Pio pio piometra

Piometra of sommer in gewone terme baarmoederinfeksie is ‘n gevaarlike kondisie wat slegs vroulike diere kan ontwikkel. Dit is ‘n infeksie wat in die uterus ook genoem die baarmoeder ontstaan maar wat ook ‘n negatiewe invloed op ander organe kan hê. Ongelukkig kan dit ook dood veroorsaak.

Het jy geweet dat piometra een van die gevaarlikste en mees algemene kondisies is onder ongesteriliseerde tewe na die ouderdom van 4 jaar? Piometra is dus beslis ‘n kondisie waarvan troeteldiereienaars moet bewus wees!

white butterfly resting on cat's nose
Photo by Karina Vorozheeva on Unsplash

Maar hoe gebeur dit dat daar ‘n infeksie in die baarmoeder ontstaan? Wel by honde en katte is daar ‘n oorvloed van die hormoon progesteroon tydens ‘n sekere fase van hul normale siklus. Die probleem is dat progesteroon die dier se imuun onderdruk in die baarmoeder. Die witbloedselle wat infeksies moet keer deur bakterieë te identifiseer funksioneer nie optimaal nie. Die doel van progesteroon is juis om die baarmoeder gereed te kry sodat inplanting maklik kan plaasvind. So die hormoon wat die baarmoeder gunstig maak vir moontlike kleintjies skep ook ‘n lekker omgewing vir opportunistiese kieme!

Met elke siklus wat die dier op hitte gaan en nie dragtig word nie raak die baarmoeder net meer toeganklik vir bakterieë. Met die onderdrukte imuun vermeerder die bakterieë ongehinderd. Die gevolg is dan ‘n baarmoeder wat letterlik vol etter is. Die baarmoeder wat meestal so dun soos ‘n erdwurm of by sekere tewe soos my pinkie is begin dan soos ‘n reuse pofadder opswel. En net soos die slang kan dit dodelike gevolge hê!

Dis wel goed dat ek net noem dat dit nie naastenby so algemeen in katte as honde is nie. Katte se hormoonvlakke verhoog nie so drasties soos honde sin nie. Ek dink ek het dalk al eenkeer ‘n kat gesien daarmee en meer honde as wat ek kan onthou.

dog holding flower
Photo by Celine Sayuri Tagami on Unsplash

As jy ‘n ouer, ongesteriliseerde vroulike dier het wat skielik lusteloos, koorsig, of selfs net bietjie af lyk kan dit tekens van ‘n piometra wees. Verder kan hulle ook skielik baie dors wees en ‘n wit, bruin of pienkerige afskeiding by die vulva hê – as die afskeiding boonop verskriklik ruik maak dit die diagnose sommer baie maklik. Hierdie stink afskeiding word egter soms weens die reuk en kleur met diarree verwar. Meestal kom die simptome so week of twee na die dier op hitte was voor. ‘n Veearts kan in sekere gevalle ook met ‘n abdominale palpasie voel dat die baarmoeder soos ‘n dik wors voel.

Soos ek laasjaar egter geleer het kan die simptome ook misleidend wees. Daar was twee tewe waar die simptome slegs ‘n loopmaag en slegte aptyt was, geen koors of infeksietelling nie – dit lyk dus soos ‘n tipiese maagkwaal. So ongelukkig is dit soms moeilik om te weet of jy met ‘n piometra te doen het as die dier nie ‘n afskeiding by die vulva het nie. Dit help egter as die eienaar weet wanneer laas die teef of wyfiekat “loops” of op hitte was.

As ‘n veearts vermoed dat piometra die oorsaak van jou dier se simptome is sal ‘n ultraklank die beste manier wees om ‘n positiewe diagnose te verkry. In sekere gevalle kan ‘n veearts egter met die dier se geskiedenis, ‘n bloedsmeer en die simptome ‘n diagnose maak sonder ‘n ultraklank. In so geval kan die behandeling dadelik begin.

Die beste behandeling vir ‘n dier met piometra is chirurgiese verwydering van die uterus sowel as ‘n sterk kurses antibiotika. Omdat dit gereeld gebeur dat die toestand laat opgemerk word is addisionele behandeling soos binneaarse vloeistof in baie gevalle nodig om die dier te ondersteun. Dis meestal ook nodig dat die dier na die operasie ‘n dag of wat in die dierekliniek moet bly vir verdere behandeling of observasie. Dit is dus nie ‘n goedkoop storie nie! In my ervaring kan so operasie maklik 3x die koste van ‘n gewone sterilisasie wees – en dis net as alles glad en sonder komplikasies verloop.

