As bye jou hond of kat ze speelmaatzzzz word

shallow focus photography of bee on flower
Foto deur Aaron Burden op Unsplash

Die warm weer, reënerige dae, mooi blomme en vrolike voëlsang beteken ook dis tyd vir die bye om weer in ons tuine rond te zoem. Jou hond of kat vind hierdie interessante vliegertjies met ingeboude “zoemers” natuurlik baie fassinerend.

Dis daarom glad nie ongewoon dat diere deur bye gesteek word nie. Ek weet van ‘n Bokser hond wat elke jaar ‘n paar keer gesteek word omdat hy homself net nie kan keer nie. Hy hardloop en hap-hap al agter die betowerende bye aan. Dis die grootste speletjie! Maar wat maak jy as jou dier skielik soos ‘n ballon begin opswel na ‘n geniepsige steek?

By of perdebysteke kan ongelukkig gevaarlik wees. Hoewel meeste honde en katte net goed opswel en erg beteuterd lyk kan ‘n allergiese reaksie noodlottig wees. Indien jou dier een van die volgende simptome wys nadat hy rondom bye was sal ek aanbeveel jy jaag na jou naaste oop veearts vir hulp: Asemnood, swelling rondom die nek of gesig wat asemhaling moeilik maak, braking, mukusmembrane wat wit is (kyk na die tandvleis of die binnekant van die ooglid) en ook as die dier skielik lusteloos raak.

‘n Veearts kan jou dier met suurstof, kortisoon, antihistamien en ander skokbehandeling help. In uiterste gevalle is ‘n noodoperasie soms nodig omdat die lugweg helemaal toegeswel het. Dis meestal net diere wat deur ‘n swerm bye of perdebye aangeval is waar die behandeling so drasties is.

Tuisbehandeling is egter voldoende as jou dier net deur een by gesteek is en nie erge simptome soos hierbo beskryf toon nie. Hier is wat jy kan doen om jou dier te help:

Kyk eers of jy die angel kan sien sodat jy dit kan verwyder. Dis soms moeilik om te sien veral as dit ‘n baie wollerige dier is. Die mees algemene plek vir bysteke is op die pote, gesig of tong. Die angel het ‘n weerhakie soos ‘n visvanghoek en dis die beste as jy dit met iets soos ‘n stomp smeermes uitvryf. Met ‘n tangetjie loop jy die risiko om die gifsakkie te druk en so meer van die gif in jou dier te laat kom.

As jy Allergex in die huis het kan jy dit vir jou dier gee. Bel gerus jou veearts om te hoor watter dosis vir jou hond of kat reg is. Onthou net dat Allergex jou dier baie lomerig kan maak so moenie skrik as hulle skielik pap lyk nadat jy dit gegee het nie.

Koue water of ‘n yspak op die area sal verligting bring en ook help vir die swelling. As jou dier ‘n uur nadat hy gesteek is nie tekens van asemnood of braking toon nie behoort hy nie te vererger nie, maar hou nogsteeds net mooi dop.

As jy alles gedoen het wat jy kan en jou dier darem taamlik gemaklik is en jyself oor die ergste skok is mag jy dalk die humor begin insien. Ek kan nie stry dat die gesig van ‘n hond wat deur ‘n by gesteek is werklik komies lyk nie. Onthou maar net dat dit ongelukkig nie altyd snaaks is nie. Ek was persoonlik by toe my tannie op een middag twee van haar drie kosbare Yorkies verloor het as gevolg van ‘n swerm bye wat haar hondjies aangeval het. Die bye wat woedend was nadat ‘n komposhoop naby hulle korf omgedop is, het oor die muur op die onskuldige Yorkies neergesak. ‘n Swerm bye kan ongelooflik gevaarlik vir mens en dier wees!

As jy weet dat jy sekere bome of blomme in jou tuin het wat elke jaar die bye lok is dit raadsaam om jou dier te leer om die bye te los. Die bevel “los” is in elk geval iets wat ek dink elke hond behoort te ken. Vir katte sal jy dalk maar die kat sekere tye van die dag op ‘n ander plek moet laat loop of in die huis hou totdat daar minder bye is. Kyk maar, die bye is meestal nie heeldag by die blomme nie. As daar ‘n groot swerm in jou tuin is wat amok kan veroorsaak, soek iemand in die omgewing wat die bye kan kom verwyder sodat hulle elders kan gaan woon. Moet asseblief nie die bye doodmaak nie!!! Of jy dit nou wil weet of nie: ons het bye nodig! Soos hulle in engels sê: BEE KIND.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s