behandeling, maar ongelukkig is daar sekere komplikasies soos serebrale babesia of selfs lewerskade wat die prognose kan verswak. Die beste is maar om so gou as moontlik behandeling te kry.

short-coat brown dog lying on blue and white striped bedspread
Photo by Ryan Stone on Unsplash

Bosluisbytkoors: Indien ‘n veearts die diagnose met ‘n bloedsmeer kan bevestig, of selfs as hy baie sterk vermoed dat jou hond bosluisbytkoors het, is die behandeling ‘n lang kursus antibiotika. Dit is dus glad nie dieselfde as vir bosluiskoors nie! Dan kan die veearts ook alle verdere simptome behandel, afhangende van hoe ernstig dit is.

‘n Aptytwekker saam met goeie kwaliteit kos gaan jou hond help om vinniger beter te voel. Daar is ‘n paar kosse wat ek sal aanbeveel soos die blikkieskos van Hills of Royal Canin. Die voordeel van blikkies soos Hills se a/d en Royal Canin se Recovery is dat die kalorie-inhoud baie hoog is. Selfs ‘n paar klein happies gaan dus ‘n groot invloed hê, so dis perfek vir honde met ‘n swak aptyt.

‘n Vitamien-aanvulling is ook ‘n goeie idee om jou hond ‘n hupstoot te gee! Dit is beskikbaar in poeiers, tablette of stropies so kry maar die produk wat jou veearts aanbeveel.

VOORKOMING

So hoe voorkom jy dat jou diere bosluiskoors of bosluisbytkoors kry? Deesdae is dit eintlik glad nie moeilik om jou diere hierteen te beskerm nie, mits jy pro-aktief optree!

Dit neem meestal meer as 24 uur, vandat die dier gebyt is, voordat die parasiet in die bloedstroom kom. Dit beteken dat solank die bosluis nie vir langer as ‘n dag op jou hond was nie, hy heel moontlik nie gaan siek word nie. So as jy ‘n bosluis op jou hond sien is dit nie noodwendig nodig om dadelik paniekerig te raak nie – Behalwe natuurlik as jy jouself doodgril vir ‘n bosluis en paniekerig is om hom af te trek.

Daar is vandag soveel uitstekende produkte wat jou diere teen bosluise kan beskerm, dat niemand ‘n verskoning het nie! Daar is tablette, “pour-on”, halsbandjies en dipmiddels beskikbaar. Die grootste ding is net om nie te vergeet om dit te gebruik nie.

Stel maar ‘n herinnering op jou selfoon of merk dit aan op die kalender sodat jy jou diere altyd betyds behandel. Daar is selfs apps op jou slimfoon beskikbaar wat jou kan herinner! Verander ook van produk sodra jy sien dat dit wat jy gebruik nie effektief is nie.

As jy jou diere gereeld vryf, borsel en was sal jy ook gou voel as daar dalk bosluise is. Trek dan die bosluise af en behandel so gou as moontlik met ‘n middel teen bosluise. Hou jou hond dan fyn dop en vat hom dadelik veearts toe as hy binne 2 weke sleg eet of skielik nie meer baie energie het nie.

As jy in die stad bly en jou diere nooit bosluise kry nie moet jy onthou om die nodige voorsorg te tref as jou diere byvoorbeeld ‘n naweek saam gaan na die plaas, of na ‘n hondehotel. Selfs die plaaslike parkie waar ander diere ook gereeld kom kan ‘n bron van bosluise wees.

Die veiligste vir jou diere is dus maar om hulle baie gereeld teen bosluise te behandel. Want in kort: as jou hond nie bosluise het nie kan hy nie bosluiskoors of bosluisbytkoors kry nie.

Die area waar jy woon speel ook ‘n groot rol. By my eerste werk het omtrent elke 3de hond wat ingeloop, of ingedra is, bosluiskoors gehad. Die area het baie plotte gehad en dit was lekker warm. Waar ek nou woon is ons uiters verbaas as daar bosluiskoorsgevalle is. Dit is meer stedelik, mense gebruik getrou middels teen bosluise en dit is nie helemaal so warm hierdie kant van die berg nie. Jy kan gerus jou veeartspraktyk bel en uitvind of die area waarin jy woon gereeld bosluiskoorsgevalle het. Dit gee jou dan ‘n idee van hoe waaksaam jy behoort te wees.

Hoewel bosluiskoors en bosluisbytkoors baie ernstig is, is dit nie nodig om dit onnodig te vrees nie. Solank jy jou deel doen om jou diere bosluisvry te hou behoort dit glad nie iets te wees wat jou diere se lewe bedreig nie.

Image result for tick prevention collection
Ondersoek gereeld jou diere vir bosluise!

Persoonlike nota: Ja ek is weer terug agter die rekenaar! Ons is einde Januarie met ‘n pragtige dogtertjie geseën en alles gaan baie goed. Sover lyk dit of die tweede kind makliker is as ‘n eerste kind – ons is seker bietjie slimmer en rustiger die keer 🙂

Laat weet asseblief as daar ‘n onderwerp is waaroor jy graag meer wil weet of iets waaroor jy dalk wonder dan kyk ek of ek daaroor kan skryf. Onthou ook dat jy kan aanteken om elke keer ‘n e-pos te ontvang as ek iets plaas. Dis veral handig as jy soos ek ook probeer om nie te veel tyd op Vleisboek te spandeer/mors nie…

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s