Daar is soms eienaars wat weens kostes eerder net die dier op sterk antibiotika wil sit. Dit kan partykeer bietjie help, veral as die serviks oop is sodat die etter kan dreineer – dink maar aan ‘n abses wat oop is teenoor een wat nog nie gebars het nie. Ek persoonlik sou egter nie so met my dier se lewe dobbel nie. Daarby is die kans dat die dier dit weer kry of nie ten volle genees nie so groot dat ‘n chirurgie eindelik nodig gaan wees en jy dan dalk al te laat is.

Komplikasies kan natuurlik voorkom maak nie saak watter behandeling gegee word nie. Die operasie is gevaarlik omdat narkose ‘n groter risiko is vir diere wat ouer is en nie gesond is nie. Dan is daar die vrees dat die baarmoeder gedurende die operasie letterlik bars. Sonder om te grafies te word kan jy jou dalk self indink dat jy beslis nie die vieslike inhoud van ‘n baarmoeder vol infeksie in jou dier se buikholte wil hê nie. Dis die tipe komplikasie waaroor veeartse nagmerries kan kry! As ek ‘n teef met ‘n piometra gereed kry vir die operasie skeer en was ek haar so versigtig as moontlik – ek wil beslis nie die rede wees dat die baarmoeder bars nie!

Die kans vir komplikasies stop egter nie sodra die operasie voltooi is nie. Infeksies in die herstelproses is altyd moontlik en kan noodlottige gevolge hê. Dan kan dit ook gebeur dat die dier onomkeerbare orgaanskade opgedoen het weens die piometra. Die prognose van orgaanskade hang natuurlik af van watter organe beskadig is.

Ek klink dalk nou al soos ‘n doemprofeet en moet dus ook noem dat ek persoonlik by meer suksesverhale as tragedies betrokke was. En die herstel is iets fantasties om te beleef. Die teef wat net die vorige dag kop-onderstebo en amper leweloos by ons aangebring is, wil soos ‘n jong bokkie huppel en speel – sy mag natuurlik nie weens die steke, maar probeer jy dit nou vir ‘n hond verduidelik wat skielik haar tweede asem gevind het. Dan vreet sy haar bakkie kos op asof sy jare laas iets geëet het en kan die eienaars nie glo dat die veearts hierdie magiese herstel in ‘n dag kon laat geskied nie.

So hoe beskerm ek my geliefde dier teen hierdie vieslike infeksie? Die antwoord is so eenvoudig en tog is piometras so algemeen soos katte wat in die bure se erf gaan piepie. Jy steriliseer alle tewe en wyfiekatte sodra hulle 6 maande oud is! Lees gerus hier as jy wonder of jy moet steriliseer en op watter ouderdom dit die beste is : https://gedag.blog/2019/03/07/moet-ek-my-hond-steriliseer/

Tydens ‘n teef of wyfiekat se sterilisasie word die hele baarmoeder meestal verwyder. Indien dit korrek geskied kan die dier nooit ‘n piometra ontwikkel nie – dit is een van die hoofredes waarom ek altyd so daarop hammer dat alle tewe wat nie teel nie gesteriliseer moet word! As ‘n deel van die baarmoeder egter agterbly na die operasie is dit moontlik om ‘n piometra te ontwikkel, alhoewel dit uiters skaars is dat dit gebeur.

Ek sal nou ‘n paar fotos plaas van baarmoeders wat ek deur die jare geneem het. As jy maklik gril en byvoorbeeld nie na Dr Pimple Popper se materiaal kan kyk nie is nou ‘n goeie tyd om hierdie artikel te verlaat. As jy wel belangstel merk ook op hoe groot die baarmoeder is wanneer sy (ja, want wat kan dan meer vroulik as ‘n baarmoeder wees) gesond is. Soms staan ons verbaas in die teater as die dokter die reuse baarmoeder by ‘n kleinerige hondjie uithaal.

Oh en nog ‘n laaste ding. Die opskrif van hierdie artikel maak eintlik net sin as jy die liedjie Paradise van Coldplay se wysie in jou kop het terwyl jy dit lees 😉

Tyd vir fotos!

‘n Gesonde baarmoeder. Die geswolle dele is die eierstokke.
Die pofadder!!!
Hierdie hele baarmoeder is letterlik vol etter!
Merk ook hoe blou/pers die are op die baarmoeder is.

2 thoughts on “Pio pio piometra”

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s