Maniere om jou hond besig te hou by die huis

Dis seker nie nodig om te noem hoekom ek hierdie artikel nou skryf nie. Meeste van ons is op die oomblik tuis en hoewel ons diere dit verseker geniet kan ons ongelukkig nie meer gaan stap of parkie toe gaan om hulle genoeg stimulasie te bied nie.

Hoewel fisiese oefening ‘n goeie manier is om jou hond te stimuleer moet jy nie vergeet dat breinstimulasie hom ook lekker gaan uitput nie. Nog meer so as jy die twee kan kombineer.

Daar is ‘n paar meer bekende speletjies soos om vir jou hond ‘n bal te gooi en om ‘n leë koeldrankbottel vol bederfies te maak, maar ek gaan probeer om meer interessante aktiwiteite hier te noem. Hopelik is hier ‘n paar nuwe speletjies en aktiwiteite wat jy nog nie voorheen gedoen het nie.

Siende dat ek ook nou by die huis is en bietjie tyd gehad het, het ek en Dexter ‘n paar aktiwiteite gedoen. Die video is aan die einde van die artikel.

NOTA: Baie van die aktiwiteite behels kos omdat jou hond dan beslis gaan belangstel en hulle geniet dit ook om die bederfie te eet – dit dien as motivering en beloning! Jy kan egter meeste speletjies sonder dit doen deur speelgoed te gebruik – as jou hond oorgewig is, is dit ‘n beter opsie. Onthou ook dat jy jou hond se daaglike kos moet verminder as jy deur die dag bederfies gee.

white and black American pitbull terrier bit a yellow pig toy lying on grass outdoor during daytime
Photo by Justin Veenema on Unsplash

Onder watter koppie is dit

Benodighede: 3 koppies, ‘n klein speelding of klein bederf happies

Metode: Wys vir jou hond hoe jy ‘n bederfie of klein speelding onder een koppie sit. Skommel dan die koppies en kyk of jou hond weet onder watter koppie dit is. Om dit moeiliker te maak kan jy ekstra koppies bysit soos jou hond slimmer raak daarmee. As jou hond sukkel probeer ‘n stukkie worsie of kasie wat ‘n lekker sterk reuk het gebruik om hom te help. As jou hond oorgewig is bly eerder by klein speelgoed soos ‘n balletjie en maak dan net ‘n groot ophef as hy die balletjie vind. Jou entoesiasme behoort vinnig aan te steek.

Die hangende koppies

Benodighede: ‘n Stuk tou, ‘n paar polistereen of soortgelyke koppies en ‘n paar bederfies

Metode: Maak gaatjies aan die boonste rand van die koppies sodat jy die tou daardeur kan ryg – die koppies moet regop kan hang. Maak die tou dan so vas dat die koppies horisontaal net so effens bo jou hond se kop hang. Gooi dan ‘n bederfie in elke koppie en geniet jou hond se mannewales soos hy dit probeer uitkry.

Hou ‘n danspartytjie

Benodighede: Musiek wat jou voete laat jeuk!

Metode: Sit die musiek aan en gaan mal. Hierdie is beslis een van my gunsteling aktiwiteite en is veral handig vir ‘n reënerige dag. Jy het net ‘n klein bietjie spasie en lekker musiek nodig om hierdie te geniet. Dit maak nie saak of jou hond enige “moves” het nie solank hy saam met jou opgewonde is en rond beweeg is dit volgens my ‘n wen!

woman petting Pomeranian dog
Photo by Joshua Rawson-Harris on Unsplash

Vang die visse

Benodighede: ‘n Groot bak water en ‘n appel wat jy in stukkies sny

Metode: Gooi die stukkies appel of as jy klein balletjies het wat kan dryf in die groot bak water en kyk of jou hond hulle raakgehap kry. As jou hond glad nie belangstel nie kan jy dit met klein stukkies vienna begin om hom gewoond te maak daaraan om goed uit die water te vis. Doen dit dalk buite of sit die bak op ‘n groot handdoek as jy nie jou hele vloer wil nat hê nie. Toe ek hierdie met Dexter probeer het, het hy eers omtrent die helfte van die bak water leeg gedrink… tipies Labrador.

Hindernisbaan

Benodighede: Stoele, besems en enige ander materiale wat jy kan gebruik en waarvan jy genoeg in die huis het – byvoorbeeld blikkieskos en toiletpapier 😉

Metode: Bou vir jou hond ‘n lekker hindernisbaan met spronge, goed om onderdeur te kruip, en goed om deur te vleg. Gebruik jou verbeelding en probeer die baan so eenvoudig maar prettig as moontlik maak. Jy kan dit selfs in die huis bou as jou tuin baie klein is.

dog jumping over wood plank
Photo by Tadeusz Lakota on Unsplash

Die gevulde handdoek

Benodighede: ‘n ou handdoek en ‘n paar “skatte” soos ‘n lekker bederfie of ‘n bal

Metode: Rol ‘n paar skatte styf in ‘n handdoek op en gee dit vir jou hond. Dit gaan die eerste keer dalk ‘n rukkie vat voordat jou hond die handdoek afgerol gaan kry maar hou aan bemoedig totdat hy die skatte ontdek!

photo of brown puppy laying on mat front of sotball
Photo by Isabela Kronemberger on Unsplash

Toiletpapierrol doolhof

Benodighede: ‘n Paar leë toiletrolletjies, ‘n plat boks of houer en jou hond se ontbyt of aandete – jy kan ook ander materiaal gebruik as jy nie die rolletjies het nie, wees net kreatief en kyk wat jy het.

Metode: Pak die rolletjies in die boks of houer en gooi dan jou hond se pille in die rolletjies. Jou hond gaan die rolletjies moet uitkrap, uithaal of omstamp voordat hy sy kos gaan kry. Hierdie aktiwiteit gaan ontbyt langer as die normale 5 sekondes laat duur en jou hond behoort die stimulasie te geniet.

Ek hoop jy het nou ‘n paar idees gekry en is opgewonde om van dit te gaan toets. Lewer gerus kommentaar en laat my weet wat jou hond hiervan gedink het. Dexter dink dis spreekwoordelik Kersfees! Ons het ‘n video gemaak waar Dexter al die bogenoemde aktiwiteite toets en beoordeel. Gaan kyk gerus:

2 thoughts on “Maniere om jou hond besig te hou by die huis”

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s